Drink liewer tequila voor jy bibber in die sneeu
Francoise Steynberg
Die yslike sneeustorm in Texas en ander Amerikaanse deelstate word as die ergste in die geskiedenis beskryf.
Kollega Kristien Kruger en haar verloofde wat in Houston rugby speel, het laat weet hoe erg die sneeustorm is. Hulle moes vir dae lank sonder water en elektrisiteit in die koue oorleef.
Volgens die Amerikaanse media het die sneeustorm ten minste 70 lewens geëis.
Terwyl inwoners van Texas verlede week bibber en bewe en selfs verkluim in die koue, hou hul Republikeinse senator Ted Cruz lekker vakansie in die warm Cancun in Mexiko. (Wat het van die miljoene van die Mexiko-muur geword?)
Dis nou terwyl sewe miljoen mense in Texas se tande van die koue kners en Austin se hospitale geen waterdruk en verhitting gehad het nie.
Cruz het in 2016 misluk om homself as president verkiesbaar te stel en in 2024 wil hy na bewering weer probeer. Aanhouer wen, sê hulle.
Teddiebeer Cruz se verweer is sy dogters het hom mooi gevra dat hul gesin asseblief in Mexiko gaan vakansie hou. Watter pa luister nou nie na sy dogters wat hom om hul gemanikuurde pinkies draai nie?
Waaroor die bohaai? Cruz het die cowboys van Texas beveel om eerder tydens die sneeustorms by die huis te bly terwyl hy op ’n vliegtuig na Mexiko klim.
Maar toe bars die bom verlede week in die sosiale media en Cruz word as ’n tweegatjakkals uitgekryt. Hy moes dadelik sy lekker son- en seevakansie kortknip.
Die ironie is Cruz het voorheen vir Steve Adler, burgemeester van Austin, gekritiseer omdat hy met ’n private vliegtuig na Cabo gevlieg het terwyl hy inwoners van sy deelstaat aangesê het om tuis te bly.
Toe wil Donald Trump junior ook ’n eiertjie in die sosiale media lê en twiet dat Cruz eintlik die “onbevoegde Demokratiese goewerneur van Texas” moet uittrap.
“#CruzCancunGate is fake,” twiet hy op Twitter.
Oeps, die goewerneur van Texas is toe eintlik ’n Republikein, Greg Abbott.
Klein Don het glo ook groot politieke aspirasies om sy pa se voetspore as president te volg.
’n Brokkie goeie nuus uit Amerika is die nuwe regering het binne 30 dae nadat Joe Biden president geword Vrydag weer amptelik by die Parys-klimaatsverdrag aangesluit.
Wetenskaplikes, buitelandse diplomate en die sekretaris-generaal van die Verenigde Nasies (VN) het dié stap verwelkom.
Dis seker nie aldag maklik om ’n bekende politikus of ’n sosiale vlinder soos Kim Kardashian te wees nie. Sy staan nou (vir die derde keer weer) op skei met kletsrymer Kanye West wat ook graag ’n Amerikaanse president wou word.
Ek sou ook liewer tequilas en taco’s op ’n sonnige strand geniet voor ek sonder water en krag in die koue moet tande klapper.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie