• Tuisblad
  • Sport
  • Drie Kia-musketiers gereed vir berg- en padrenne

Drie Kia-musketiers gereed vir berg- en padrenne

Fietsry
Tielman van Lill
Tielman van Lill

Kia Namibia het onlangs drie vroue tot sy Kia Elite-fietsryspan gevoeg.

Courtney Liebenberg, Nicola Fester en Sandra Lippert sal vanjaar die Kia-vlag hoog met hul bergfietse sowel as padfietse in verskeie kompetisies in Namibië laat wapper.

Lippert, wat eintlik ‘n geswore drawwer en die spanbestuurder is, sê sy het in 2016 begin fietsry nadat haar heupe moeilikheid begin gee het.

Fester is sedert 2008 in die saal toe sy in Michigan, die Verenigde State van Amerika, vir grafiese ontwerp gestudeer het.

Liebenberg het in 2012 begin fietsry nadat ‘n kniebesering haar genoop het om inlynhokkie vaarwel te roep.

Volgens die drie vroue is Liebenberg die meer kompeterende jaer van die drie.

Alhoewel die vroue as ‘n span ry, neem hulle in hul onderskeie afdelings deel. Lippert is ‘n veteraan, terwyl Fester as ‘n subveteraan en Liebenberg in die elite-afdeling ry.

Lippert: “Ek is vroeër vanjaar in Januarie deur Cobus Smit, spankaptein van Team Kia, gekontak wat die mans- en vrouespan bestuur. Ek het vir hom gesê ons is drie vriende wat saam oefen en saam aan kompetisies deelneem. Kia het besluit om ons al drie kontrakte aan te bied.

“Ons voel geweldig bevoorreg en geëerd om deur Kia gekies te word om hul handelsmerk te verteenwoordig. Natuurlik is Cymot op sy beurt weer ‘n borg vir Kia wat die Scott-fietse en ander toerusting voorsien.

Lippert het verlede jaar die Desert Dash as soloryer suksesvol voltooi. Sy was ook in ‘n vrouespan wat derde in Suid-Afrika met die Joberg2C-marathon geëindig het.

Met die Namib Quest was hul gemengde span tweede en sy het tweede in die Gravel & Dirt-marathonreeks geëindig. Al drie vroue het as individue aan die weeklange Namib Quest-kompetisie deelgeneem.

Lippert: “Ons is natuurlik meer as net dankbaar vir die ondersteuning van Kia en mnr. Willie Verdoes wat die dryfveer agter die borgskap is. Dit is geweldig moeilik om borgskappe in Namibië los te slaan en daarom is ons ingenome met die verloop van sake.

“Ons wil Kia, Willie Verdoes asook Axel Theissen en Cymot opreg bedank. Dit is goed dat daar na die vroue in fietsry gekyk word, en nie net die mans soos wat dit in die verlede was nie.”

Cobus Smit, spankaptein van Team Kia, vertel meer oor die vrouespan.

“Ons wou nog altyd meer vroue by die Kia-span betrek het, maar ongelukkig was daar nie altyd genoeg gehalte- vroueryers beskikbaar nie. Genadiglik het die aantal vroue asook die gehalte-ryers oor die afgelope twee jaar toegeneem en verbeter.

“Vir ons by Kia gaan dit ook natuurlik om ryers vir die lang termyn te behou en te ondersteun. Die ryers wat ons kies word gewoonlik individueel getoets en geëvalueer en dit is goed om gelykheid is sport, asook fietsry te bevorder,” het hy aan Republikein gesê.

- [email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-04-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer