Drie Etosha-oorde opgeknap

Dolomite Camp, Okaukuejo en Halali het nuwe baadjies aangetrek.
Francoise Steynberg
Francoise Steynberg – Namibia Wildlife Resorts (NWR) het drie van hul oorde in die Etosha Nasionale Park opgeknap.

Nuwe baadjies is by Dolomite Camp, Okaukuejo en Halali aangetrek.

Mnr. Mufaro Nesongano, NWR se bestuurder vir korporatiewe kommunikasie, aanlyn media en borge, het Maandag aan Republikein gesê die opgraderings by Dolomite voor die inperkingstyd het sowat N$4 mijoen gekos en Okaukuejo en Halali s’n minder as N$1 miljoen. “Dit het uit ons eie geldkoffers gekom,” het hy gesê.

Die besturende direkteur van NWR, dr. Matthias Ngwangwama, en lede van die uitvoerende komitee het Etosha van 10 tot 12 Augustus besoek om die opgraderings aan hul oorde te evalueer.

Hulle is deur mnr. Nelson Nghitaunapo, ’n verteenwoordiger van die Namibiese Vakbond vir Staatsdienswerkers (Napwu) vergesel, lui ’n mediaverklaring van NWR.

“By elke oord is terugvoering van personeellede gekry oor die uitdagings van die afgelope paar maande tydens die Covid-19-pandemie.”

Ngwangwama en sy span het hul reis by Dolomite Camp afgeskop waar die verouderde houtdek en die tentseile van die chalets vervang is.

Dolomite is die enigste oord wat aan die westekant van Etosha geleë is en is sedert middel Mei graag deur plaaslike toeriste besoek.

“Baie besoekers het hul waardering uitgespreek oor die veranderinge wat by die Dolomite-oord plaasgevind het,” het Ngwangwama gesê.

Tevredenheid is ook uitgespreek met die vordering wat gemaak is met die opgraderings aan die dubbelkamers en chalets by die gewilde watergat van Okaukuejo.

“Met hierdie opgraderings wil ons hê ons gaste moet die beste ervaring in die park hê,” het mnr. Sebulon Chicalu, NWR se hoofbedryfsbeampte, gesê.

Terselfdertyd gaan Halali ou en nuwe gaste verras.

Die kamers is opgeknap, die kampeergeriewe vermeerder en bykomende kookgeriewe is vir “overlanders” bygevoeg.

“Alhoewel die projek nog nie voltooi is nie, was ek verras om die veranderinge by die oord te sien. Die interne span het hulself uitstekend van hul taak gekwyt,” het Nesongano, gesê.

Die span het ook gekyk of die Covid-19-maatreëls by die NWR-oorde in plek is.

“Ek was verheug om te sien dat personeel by al ons oorde die regulasies van die ministerie van gesondheid en maatskaplike dienste volg. Dit sal ons gaste gerusstel dat hul veiligheid ons belangrikste prioriteit is,” het Ngwangwama gesê .

NWR was nog altyd op die voorgrond om plaaslike toerisme deur spesiale aanbiedinge te bevorder en tussen middel Mei en 31 Augustus is tariewe tot N$600 per kamer gesny.

“Hierdie spesiale prys is ingestel om reis so goedkoop as moontlik tydens hierdie uitdagende tye te maak. Dit was verblydend om te sien hoe baie families ons besoek het.

“Vir ons kliënte wat besprekings gemaak het en in sommige gebiede weens die reisbeperking ons nie kan besoek nie, moedig ons aan om hul besprekings na ’n latere datum teen geen koste te verskuif,” het Ngwangwama gesê.

- [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!