Drie woorde, twee mense, een storie

Afrikaanse fliekaanhangers kan solank die kaartjies bespreek en die springmielies koop, want die nuutste fliek wat die tonge gaan laat klap – Vergeet my nie – begin vandag in fliekteaters draai.
Lloyd Zandberg
Elzeth Harmse





’n Paar jaar gelede het Vir die Voëls opslae gemaak toe Irma en Sampie de Klerk se ware verhaal danksy ’n Huisgenoot-kompetisie die lig gesien het, maar nou is dit Namibiërs Hugo en Mardaleen Derks van die Gobabis-omgewing se beurt om hul storie te kan deel.

Hugo en Mardaleen se liefdesreis het op Potchefstroom begin, daarna in Londen, Engeland ’n paar hoofstukke bygekry en is steeds aan die groei hier in Namibië.

Dis ook op dié drie plekke waar die fliek verfilm is.

Hugo word deur Sean-Marco Vorster (Alles Malan) vertolk en Mardaleen deur Marguerite van Eeden (Vaselinetjie).

Die regte Hugo en Mardaleen

Hugo het in Namibië grootgeword en op Gobabis skoolgegaan tot einde gr. 9. Hy het sy skoolloopbaan aan die Hoër Volkskool Potchefstroom voltooi. Daarna het hy eers ’n Maties-draai gaan maak voor hy BCom op die PUK begin swot het. Hy het onder andere al by Die Republikein gewerk, maar kort na sy tydjie in Londen, is hy plaas toe en boer steeds voltyds.

Mardaleen het op Klerksdorp skoolgegaan en BA Kommunikasie op die PUK geswot.

Ná haar studies is sy vir ’n rukkie Londen toe en daarna het sy met haar loopbaan by Old Mutual se hoofkantoor in Kaapstad begin.

Sy was campaign manager waar sy die plasing en proeflees van gedrukte advertensies in die media (tydskrifte en koerante) bestuur het.

Sy het verskeie mediahuise soos Caxton en Media24 op gereelde basis besoek om sodoende bemarking in die gedrukte media te verseker.

Sy was ook deel van die bestuurspan wat Old Mutual-groepskemas se outsourced call centre bestuur het.



Die Derkse was verlede week in Suid-Afrika vir die fliek se première, maar ten spyte van die bedrywige bekendstellingstyd, het Mardaleen ’n paar vrae vir Kollig beantwoord:

Beskryf in drie woorde hoe dit voel dat julle lewensverhaal in fliekteaters draai.

Ongelooflik! Onwerklik! Vreesaanjaend!

Wat het julle gemotiveer om in te skryf vir die Huisgenoot-kompetisie en het net een van julle of albei die storie geskryf?

Ek het nog altyd gesê as ek ons storie oorvertel dit ’n regte ou Huisgenoot (HG)-storie is. . . Ons het albei Vir die Voëls gesien, maar het eers later uitgevind dit was ’n kompetisie in HG wat tot die fliek aanleiding gegee het. Ons het vir mekaar gesê as daar ooit weer so ’n kompetisie is, móét ons inskryf! So breek Desember 2017 aan en ek en Hugo sit en gesels en wonder of daar toe ooit weer so ’n kompetisie in HG was. Net daar begin ons naarstiglik soek: op die internet, in ou Huisgenote, op Facebook. Einde ten laaste kry Hugo toe ’n piepklein inskrywingsvorm op Media24 se webwerf en toe ons kyk, is die sluitingsdatum die volgende dag!

Ons het net daar opgestaan, my skootrekenaar oopgeslaan en ek het begin skryf met Hugo styf teen my sy. Ons het ons behoorlik verlekker! In elk geval, ons het hom sommer daardie selfde aand per e-pos aan HG gestuur en toe wag ons. . .

Op watter medium is julle in kennis gestel dat julle die wenners is en wat is die eerste ding wat julle daarna gedoen het?

Ons is eers in Augustus 2018 in kennis gestel dat ons gewen het. Ek was in ’n supermark en Hugo het my gebel en gesê daar lê ’n e-pos in my mandjie van HG af. Soos Hugo se aard is, maak hy altyd grappies of pes my. Ek het gedink dis maar weer een van daai dae en ek was nogal ongeduldig, want ek was onder druk by die skool en het nie op daardie tydstip tyd gehad vir grappies nie. Hy het aangehou en ek het inderhaas gaan kyk en sowaar!

Ons was ongelukkig nie bymekaar nie, want ek bly mos in die dorp met die kinders en hy op die plaas gedurende die week, maar ek kan jou sê ek het gegil en ons moes onsself gereeld verseker dit is waar en nie net ’n droom nie.

Hugo, beskryf die presiese oomblik toe jy geweet het Mardaleen is jou trouvrou en Mardaleen, beskryf jy ook die “jy-weet-dit-net-oomblik” met Hugo.

Hugo sê dit was definitief in Londen. Hy het die hele tyd wat ons daar was gevoel ek is sy trouvrou en hy het, selfs toe hy terug in Namibië was, steeds hierdie gevoel met hom saamgedra. Hy het dit probeer ignoreer, maar dit het hom bygebly. Nadat hy ’n lang verhouding verbreek het, het hy geweet hy moet hierdie gevoel toets en hy het my genooi om Paasnaweek 2003 by hom in Namibië te kom kuier. Vyf jaar het verloop vandat ons mekaar in Londen gegroet het tot ons mekaar weer daardie Paasnaweek gesien het. En ons is presies ’n jaar daarna getroud!

My oomblik onthou ek so goed. Hugo het my ouers (ek het ’n baie streng pa gehad en geen kêrel kon ooit sy goedkeuring wegdra nie) in Johannesburg kom ontmoet vir ’n naweek en hulle was dadelik mal oor hom. Ek het ná die naweek terug Kaapstad toe gevlieg en daardie Maandagoggend eerste ding ’n vergadering met my baas gehou. Ek en sy sou in die volgende maande ons eie besigheid oopmaak en onafhanklik van Old Mutual gegaan het. Ek het langs haar gaan sit en gesê: “Renee, I don’t think you can any longer count on me as your business partner as I am madly in love with Hugo and I know that he’s the one for me.” En dis ook die eerste keer wat ek vir hom kon sê: “Ek is lief vir jou!”. Dis nog ’n ander storie. . .

Wat was julle kinders se reaksie toe hulle hoor hul ouers se liefdesreis word in ’n fliek omskep?

Alhoewel hulle natuurlik opgewonde vir ons is, dink ek nie hulle kan daarmee identifiseer nie. My dogtertjie is net baie bekommerd omdat hulle dele uitgelaat het en sekere dele weer ingesit het om ’n effek te verkry.

Wyk die fliek baie af van julle ware verhaal?

Ja en nee. Ek dink die goue draad is definitief daar, maar daar is bietjie verander aan ons beroepe en so hier en daar dink ek daar gaan ’n paar mense wees wat ons op universiteit geken het, wat gaan weet wat is waar en wat nie! Maar die meeste is darem waar.

Word die “groot oomblikke” suksesvol uitgebeeld?

Ja, ek dink tog so. Ek dink daar is oomblikke in die Londen-huis wat baie suksesvol uitgebeeld is. Terselfdertyd moet ’n mens ook net onthou dat die storie gebaseer is op ’n ware lewensverhaal, so daar is elemente wat nie waar is nie en daar is elemente wat uitgelaat is, so ons sit vanoggend (ná die première) bietjie met gemengde gevoelens. Maar ek dink ons kyk uit ’n kritiese oog ook. Ek dink wel vir fliekgangers sal daar baie dinge wees waarmee hulle kan identifiseer en sal dit vir hulle ’n mooi fliek wees met mooi tonele waar Namibië en Londen uitgebeeld word. En die akteurs het hulle rolle ongelooflik goed vertolk – dit was so oortuigend: As Marguerite gehuil het, het dit gelyk of sy gehuil het en Sean-Marco het tot ’n aksent aangeleer om meer Namibies vir die rol te klink. Vir my en Hugo is dit so bietjie van ’n afwyking van ons ware verhaal met ware insidente, maar ons is baie dankbaar, positief en opgewonde. Tydens die première het ons gesien die fliek is baie passievol en dis dalk wys dat kinders onder 13 nie sonder ouertoesig daarna kyk nie.

Julle albei was redelik nou betrek tydens die verfilming. Hoe het julle dié ervaring beleef?

Ja, ons was. Party dae het ek gevoel dat ek my neus te diep indruk. . . Die regisseur is ’n wonderlike mens en het gereeld vir ons ’n kopie van die nuutste draaiboek gestuur. Aanvanklik was ons glad nie gelukkig nie, want dit het soos ’n regte ou voorspelbare liefdesverhaal geklink, maar ons het probeer verander. Ek het later ook besef dat ons sal moet let go. Ons kan nie alles maak soos wat ons wil nie en ’n mens moet begrip hê vir ’n draaiboekskrywer wat ’n sekere gevoel of effek by die gehoor wil agterlaat. Dus het ons maar agteroor gesit en dit laat gaan sodat die professionele mense doen wat gedoen moet word.

Is nuwe herinneringe en emosies weer opgeroep met die hele reis terug in tyd?

O, dít was die heel lekkerste! Ons is gereeld herinner aan staaltjies en gebeure en herinneringe tydens hierdie proses en net as ons ’n bietjie vergeet, dan gebeur daar weer iets wat ons weer opnuut opgewonde maak! Ons het ook opnuut besef dat die Here ons letterlik met Sy hand uitgesoek het vir mekaar, want menslik gesproke sou ek en Hugo nooit, ooit bymekaar uitgekom het nie.

Waarom is die titel van die fliek so gepas?

Die titel het natuurlik ’n tweeledige betekenis. Eerstens was dit die koshuis waarin ek was toe ek op die PUK geswot het. Tweedens het ek en Hugo in sewe jaar wat verloop het met duisende kilometer en totaal verskillende leefwêrelde, nie van mekaar vergeet nie!

Wat het julle oor julself geleer tydens hierdie reis van: jul verhaal skryf, die kompetisie wen, die filmmakers en akteurs ontmoet, insette lewer en die heen en weer vlieg?

Ek dink ons het geleer ons is twee doodgewone mense met ’n ongewone liefdesverhaal. Voordat ons met die proses begin het, het ons gaan aanklop by Irma en Sampie van Vir die Voëls-faam. Een van die dinge waarteen hulle ons gewaarsku het, was om ons privaat lewens privaat te hou aangesien dit uitgebuit kan word. Hier in Namibië het ons egter gou besef die mense hier is sout van die aarde. Hulle is nie geraak deur die die glitz en glamour nie en mense hier is tevrede met wie en wat hulle is. Die voordeel is ook ons is min mense en hier het almal tyd vir mekaar. En dis een van die dinge wat ons in hierdie proses geleer het.

Wat die akteurs betref was dit vir ons ’n heerlike ervaring om hulle te ontmoet en dit was ook een van die eerste oomblikke wat ons werklik deel van die proses gevoel het.

Hugo sê dit so goed as hy vertel dat ons, op pad na ons ontmoeting met hulle, hulle gesien het as die vermaaklikheidsterre, maar dat hulle ons eintlik laat voel het asof ONS die vermaaklikheidsterre was! Hulle is doodgewone mense en Sean-Marco en Marguerite is plat op die aarde mense. Ons is so bevoorreg dat hulle ons rolle speel en hulle dra absoluut ons goedkeuring oor en oor weg!

Het een of albei van julle tydens die tydperk wat julle nie saam was nie, gevoel die ander persoon is “the one that got away”? Indien wel, watter raad het jul aan ander mense wat moontlik ook so voel?

Ek het nie gevoel dat Hugo DIE EEN was nie, maar ek het wel in my agterkop onthou hoe my pa altyd met lof van die Namibiese boer gepraat het (ek het kort na Londen vir my pa van Hugo vertel). Ons wêrelde het so radikaal verskil, ek het nie in my wildste drome kon dink of my selfs kon verbeel dat ek in sy wêreld kon aanpas, wat nog te sê van inpas nie. Onthou, ek was besig om die korporatiewe leer te klim en ek was die een wat van jongs af gesê het: “Ek wil asseblief tog net nie eendag met ‘n boer trou nie!” So my kop het die moontlikheid heeltemal uitgeblok.

Hugo sê dit het vir hom so gevoel, maar dat hy naderhand vrede daarmee begin maak het. Die wonderlike ding van die Here is dat jy maar kan probeer vrede maak soos jy wil met dinge in jou lewe, maar Hy besluit hoe dit moet uitdraai.

Ons albei glo onwrikbaar dat ons met Sy hand vir mekaar uitgekies is, want menslik het al die odds teen ons getel.

Vergeet my nie is die tweede ware verhaal wat danksy ’n Huisgenoot-kompetisie verfilm is. Die eerste was die welbekende Vir die Voëls. Wat sê julle vir mense wat vra hoe dié twee films met mekaar vergelyk?

Ek is so bly jy vra hierdie vraag, want ek dink mense sal ons fliek ’n onreg aandoen indien hulle dit met Vir die Voëls sou vergelyk. Vir die Voëls is ’n uitmuntende fliek – een van lag en huil en lewenslesse. Ons fliek is ’n goedvoel-fliek waar mense weer in ware liefde, ten spyte van struikelblokke, kan glo. Ek dink fliekgangers gaan lag en uitstap met ’n positiewe gees. En ek dink in ’n mate is dit presies wat mense nou nodig het te midde van droogte en ekonomiese druk. Dalk moet ons net weer ons ander helfte fliek toe vat, springmielies koop en cheers op ware liefde!

Jul albei ry nou op die golf van fliekbekendstelling, skouers skuur met bekendes en kan die glitz en glam beleef, maar hoe lyk ’n normale dag in die Derks-huishouding?

Dis darem nie so glamourous nie! Ons is ’n baie hegte huisgesin en daarby baie eenvoudig. Ons het almal baie sterk persoonlikhede en opinies en lewer dit graag – natuurlik met luidrugtigheid daarby. Ons dae is volgeprop, want Hugo moet hard boer sodat hy kan wegglip as die kinders ’n aktiwiteit by die skool het en hy is so ’n goeie pa. Hy mis op niks uit van ons drietjies nie en is altyd ons rots en ons grootste fan! Ons doen letterlik alles saam. Ek onthou Pasella het verlede jaar op Valentynsdag ’n insetsel met ons gedoen en ek en Hugo kon ’n aand alleen getrakteer word. Dit was vir ons so erg, want ons het ons kinders so gemis! Ek weet vir baie klink dit vreemd, maar ons het die grootste pret as ons gesin volledig is!

So ’n normale dag is maar kinders versorg, jaag agter aktiwiteite aan en as die aktiwiteite ons ’n ruskansie gee, dan glip ons plaas toe waar ons kan asemhaal en rus.

Sal julle vir ander mense aanraai om aan dié kompetisie deel te neem? Was die hele proses ’n goeie een?

Natuurlik! Hoekom sal ’n mens jou verhaal van hoop wegsteek? Dit was ’n heerlike proses en ons liefdesverhaal is steeds nie klaar geskryf nie. . .

Foto-krediet vir agter-die-skerms – Fathom Media

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!