DRK-regering sny internet af vir verkiesing
DRK-regering sny internet af vir verkiesing

DRK-regering sny internet af vir verkiesing

Inwoners van die Demokratiese Republiek die Kongo (DRK) het geen toegang tot die internet nie nadat die regering besluit het om dit af te sny om moontlike geweld ná die land se verkiesing te voorkom.

Opposisiepartye is woedend omdat daar geen toegang tot die internet is nie, berig News24.

Nadat die langverwagte verkiesing in die DRK etlike kere om verskeie redes uitgestel is, het dit Sondag plaasgevind.

Inwoners kan ook nie SMS'e stuur nie en alle radiodienste is opgeskort.

CNN berig Martin Fayulu, een van die drie presidentskandidate, het Maandag gesê van die masjiene wat in die verkiesing gebruik is, het by sommige stem­lokale nie gewerk nie.

Fayulu het gesê elektroniese apparate wat gebruik is om te stem, het gebreek en dit het die stemproses vertraag.

Die stemproses was Sondag nog nie eens afgehandel nie toe die drie kandidate wat werklik 'n kans staan, gemeen het dat elk van hulle die verkiesing gewen het.

Barnabe Kikaya Bin Karubi, diplomatieke raadgewer van pres. Joseph Kabila, het Dinsdag gesê dit was “noodsaaklik” om die internettoegang te onderbreek sodat die verkiesingskommissie sy werk kan afhandel en die stemme kan tel.

Karubi kon nie sê hoe lank die DRK nog sonder internettoegang gaan wees nie.

Kabila is sedert 2011 die president van die DRK.

Altesaam 21 kandidate het hulle verkiesbaar gestel.

Emmanuel Ramazani Shadary, 'n voormalige minister van binnelandse sake, is Kabila se gunsteling om by hom oor te neem.

Aan die opposisie se kant is dit slegs Fayulu en Felix Tshisekedi, leier van die grootste opposisieparty, wat enigsins 'n kans staan om moontlik die nuwe president te word.

Die land se verkiesingskommissie het Dinsdag aan CNN gesê voorlopige uitslae van die verkiesing sal Sondag bekend gemaak word.

Die finale uitslae sal eers op 15 Januarie bekend gemaak word. Die DRK se nuwe president sal op 18 Januarie ingehuldig word.
– Netwerk24/News24/CNN/BBC

Kommentaar

Republikein 2025-04-18

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer