Dreyer verras met nasionale insluiting

Die uitblinker in vorige Comrades en Visrivier ultra-marathons het binne 'n kort tyd haar plek in 'n Namibiese fietsryspan oopgery.
Tielman van Lill
Tielman van Lill - 'n Span van vier mans en vier vroue is gekies om Namibiese padfietsry vanaf 10 tot 13 Oktober in Port Elizabeth by die 16de UCI Afrika-Bekertoer vir elite ryers te verteenwoordig.

Michelle Vorster, Vera Adrian, Risa Dreyer en Irene Steyn sal Namibië se vlag in die Oos-Kaap moet laat wapper, terwyl Xavier Papo, Drikus Coetzee, Gerhard Mans junior en Christo Swart die mans verteenwoordig.

Fietsryers van 20 lande kan volgende week waardevolle UCI-punte insamel om hul kwalifikasie vir die 2020 Olimpiese Spele in Tokio aan te help.

Coetzee is pas terug uit Yorkshire in Engeland waar hy aan die UCI-wêreldkampioenskap deelgeneem het. Die ondervinding wat hy daar opgedoen het, kan hom handig te pas kom in die Vriendelike Stad, Nelson Mandelabaai.

Die UCI Afrika-Bekertoer is 'n kontentinale kampioenskap waar soms meer as 20 kompetisies in verskeie lande aangebied word. Die vierdaagse toerbyeenkoms in die Oos-Kaap sal uit 'n padresies, kermesse (1.6 km-rondtes), individuele tydtoets asook 'n gemengde aflos bestaan. Vir die individuele tydtoets (ITT) in Marine-rylaan tussen Summerstrand en Schoenmakerskop is die mans se afstand 32.2 kilometer, terwyl die skoner geslag 'n ietwat makker weergawe oor 20 km sal aandurf.

Risa Dreyer is 'n gerekende ultra­drawwer, wat twee jaar gelede die 37ste vrou in die Comrades ultra-marathon se af-wedloop in sewe ure 48 minute 56 sekondes was. Dit het haar 24ste in die ouderdomsgroep jonger as 40 jaar geplaas en dit was die vierde keer dat sy die afstand van 90 km voltooi het.

In Junie vanjaar het sy die Comrades oorgeslaan ten gunste van die Windhoek Light Visrivier ultra-marathon, waar sy die 100 kilometer vrouewedloop met haar eerste probeerslag gewen het (elf ure 28 minute).

Haar insluiting as nasionale fietsryer is egter 'n verrassing vir haarself en dalk selfs vir die res van Namibië se fietsryers. Sy het wel twee naweke gelede in die Pupkewitz Tour de Windhoek oor drie dae en vier skofte gewys wat in haar steek deur algeheel tweede van die vroue te eindig.

Dreyer se tyd van 5 ure 44 minute 46 sekondes was net twee minute en 28 sekondes stadiger as die gesoute Michelle Vorster s'n wat die vrouewenner in 5:42:18 was.

Dreyer sê sy is deur die nuwe verwikkeling onkant gevang.

“Ek is vreeslik opgewonde! Maar ook 'n bietjie verras. Ek het nie gedink ek sal ooit in dieselfde span as Michelle Vorster en Vera Adrian (beide Olimpiese ryers in 2016) beland nie!

“Ek het as soloryer vir die 2019 Nedbank Desert Dash in Desember ingeskryf en dit was meer as genoeg motivering vir my om 'ernstig' te begin fietsry.

“Ek het vanjaar vir die eerste keer as 'n elite ryer vir 'n vrouespan aan die Nedbank Windhoek Pedal Power-reeks deelgeneem en boonop algeheel tweede vir die seisoen geëindig. Dus het ek vir dieselfde span vir die Tour de Windhoek gery en verrassend genoeg tweede geëindig. Ek dink dit is hoe ek vir PE gekies is.

“Namibië sal vir die eerste keer 'n vrouespan (Food Lovers Market) vir aanstaande maand se Coronation Double Century-fietstoer (202 km) in Suid-Afrika stuur. Ek is een van die twaalf vroue wat op 23 November ons beste gaan lewer.

“Die roete begin in Swellendam en kronkel deur die skilderagtige land­skappe van die Tradouw's-pas, Barrydale, Tradouw, Montagu, Kogmanskloof, Ashton, Robertson en Bonnievale waarna dit weer in Swellendam eindig.

“Met al dié kompetisies vir 2019 agter die blad, voel dit nog steeds nie vir my of ek ernstig fietsry nie!” het Dreyer beskeie aan Republikein vertel.

Drikus Coetzee, met 73 UCI-punte, word as die 47ste beste ryer in Afrika deur die UCI gereken, terwyl die topvyf posisies op die UCI-ranglys deur Darryl Impey (RSA, 1399), Youcef Reguigui (Algerië, 820), Ryan Gibbons (RSA, 812), Merhawi Kudus (Eritrea, 624) en Sirak Tesfom (Eritrea, 438) beklee word.

Namibië vaar glad nie vrot met sy agtste posisie uit 22 gerekende Afrika-lande op die UCI-ranglys nie. Suid-Afrika is met sy professionele aanslag die voorste land.

Die nuutste Afrika-ranglys vir mans: Suid-Afrika (3462.67 punte), 2 Eritrea (92523.5), 3 Algerië (91852.33), 4 Marokko (9869), 5 Rwanda (786), 6 Burkina Faso (374), 7 Ethiopië (369), 8 Namibië (301), 9 Tunisië (197), 10 Angola (89), 11 Mauritius (89), 12 Kenia (58), 13 Ivoorkus(55), 14 Kameroen (50), 15 Benin (34.99), 16 Egipte (23.01), 17 Seychelle (20), 18 Nigerië (15), 19 Demokratiese Republiek van die Kongo (20), 20 Uganda (5), 21 Zimbabwe (3), 22 Botswana (1).

- [email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer