Dörgeloh se laaste wens word rit van die dood

Die voertuig het eers in 'n sinkgat en toe diep in die see beland.
Des Erasmus
Des Erasmus -‘n Versoek om nog net een draaitjie by die see te ry, was die laaste wens van een van Omaruru se bekendste en gewildste inwoners, mnr. Heiner Dörgeloh (58).

Hy het laat Saterdagmiddag suid van Walvisbaai naby Pelikaanpunt verdrink toe hul voertuig eers in ‘n sinkgat en toe diep in die see beland het.

Die treurspel het afgespeel met ‘n saamtrek van lede van die Dörgeloh-familie en vriende wat magteloos op die strand toegekyk het. Vir wyle Heiner Dörgeloh was sy laaste wens en toe die dood ook verlossing nadat hy net meer as tien jaar gelede met breinkanker gediagnoseer was.

Een van sy drie seuns, Heiko Dörgeloh, saam met sy pa in ‘n onderneming met harde- en ysterware op die dorp en nou ook met ‘n vertakking op Swakopmund, het aan Republikein gesê juis die lang stryd teen siekte het sy pa so uitgemergel dat hy reeds aan sy linkersy verlam was toe die treurspel hom afgespeel het.

Juis sy gesondheidstoestand het meegebring dat wyle mnr. Dörgeloh die afgelope maande een van die eerste pasiënte van die St. Raphael-sorgeenheid op Walvisbaai was. Tydens die amptelike opening van die sentrum teen die einde van verlede jaar (2017) deur die stigterspresident, dr. Sam Nujoma, het die voormalige staatshoof ‘n persoonlike besoek aan hom langs sy siekbed gebring.

Wyle Heiner Dörgeloh se eie versoek was dat hy na Omaruru wou terugkeer waar hy grootgeword het. Wanneer die dood intree, wou hy wees waar hy geleef het en as sakeman gedy het. Dit het meegebring dat daar gereeld met hom tussen Omaruru en St. Raphael op Walvisbaai gependel is.

Asof sy familielede geweet het dat dit die laaste Kersgety saam sou wees, was sy broers Gunther en Uli Dörgeloh van Duitsland en Australasië onderskeidelik, ook vir die seisoen op Walvisbaai.

As sakeman was Heiner Dörgeloh nie net vir sy handel in hardeware nie, maar ook vir die opwekking van sonkrag bekend en landwyd ‘n baanbreker op die gebied. In gemeenskapsdiens was hy ‘n voorvatter met jare lange diens in die stadsraad met leiding wat ook in die inwonersvereniging geneem is.

Heiner Dörgeloh was wel in sy vroeëre lewe in ‘n ongeluk met ‘n muggietuig betrokke, maar kon daarna met sy normale lewe voortgaan.

In eie gesinsverband word wyle Heiner Dörgeloh oorleef deur sy vrou, Wendy, drie seuns, Heiko, Emile en Norbert, en vier kleinkinders.

NOODLOTTIGE RIT

Op Walvisbaai het mnr. Simon van Zyl, ‘n bekende sakeman en vriend van die oorledene, vertel van die noodlottige rit wat tot die dood gelei het.

Sy seun, Tinus, het in die laaste maande van Heiner Dörgeloh hom gereeld gaan haal om ‘n entjie te gaan ry. Juis laat Saterdagmiddag het wyle Heiner Dörgeloh hom by die strande met die hoë walle naby Pelikaanpunt gevra om ‘n draaitjie te gaan ry met die res van die familiekring wat op die strand was.

Weens die verlamming aan sy linkerkant was dit gebruik om toe te sien dat die veiligheidsgordels van die pasiënt aan die passasierskant behoorlik vas was en die deur gesluit was. Toe hulle in die diep water beland het, het Tinus uitgekom en vergeefs aan die deur van Dörgeloh geruk om dit oop te kry terwyl sy eie lewe in gevaar was. Dit was vergeefs in ‘n waterdiepte wat op agt meter geskat word. Duikers het die oorledene later uitgehaal met die wrak wat gister nog geberg moes word.

Heiko Dörgeloh het gister aan Republikein gesê daar word nog op die afhandeling van die polisie se normale ondersoek gewag voordat begrafnisreëlings getref gaan word.

Kommentaar

Republikein 2025-04-17

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer