Drankreuse wil Afrika-dors les
Die drankbedryf volg dieselfde strategie as die tabakbedryf 'n paar dekades gelede om groei en groter wins te verseker.
Karen Hofman en Charles Parry skryf in 'n artikel wat The Conversation gepubliseer het dat die blootstelling aan alkohol in Afrika-lande na verwagting oor die volgende paar jaar sal styg tesame met alkoholverwante gesondheids- en maatskaplike probleme.
Hofman is programdirekteur van Priceless SA en lid van Wits en die Mediese Navorsingsraad se Agincourt Rural Health Transitions Unit. Parry is direkteur van die Mediese Navorsingsraad se navorsingseenheid vir alkohol, tabak en ander dwelms.
'n Strategie om sterk in Afrika uit te brei, is deel van die planne van die onlangse samesmelting tussen SABMiller en Anheuser-Busch InBev (AB InBev), en die navorsers sê mededingers soos Diageo en Pernod Ricard is nie ver agter nie.
“Die alkoholbedryf is onder druk en moet nuwe bronne vir groei en wins ontwikkel. Ontwikkelde markte is reeds versadig en net 'n beperkte aantal nuwe drinkers betree jaarliks die mark weens lae bevolkingsgroei.”
Die bedryf teiken ook minder gereguleerde lae- en middelinkomstelande namate ontwikkelde lande riglyne oor alkoholgebruik hersien.
Gesondheidsrisiko's
Hofman en Parry voer aan die fokus op Afrika is slegte nuus want alkohol is 'n risikofaktor vir lewer- en hartsiektes en 'n reeks kankersoorte soos bors-, keel- en mondkanker. Alkohol speel ook 'n rol in ander gesondheidsuitdagings soos MIV/vigs, padongelukke, gesinsgeweld en geestesgesondheid.
Afrika suid van die Sahara is 'n mark wat die drankbedryf kwalik kan ignoreer om hul markaandeel uit te brei danksy 'n groot deel van die bevolking in baie lande wat nog nie alkohol gebruik nie, die groot jeugbevolking en ekonomiese groei.
Die relatief lae advertensiekoste, swak regulering en groot bierverbruik in van die markte maak dit 'n ideale omgewing vir internasionale handelsmerke.
Hofman en Parry sê die gevaar van alkohol is al goed gedokumenteer, met meer as 3,3 miljoen mense wat wêreldwyd jaarliks sterf weens die skadelike gebruik van alkohol.
Die navorsers sê die drankbedryf se nuwe fokus op lae- en middelinkomstelande stem ooreen met hoe die groot tabakmaatskappye dié markte betree het deur aggressiewe bemarkingstrategieë wat dikwels as programme vir maatskaplike verantwoordelikheid vermom is.
Laer alkoholinhoud
Drankmaatskappye het veldtogte om matige en verantwoordelike drankverbruik aan te moedig en hulle verbind hulle tot produkte met laer alkoholvlakke.
AB InBev het byvoorbeeld 'n doelwit om seker te maak geen- of laer-alkoholbier maak teen einde 2025 minstens 20% van sy internasionale biervolumes uit.
Hofman en Parry sê dit lyk straks soos 'n positiewe boodskap, maar navorsing wys dis onwaarskynlik dat die mikpunt is om normale bierprodukte met laer-alkoholprodukte te vervang. “Die doel is eerder om die totale grootte van die biermark uit te brei deur 'n wyer reeks produkte.”
Drankmaatskappye het ook goedkoop intreevlakprodukte ontwikkel om nuwe verbruikers te lok. Hulle sê die kommersieel geproduseerde produkte is veiliger as tuisgebroude bier. SABMiller het byvoorbeeld sy Chibuku Shake Shake-bier suksesvol in Zambië bemark. Dis gegrond op 'n plaaslike tradisionele sorghumbier, maar word bemark as 'n veiliger weergawe.
Invloed by regerings
Die navorsers sê nog 'n manier waarop die drankbedryf nes die tabakreuse in Afrika invloed kry, is deur vennootskappe met regerings aan te gaan om regulering en beleid te beïnvloed.
Daar is byvoorbeeld gevind die bewoording in die nasionale drankbeleid van Lesotho, Botswana, Malawi en Uganda is identies, en dit weerspieël die drankbedryf se voorkeure.
Die skrywers meen die drankbedryf se uitbreiding in Afrika sal as vooruitstrewend bemark word omdat dit nuwe werksgeleenthede skep en toegang bied tot veiliger en gesonder alkoholprodukte. Meer navorsing en aandag is volgens hulle nodig rakende die bedryf se praktyke en bestuursmeganismes om die negatiewe impak op bevolkings se gesondheid te verstaan en te verhoed.
Wat dalk nader aan die waarheid is, is volgens hulle dat dit bloot 'n “dors na nuwe markte” is, en selfs deel van 'n “herkolonisasie van Afrika”. - Netwerk24

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie