Drie dae van brullende enjins wag
Ongeveer 238 kilometer en 21 trajekte oor ruwe terrein wag vir spanne waar Tara, die ongure tydrenkat, se streke vir hul wag.
Tielman van Lill
Die 51ste Total Tara-tydren spring môrenamiddag by The Dome op Swakopmund weg vir drie dae se opwindende renskofte na Windhoek, wat weereens aan uitgelese fynproewers se verwagtinge sal voldoen.
Die ikoniese jaarlikse byeenkoms het vanjaar 24 inskrywings gelok, waarvan twee uit Suid-Afrika vir die veldry-afdeling ontvang is. Verlede jaar het 30 brawe spanne in Swakopmund weggespring.
Japie van Niekerk en sy gerekende navigator Gerhard Snyman wat die verdedigende kampioenpaar is, het ook aanvanklik ingeskryf.
Weens onvoorsiene omstandighede buite sy beheer moes Van Niekerk ongelukkig sy blitsige NAD 4x4-Ford Fiesta S2000 uit die moordende tydren onttrek. Van Niekerk het verlede jaar die eerste jaer geword wat die Tara-tydren vir die derde keer ingepalm het.
“Ek het ingeskryf, maar ek is te besig. Hier gaan nou net eenvoudig te veel dinge by my besighede aan wat aandag moet kry.
“Van al die mense is ek sekerlik die jammerste dat ek nie kan deelneem nie,” het die 2018 Tara-kampioen aan Republikein verduidelik.
Met Van Niekerk buite rekening kan die Tara-kroon Saterdag 'n nuwe eienaar kry wat hoofsaaklik deur die S3- en S4-klasspanne in die kar-afdeling betwis sal word. Die veldvoertuie ding sedert 2018 in vyf verskillende OR-afdelings vir hul eie titel mee.
In 2018 was Wilro Dippenaar en navigator Riaan van der Westhuizen (Team PZN) in sy Shell V-Power 4x4-Toyota Auris S2000 tweede, met Jaco Redelinghuys en Dries Booysen (Team Redco) derde in hul 4x4-Gobabis Toyota Yaris S2000.
Allan Martin en Maretha Olivier in Groen Mamba (Team J&P Racing), die giftige J&P Hydraulics 4x4-VW Polo S2000, kon nie die Tara voltooi nie. Martin was in 2018 ná die eerste dag se aksie slegs 18 sekondes stadiger as Dippenaar in die tweede posisie geplaas.
Die volgende dag het Martin opnuut uitstekend in supersneldele (SS) 5 en 6 gevaar. Maar in SS7 het die noodlot met 'n vasgebrande suier (piston) toegeslaan en hy moes halt roep. Martin kom môre egter met 'n nuwe aanvalswapen by die wegspring aan ...
Al wat 'n petrolkop is, sien daarna uit om Martin se nuwe J&P Hydraulics 4x4-Skoda R5 1.6 liter Turbo in die S4-klas in aksie te sien waar hy teen Dippenaar, Redelinghuys en die 4x4-Suburu's van Richard Slamet, Ruaan Viviers en Oswaldo Mendes gaan meeding.
As Slamet se kar die ren oorleef, kan hy en die res van die Subaru-manne die pap lekker dik aanmaak. Slamet moes in 2018 ná SS4 buite Swakopmund halt roep toe hy en Rolf Pretorius die kat se eerste slagoffer word. Mendes en Kes Naidoo het uitstekend gevaar en met sy Subaru net vier minute stadiger as Redelinghuys algeheel in die vierde plek geëindig.
Ongelukkig sal Riaan Olivier en sy Subaru nie vanjaar vir die Tara aantree nie.
Die Tara is die laaste byeenkoms van die Namibiese nasionale tydrenkampioenskap waar jaers en navigators in die S1-, S2-, S3- en S4-klasse punte kan insamel. Redelinghuys en Booysen hou tans 'n groot puntevoorsprong bo die res van die veld en hy hoef net SS1 tot SS10 (119.84 km) suksesvol af te lê om die Namibiese kampioenskap in te palm
“Ek gaan maar rustig ry. Dit is vir my belangrik om die kampioenskap te wen,” het Redelinghuys gesê.
S1-KLAS
Die spanne wat in dié twee klasse jaag, ry deur die bank met tweewielaangedrewe voertuie wat met 'n verskeidenheid enjins toegerus is.
In S1 maak Zachary Martin, seun van Allan Martin, 'n geskiedkundige debuut in die Tara saam met Amanda Hugo in die warm stoel van sy 4x2-J&P Hydraulics VW Golf MK1. Amanda is die dogter van Maretha Olivier wat vir Martin senior die pad beduie.
“Ek dink dit is die eerste keer in die 51 jaar wat só iets in die Tara voorkom,” het Martin trots van die familiekombinasies gesê.
Pieter Greeff spring môre saam met JP Robinson (Team Mohatu, sealconsultingengineers 4x2-Toyota Corolla 1.6 liter) weg. Robinson het laasjaar nog vir JD Kessler genavigeer. Pierre Röhm het ná sy laaste Tara die tydrensport vaarwel geroep, maar Gino Meyer en Riaan Hennop (4x2-Toyota RSi) neem sy plek in, terwyl Cecil Koorts vir Slamet gaan navigeer.
Welmie Kühn en René van Wyk is ná hul sukses met die Gobabis-tydren slaggereed om weer haar Kühn Panelbeaters 4x2-Toyota RunX 1.6 teen die kompetisie los te laat. Etienne van den Heever en Willy van Wyk (4x2-Toyota Auris 1.6 liter) asook JD Kessler met sy nuwe navigator Wayne McLoud (4x2-Toyota Conquest 1.6) rond die inskrywings in S1 af.
Van den Heever en Van Wyk het ook in 2018 gejaag, maar dit was in die S2-klas, waar hulle gewen het.
Greeff het laasjaar dié klas oorheers, maar Mohatu kan solank sy bande vir ernstige mededinging in die S1-klas poleer.
S2-KLAS
Jannie en George Coetzee (tweede in 2018), Gert Coetzee/Hugo Arangies (derde) asook die kombinasie van Willem en Johan Oosthuizen (vierde) het nie vir 2019 ingeskryf nie.
Jan Everson met Fanie Bots in Naartjie, sy sealconsultingengineers 4x2 VW Polo 2 liter, moes verlede jaar ná SS13 weens 'n gebuigde enjinklep (valve) die kompetisie groet. Everson se grootste mededinging behoort opnuut van Hanré Myburgh met Geon Ellis dié slag as navigator in sy 4x2-VW Polo 2 liter te kom.
Myburgh, laasjaar met Kurt Hartung langs hom, moes toe ongelukkig ná SS8 weens groot enjinskade die Polo se sleepwa nader trek. Nog 'n slagoffer van Tara die kat, was Tinus Malan en Paul van Niekerk wie se 4x2-Toyota MR2 nukkerig geraak het.
Môre tree Everson teen Myburgh, Tinus Malan en Isak Coetzee aan wat Van Niekerk as navigator vervang. Malan het die Toyota MR2 vir 'n 4x2-Opel kadet 2 liter verruil om sy merk te maak.
Die OR-afdeling (off-road) vir veldwaens sal in 'n volgende berig aandag kry.
- [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie