Drie bulstryde sal invloed op topvier hê

Ná vier stil maande hervat die premierliga môre, met vuurwarm wedstryde by Unam-stadion, Suburbspark, Walvisbaai en Rehoboth.
Andrew Poolman
Andrew Poolman – Selfs ’n vlugtige kykie deur die spanlyste vir die naweek se hervatting van die Namibië Rugby-unie (NRU) se premierliga sal toeskouers se monde laat water vir die vurige tweestryde tussen klubs wat nou vir elke ligapunt veg.

Dis die tweedelaaste ronde voor die naderende semifinale op 16 Oktober en almal se visier is ingestel om die titel oor te neem wat die sukkelende Trustco United (wenners van die laaste seisoen in 2019) vanjaar sal moet prysgee.

Sal ons begin by die wedstryd boaan die puntelys, tussen die voorloper FNB Unam en die vierde geplaaste FNB Wanderers?

Die studentespan – altyd ’n toonbeeld van sterk diepte en gelaai met wedstrydwenners dwarsoor die veld – het gister nog sy kaarte naby die bors gehou om eers gisteraand se oefensessie deur te kyk.

Net voordat Covid-19 einde Mei gesorg het dat kontaksport verbode was, het Wanderers onverwags met ’n nederlaag in sy wegwedstryd teen Reho Falcon afgesluit.

Die Wit Hingste se groep vir môre is egter veral voorlangs onherkenbaar – met die name JC Greyling, Thomasau Forbes en Darryl de la Harpe wat dadelik die oog vang. Al drie van hulle het feitlik geen rugby sedert die 2019 Wêreldbeker gespeel nie en afgesien van De la Harpe wat sy internasionale uittrede aangekondig het, sal die ander twee se terugkeer na die speelveld ook vir die nuwe nasionale afrigter Allister Coetzee wonderlike nuus wees.

Nog twee betekenisvolle aanwinste vir Wanderers het uit Amerika teruggekeer om tydens hul afseisoen besig te bly. Die haker Obert Nortjé draf teen sy vorige klub uit, terwyl losskakel Cliven Loubser gister ’n laat onttrekking was met las van ’n dyspier wat hom nie as reserwe beskikbaar maak nie.

Sedert die verloorwedstryd teen Falcon het twee Wanderers-kapteins vir die res van die jaar klaargemaak. Vir heelagter Jamie Joseph is dit mediese redes en haker Stefan Hattingh vat ’n wegbreek om te studeer, van beserings te herstel en dalk op sy bergfiets ’n Nedbank Desert Dash aan te pak. Die Hingste se nuwe kaptein is Christo van der Merwe, die 26-jarige agtsteman met sewe toetse vir Namibië.

Dit is reeds bekend dat Unam se kaptein en flank Prince !Gaoseb, asook die slot/flank Max Katjijeko afwesig sal wees ná hul vertrek om klubrugby in onderskeidelik Israel en Spanje te gaan speel. Saam met die stut Desiderius Sethie, wat ná ’n knieoperasie eers weer na volgende jaar mik, en vleuel Chad Plato is dit vier lede van die 2019 Wêreldbekerspan.

Unam se afrigter Johan Diergaardt sê: “Ons kern is nog daar, maar ons het baie om in te haal nadat ons so lanklaas gespeel het en nie een ’n opwarmwedstryd kon inpas nie. Ons voorbereiding was nie wonderlik nie, maar ons is net dankbaar om weer te kan speel en dat rugby ’n slag weer aandag kan kry.

“Wanderers is vir my ’n raaisel; ons is nie eens seker wat om van onsself te verwag nie, waar ons speltempo en intensiteit is. Die middaghitte is een van verskeie faktore waarby beide spanne sal moet aanpas.”

FNB WANDERERS: 15 Warren Ludwig, 14 Donaville Lebereki, 13 Bernie Hugo, 12 Rico Lategan, 11 JC Greyling, 10 Ethan Beukes, 9 Jacques Theron, 8 Christo van der Merwe (kaptein), 7 Driaan Vorster, 6 Anton Steenkamp, 5 Brendan Nortje, 4 Denzil van Wyk, 3 Herschell van Wyk, 2 Obert Nortjé, 1 Ignus Tripodi.

Reserwes: Renard Hattingh, JC Rossouw, Thomasau Forbes, Erik Strauss, Bredell Wessels, Darryl de la Harpe.

BY SUBURBSPARK

Met ’n groot gejuig het FNB Western Suburbs laas naweek van vyfde tot tweede opgeskiet in sy tevore uitgestelde wedstryd teen Trustco United.

Die Khomasdallers se afrigter Jacky Bock het in sy speeldae ook vir môre se opponente uitgedraf en is vol planne en ambisie – maar FNB Reho Falcon is ná hul laaste sege teen Wanderers in Meimaand steeds vurig op pad vorentoe.

Die Rehobothers beskik wel nog oor die dienste van sommige van sy “huursoldate” uit die Suid-Kaap – hoewel die skoppende losskakel Leegan Moos afwesig is. Nóg ’n aansluiting sedertdien is die SWD Arende se senter Wilneth Engelbrecht, ’n jong bulletjie van 100 kg.

Op grond van laas naweek is Suburbs se hoë speltempo, haastige agterlyn en die akkurate stelskopwerk van Justin Nel ’n uitdaging wat Falcon te bowe sal moet kom.

FNB REHO FALCON: 1 Edmando Coetzee, 2 Lwando Maxeke, 3 Roland Renton (kaptein), 4 Arden Wesso, 5 Corbin Benade, 6 John-Toby van Wyk, 7 Denilo Feris, 8 Freginald Africa, 9 Miguel Busch, 10 Franklin Busch, 11 Franklin Kharigub, 12 Wilneth Engelbrecht, 13 Greg Stein, 14 Wayrich Hansen, 15 Anthony Brandt.

Reserwes: Ruchan Visagie, Vinzenzo Botes, Patrick Waggie, Lawrence Mouton, Ashallo Morkel, Brian Bayer, William Fourie, Ronaldo de Klerk.

OP REHOBOTH

FNB Rehoboth is laas naweek in hul afwesigheid uit die topvier gedruk en takel môre die gedugte FNB Grootfontein, wat die lang reis suid sal moet trotseer.

Grootfontein het intussen vier veelsydige sleutelspelers met beserings verloor en sal moet klaarkom sonder Louis Grobbelaar (senter/losskakel, skouer), die stutte André Rademeyer (knieligamente) en Amutenya Amutenya, asook die slot/flank Jonathan Strijbis.

Die noordespan se kaptein Wikus Jacobs sê: “Ons weet Rehoboth gaan taai wees. Hulle is ’n goeie span vol ysters. Dit gaan soos ’n kwarteindstryd wees, waar die wenner met alles wegstap, so ons bly maar nederig en behou respek vir die opposisie.”

Rehoboth se afrigter, Johann Wohler: “Ons het die flanke Boris Majiedt (harsingskudding) en Chester Diergaardt (isoleer weens Covid-19) verloor, asook ons stut en kaptein Kevin Cloete (knie).

“Daar is niks te onderskat aan Grootfontein nie, met hul posisie op die puntelys (tweede) wat wys hoe goed hulle in hul eerste seisoen in die premierliga ingeskakel het.

“Ons, Grootfontein en Wanderers jaag mekaar vir die derde en vierde posisies. Ek hoop ons het die afgelope weke alles gedoen wat ons moes.

“Ná die afweke voel dit weer soos die eerste wedstryd van die seisoen – vol senuwees en opgewondenheid. Rehoboth wil in die semifinaal speel, so Grootfontein sal baie, baie hard moet werk om ons voor ons tuisskare te klop.”

FNB GROOTFONTEIN: 15 Siegfried Potgieter, 14 Luis Talaya, 13 Buruxa Geiseb, 12 Braam Alberts, 11 Ian Malan, 10 Jan-Harm Cronjé, 9 Willem Enslin, 8 Wikus Jacobs (k), 7 Pieter-Daan Kok, 6 Mogamat-Allie Emamdien, 5 Johan Luttig, 4 Meraere Kaapama, 3 Adriaan Potgieter, 2 Frikkie Engelbrecht, 1 Pieter du Plessis.

Reserwes: Johanco Grobler, Zak Oosthuizen, Muniovita Kasiringua, Dirk Smit, WJ Otto, JP Robinson, Irongwa Atshivudhi.

FNB REHOBOTH: 15 Jeandre Loubser, 14 Brandon Dentlinger, 13 Hillian Beukes, 12 Henrique Olivier (k), 11 Jaden Bussel, 10 Ascher Coetzee, 9 Gurtley Beukes, 8 Cameron McNab, 7 Chase Diergaardt, 6 Titus Matheus, 5 Francois Visagie, 4 Conwill Draghoender, 3 Carl-William Freygang, 2 Jeandre Cloete, 1 Delano Coetzee.

• Op Walvisbaai sal FNB Kudus vir United inwag vir ’n ontmoeting tussen die twee spanne onderaan die puntelys.

• Hou ’n oog op ons webblad www.fnbrugby.my.na vir uitslae, nuus, die puntestand en komende wedstrydbepalings.

FOTO
JC Greyling, drukker van die meeste toetsdrieë van enige aktiewe Namibiese speler, maak sy terugkeer na die speelveld.
Haker Obert Nortjé se terugkeer uit die VSA en sy Wanderers-debuut teen sy ou Unam-spanmaats sal dinge interessant maak.

Kommentaar

Republikein 2024-11-16

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 31° Rundu: 20° | 34° Eenhana: 21° | 34° Oshakati: 23° | 33° Ruacana: 20° | 30° Tsumeb: 21° | 33° Otjiwarongo: 20° | 31° Omaruru: 25° | 34° Windhoek: 20° | 31° Gobabis: 21° | 33° Henties Bay: 16° | 24° Swakopmund: 16° | 17° Walvis Bay: 16° | 23° Rehoboth: 22° | 34° Mariental: 23° | 37° Keetmanshoop: 22° | 38° Aranos: 23° | 36° Lüderitz: 16° | 28° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 20° | 34° Lubumbashi: 18° | 33° Mbabane: 16° | 31° Maseru: 14° | 30° Antananarivo: 13° | 32° Lilongwe: 19° | 32° Maputo: 19° | 33° Windhoek: 20° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 18° | 27° Johannesburg: 16° | 29° Dar es Salaam: 25° | 31° Lusaka: 19° | 29° Harare: 16° | 26° #REF! #REF!