Drie brand dood in ongeluk

Augetto Graig
Augetto Graig - Drie mense het Vrydagaand in 'n trompop botsing tussen Karibib en Okahandja gesterf.

'n Ford Figo en 'n Toyota Run-X het aan die brand geslaan in die ongeluk wat tussen 20:00 en 21:00 sowat 60 km oos van Karibib gebeur het.

Die Erongostreek se koördineerder van misdaadondersoeke, adj.komm. Erastus Iikuyu, het aan Nampa gesê die voorlopige ondersoek dui aan twee van die oorledenes was in een voertuig, terwyl die ander een in die ander voertuig was.

Die lyke is na die polisielykshuis op Walvisbaai geneem. Mnr. Jackson Katjombe (32) van Karibib het die ongeluk oorleef en is in die Katutura-staatshospitaal opgeneem.

Hy het die polisie ingelig dat een van die slagoffers sy ouer broer is. ­Katjombe en sy broer het saam met die onbekende bestuurder van die Ford vanaf Okahandja na Karibib 'n saamrygeleentheid gekry.

Familielede op Walvisbaai het mnr. Benjamin Sande as die bestuurder van die Toyota geïdentifiseer. Hy was alleen op reis vanaf Walvisbaai.

'n Polisiebeampte op Karibib, ao. Michael Ambambi, het gesê: “Die identiteit van die derde slagoffer is nog onbekend, maar ons weet nou dis die bestuurder van die Ford wat vir Katjombe en sy broer 'n saamrygeleentheid gegee het.”

Ook op Karibib het mnr. Ricky Nickson Gariseb (30) Vrydagmiddag gesterf nadat 'n trein sy bene afgery het. Iikuyu sê Gariseb was 'n petroljoggie by die Engen-diensstasie op Karibib. Hy het sy werkplek verlaat sonder om enigiemand in te lig. Dit word vermoed dat hy dronk was en met sy bene op die treinspoor aan die slaap geraak het. Die trein vanaf Usakos na Okahandja het oor sy bene gery, waarna hy na die hospitaal op Usakos gehaas is. Hy het 'n uur ná sy aankoms aan sy beserings beswyk. Volgens Iikuyu is 'n saak van strafbare manslag geopen.

Vrydagoggend is 'n konstruksiewerker op slag dood nadat hy van die sesde verdieping van 'n gebou geval het. Die 46-jarige man het omstreeks 11:00 van die gebou by die 1990 Mixed Youth Building langs die hooggeregs­hof in die hoofstad geval. Die polisieondersoek duur voort.

Voorts is sers. Iileka Aina (41) Donderdag om 19:30 by 'n padblokkade op die Oshiko-pad doodgery terwyl sy aan diens was. Die 22-jarige bestuurder van 'n bakkie sonder 'n lisensie het glo nadat hy die polisiebeampte raakgery het te voet van die toneel gevlug. Die verdagte is daarna in hegtenis geneem en die polisieondersoek duur voort. – Eie berig en Nampa

Kommentaar

Republikein 2025-04-17

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer