Drikus jaag los onder die res uit
Drikus jaag los onder die res uit

Drikus jaag los onder die res uit

Bergfietsry
NAMPA
Drikus Coetzee was Sondag eerste oor die eindstreep na 100 kilometer elite mansresies van the 2018 Nedbank Windhoek Pedal Power-reeks se sesde byeenkoms.

Coetzee, lid van die Hollard-span, het die roete van sewe rondtes in die Brakwater-omgewing in 2 ure 22 minute 47 sekondes afgelê nadat hy los onder sy opposisie uit gejaag het.

Die tweede geplaaste Chiponeni (Fiffy) Kashululu van Team NCCS in 2:24:33 was meer as ’n minuut-en-’n-half later.

Derde was Ingram Cuff (Team Get Graphics) in 2:24:54, gevolg deur Markenzy Eiseb (NNCS) en André de Klerk (Team Kia Elite), beide twee sekondes later.

Coetzee het aan die nuusagentskap Nampa gesê die kompetisie was deurgaans taai, met ’n sterk wind van voor wat sake ook bemoeilik het.

“Omtrent ses ryers, insluitend ekself, het ná die eerste ronde van die res weggebreek. Van daar het ek net vir die res van die afstand ’n egalige tempo gehandhaaf om my voorsprong te behou,” het Coetzee gesê.

Volgens hom het hy die hele voorafgaande week niks geoefen nie, om uit te rus ná die harde Cape Pioneer Trek bergfietstoer in die Suid-Kaap, waar hy agtste van die soloryers klaargemaak het.

“Nadat ek die hele week nie aan my fiets geraak het nie, het ek geen idee gehad hoe my bene sou herstel nie. Ek het maar net my kans aangegryp. Dit voel goed, want ek het laasjaar ook hierdie byeenkoms gewen.”

Coetzee sê hy voel baie positief oor sy voorbereiding vir die komende Nedbank Desert Dash wat op Vrydag 7 Desember vanaf Windhoek na Swakopmund wegspring.

“Konny Looser (van Switserland) het die Desert Dash die afgelope drie jaar op ’n streep gewen, maar ek wil hom dié keer uitdaag. Vanjaar sal ek in die solo-kategorie ingeskryf wees.

“Verlede jaar was ek (saam met Cobus Smit, Team Kia) eerste van die tweemanspanne en ek mik vanjaar weer na ’n sterk eindposisie.”

In die elite vrouekategorie het Anneke Steenkamp (R&R Importers) oor vyf rondes in 2:06:45 die aanslag van Michaela Ham en Antje Tietz (R&R Importers) met ’n voorsprong van 20 sekondes afgeweer.

Tersia van Zyl was vierde en Benita Kasch vyfde.

• In die Nedbank Pedal Power-reeks bly Team Kia Elite die voorloper in die spankompetisie vir mans, met 95 punte.

Team NCCS is tweede (72) – net ’n kortkop voor Get Graphics (70), Team Cathy (68) en Hollard (67).

By die vroue het R&R Importers reeds weggehardloop met die telling van 87 punte teen Vertec Ladies (14) en Delusch (14). - Verwerk van Nampa

Kommentaar

Republikein 2025-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer