Drank is te duur om jou sorge te verdrink!
Slim verbruikers sal dit egter kan regkry om te oorleef.
Hanlie Stadler - Jou kostrollie word nou die stadigste duurder in meer as vyf jaar, volgens Statistieke Suid-Afrika (SSA) se syfers.
Dit klink dalk nie na veel om oor huis toe te skryf nie, want kos en nie-alkoholiese drank is steeds duurder – om presies te wees, gemiddeld 3,4% duurder as 'n jaar gelede. Net kos – dus koffie, tee en koeldrank uitgesluit – is 3% duurder as 'n jaar gelede.
Slim verbruikers en dié wat bereid is om sekere produkte uit te sny, sal dit egter kan regkry om met meer geld in hul sak uit die winkel te stap.
In Mei was nie minder nie as vier basiese kossoorte goedkoper as 'n jaar gelede en dieselfde vier was ook goedkoper as in April. Dit is:
• Brood en graanprodukte, wat mieliemeel insluit, was 4,1% goedkoper as 'n jaar gelede en 0,8% goedkoper as 'n maand gelede;
• Olies en vette was 1,4% goedkoper as 'n jaar gelede en 0,4% goedkoper as 'n maand gelede;
• Vrugte was 6,4% goedkoper as 'n jaar gelede en 2,3% goedkoper as 'n maand gelede; en
• Suiker, lekkers en poedings was 4,3% goedkoper as 'n jaar gelede en 1,8% goedkoper as 'n maand gelede.
Die basiese kossoorte wat die afgelope jaar met die meeste gestyg het, was:
• Vleis, wat 'n hele 7,8% duurder was as 'n jaar gelede. Goeie nuus is egter dat die maandstyging net 0,2% was;
• Vis, wat 6,8% duurder was as 'n jaar gelede, maar ook van maand tot maand net 0,3% duurder geword het,
• Koeldrank, wat 5,7% duurder was as 'n jaar gelede, maar van maand tot maand net 0,2% duurder geword het;
• Koffie en tee, wat 5,4% duurder was as 'n jaar gelede en ook van maand tot maand skerp, met 0,7%, gestyg het.
Drankpryse styg steeds skerp
Kom dit egter by 'n drankie of wat, gaan verbruikers steeds al hoe dieper in hul sak moet grawe.
Bier is nou 9,3% duurder as 'n jaar gelewe, wyn 7,8% en spiritualieë soos whisky en wodka 7,5% duurder. Bier het ook sedert April skerp duurder geword, met 'n maandelikse inflasiekoers van 1,1%, terwyl wyn 0,6% duurder was en spiritualieë 0,3%.
Die styging in koeldrank- en drankpryse is steeds deels weens die hoër belastings wat in April van krag geword het, soos die suikerbelasting, BTW en aksyns. Daarby gaan die prys van bier en wyn en sekere spiritualieë nog lank die uitwerking voel van swakker druiweoeste weens die Wes-Kaapse droogte. Die veel swakker rand van die afgelope ruk gaan op sy beurt ingevoerde drank se pryse raak.
Die betreklik goeie nuus oor kospryse kom terwyl die algemene inflasiekoers tot 4,4% in Mei teruggesak het, van 4,5% in April
Wat van melk en eiers?
Die gesamentlike prys van melk, kaas en eiers het in Mei weer stadiger gestyg as in April. Die inflasiekoers vir dié kategorie beloop nou 4,4%, vergeleke met 5,3% in April.
Dit kan waarskynlik deels toegeskryf word aan die feit dat eiers eindelik ná 2017 se voëlgriepepidemie goedkoper begin word soos wat die lêhoender-bevolking weer toeneem.
Dit kan egter 'n tydelike verbetering wees gegewe dat suiwel dikwels in die winter duurder word weens 'n tekort aan melk. In die winter produseer koeie normaalweg minder melk en boere moet hulle bykomend voer om produksie te stimuleer.
Vleisprysinflasie verlangsaam
Vleisprysinflasie was in April vir die eerste keer in meer as 18 maande in enkelsyfers op 9% en het in Mei verder geval, tot 7,8%.
Dit beteken steeds vleispryse styg die vinnigste van enige kossoort, maar nie meer teen die 15,6%-jaarkoers van September 2017, die boonste draaipunt, nie. Vleisprysinflasie se verlangsaming kom danksy die goedkoper varkvleis. Die vraag na varkvleis het skerp gedaal omdat drie van Tiger Brands se Enterprise-fabrieke nog gesluit is ná die listeriose-epidemie wat meer as 200 lewens geëis het.
– Netwerk24

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie