Drie sterf tussen Woensdag, Saterdagnag op paaie
Drie sterf tussen Woensdag, Saterdagnag op paaie

Drie sterf tussen Woensdag, Saterdagnag op paaie

Ses padongelukke waarin drie mense gesterf het en 18 sodanig beseer is dat hulle na hospitale geneem moes word, is aangemeld.
NAMPA
Jana-Mari Smith - Die nooddienste moes hulle Saterdag na ‘n ongelukstoneel op die pad tussen Windhoek en die Internasionale Lughawe Hosea Kutako haas toe die bestuurder van ‘n sedanvoertuig beheer verloor het en teen die kant van ‘n vragmotor gebots het.

Die bestuurder, ‘n man, is uit sy voertuig geslinger en het gesterf.

Mnr. Sean Naudé van Namibia Marshall Rangers het ‘n video op Facebook geplaas wat toon hoe die polisie en nooddienste teen laat Saterdagmiddag op die ongelukstoneel werksaam was.

Verder berig Namibia Medical Rescue 24/7 Services op sy Facebook-blad dat vyf mense laat Saterdagnag in ‘n trompop botsing naby Rehoboth beseer is.

Dit blyk een van die vyf beseerdes moes met meganiese kake uit een van die twee motorwrakke verwyder word.

Niemand het in die ongeluk, wat sowat 30 km noord van Rehoboth plaasgevind het, gesterf nie.

Nampa het intussen Saterdag berig ‘n 65-jarige verpleegster het gesterf toe die bakkie waarin sy gereis het, Vrydagoggend op die C44-grondpad na Tsumkwe omgeslaan het.

Die oorledene, wat by die Mangetti Duin-gesondheidsentrum gewerk het, is as me. Lena Kharases geïdentifiseer.

Ao. Maureen Mbeha, polisiewoordvoerder in die Otjozondjupastreek, het aan Nampa gesê sy was een van 12 insittendes in die voertuig wat deur ‘n 38-jarige vrou bestuur is.

Die bestuurder het sowat 90 km oos van Grootfontein beheer oor die voertuig verloor en dit het van die pad geloop en omgeslaan.

“Die verpleegster is op slag dood,” het sy gesê.

Sewe insittendes het ernstige beserings opgedoen en is na die staatshospitaal op Grootfontein geneem, terwyl vier mense lig beseer is.

Die polisie se ondersoek na die voorval duur voort.

Volgens West Coast Safety Initiative (WCSI) het ‘n voertuig wat op die C38-pad na Etosha op pad was, Saterdag op dié pad omgeslaan.

Die voertuig het aan die brand geslaan, maar nie een van die insittendes, glo almal toeriste, is beseer nie.

Op Walvisbaai was vyf voertuie volgens berigte Donderdag in ‘n kettingbotsing betrokke.

Niemand is beseer nie.

Verder berig Nampa ‘n meisie van 10 jaar is Woensdag op slag dood toe die voertuig waarin sy gereis het, op die pad tussen Omaruru en Kalkfeld omgeslaan het nadat ‘n band gebars het.

Die ses ander mense wat saam met haar in die voertuig was (drie volwassens en drie kinders) het die ongeluk oorleef, maar het ernstige tot ligte beserings opgedoen. Hulle is vir behandeling na die staatshospitaal op Omaruru geneem.

Die polisie sal op 22 Januarie ‘n volledige verslag uitreik van al die ongelukke en misdade wat in die feesseisoen plaasgevind het. - Eie berig en Nampa

Kommentaar

Republikein 2024-11-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!