Drieling-ma sê dankie
Tanja Bause
Op 25 Junie sal die drieling Mujaame, Kauzikua en Muhupise Tengee hul eerste dekade vier.
Kort ná hul geboorte het hul ma, me. Orpa Tengee, by Republikein om hulp kom aanklop.
“Nadat die berig oor my drieling op 14 November 2008 verskyn het, het ek baie hulp van oral gekry. Drie jaar lank het mense my ondersteun, en as dit nie vir die berig en die mense se hulp daai tyd was nie, sou ek nie my kinders kon versorg nie,” het die enkelma van ses gesê.
Tengee het haar dank met 'n sjokoladekoek teenoor die koerant uitgespreek.
“Ek is 'n huishulp en my werkgewer, me. Van der Merwe, het die koek vir my gegee sodat ek kan dankie sê. Maar ek wil ook vir die organisasies en mense wat my gehelp het baie dankie sê en vir hulle laat weet jul kinders is groot en doen goed.”
Ná die berig 10 jaar gelede gepubliseer is, het onderwysers van Windhoek Hoërskool (WHS), Element Engineering, Waldschmidt Eiers en Sanlam vir Tengee bygestaan.
“Daar was 'n man van Outjo wat my geskakel het en gesê het ek moet Shoprite toe kom. Diemer, dink ek was sy naam. Hy het vir my gesê vat 'n trollie en maak hom vol, ek sal betaal. Dit was 'n baie groot geskenk.”
Sy onthou ook 'n vrou genaamd Tanja wat haar voertuig vol matrasse, klere en kos gelaai het en dit by Tengee se sinkhuis in Sewende Laan, Otjomuise, gaan aflewer het.
“Ek het by my ma gewoon toe die kinders gebore is. Maar ek het 'n stuk grond in Otjomuise by die Shack Dwellers Federation of Namibia (SDFN) gekry. Bank Windhoek het vir my 'n sinkhuis daar opgerig ná die berig verskyn het.
“Ek werk nou al 25 jaar lank vir me. Van der Merwe en haar dogter me. Van Rooyen. Ons is nou al familie en ek moet ook vir hulle baie dankie sê vir wat hulle elke dag voorsien,” het Tengee gesê.
Die drieling is in die Laerskool Otjomuise.
Mujaame is volgens sy ma mal oor stoei en boks, sy suster, Kauzikua, is 'n boekwurm en Muhupise sing graag.
“Ek maak hulle met my klein salaris groot. Partytjie hou en mooi aantrek is nie vir my nie. Ek moet eers sorg vir wat die Here my gegee het. Ek moet eers my kinders grootmaak en miskien eendag is dit my beurt om mooi aan te trek,” het sy gesê.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie