‘DRK-verkiesing gevaar vir SA, stabiliteit in Afrika’
Konsultant sê indien die verkiesing nie volgens plan verloop nie, kan dit ook ’n regstreekse invloed op die stabiliteit van lande hê wat aan die DRK grens.
Ter wille van stabiliteit in Afrika is dit van die allergrootste belang dat Sondag se deurslaggewende verkiesing in die Demokratiese Republiek die Kongo (DRK) ’n sukses is en vreedsaam sal verloop.
Dit is die mening van Liesl Louw-Vaudran, ’n konsultant van die Instituut vir Sekerheidstudies in Pretoria.
Die verkiesing sal ook nadelige gevolge vir Suid-Afrika inhou indien dit gewelddadig sou verloop, waarsku sy.
Die moontlikheid bestaan dat groot getalle Kongolese vlugtelinge hulle by hul landgenote wat reeds in Suid-Afrika is, sal kom aansluit.
Die DRK, met ’n bevolking van sowat 80 miljoen mense, is een van die grootste lande in Afrika en die grootste in die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SAOG).
Louw-Vaudran wys daarop dat die DRK boonop een van die mineraalrykste lande op die vasteland is met groot hoeveelhede strategiese minerale soos koper, kobalt, goud en diamante.
Die land het ook ’n groot hidro-elektriese kragopwekkingsvermoë.
STABILITEIT
“Die DRK het die potensiaal om een van die rykste lande op die vasteland te wees, maar hy is ongelukkig ook een van die mees problematiese lande in Afrika met oorloë wat al dekades lank hier voorkom.”
Louw-Vaudran sê indien die verkiesing nie volgens plan verloop nie, kan dit ook ’n regstreekse invloed op die stabiliteit van lande soos Rwanda, Burundi, die Kongo (Brazzaville) en Angola hê wat aan die DRK grens.
“Suid-Afrika het sedert 2 000 al miljoene dollar in die Kongo ingepomp om vrede en stabiliteit teweeg te bring, maar het nog nie rente op sy belegging verdien nie. Niks nie.”
Gert Grobler, ouddiplomaat, sê weens die sleutel- strategiese posisie van die DRK in Afrika – en sy ekonomiese potensiaal – het Suid-Afrika deurgaans ’n sterk belangstelling getoon in die politieke, ekonomiese en veiligheidskwessies in daardie land.
“Grootskaalse bystand is dus deurgaans aan die DRK verleen deur vredesbemiddeling en die deelname van Suid-Afrikaanse soldate aan vredesmagte in die land.
“Suid-Afrika se doelwit was nog altyd om saam met die Afrika-unie en die Verenigde Nasies by te dra tot ’n suksesvolle en geloofwaardige verkiesing wat hopelik tot groter stabiliteit en vrede in die DRK sal lei,” sê Grobler.
Die verkiesing moes al in 2016 plaasgevind het, maar pres. Joseph Kabila, die uittredende president, het toe geweier om van sy pos afstand te doen.
Dit het tot hernude geweldpleging gelei. Veral Angola en Rwanda het daarna met die hulp van die SAOG ’n groot rol gespeel om Kabila, wat in 2001 die bewind by sy pa, Laurent-Desire Kabila, oorgeneem het toe dié in ’n sluipmoordaanval dood is, sover te kry om sy pos te ontruim.
Joseph Kabila sal nie aan die verkiesing deelneem nie.
PRESIDENTSKANDIDATE
Reuters berig daar sal Sondag 21 presidentskandidate wees, maar net drie word as ernstige aanspraakmakers beskou.
Hulle is Emmanuel Ramazani Shadary, Kabila se voorkeurkandidaat, Martin Fayulu, ’n voormalige uitvoerende hoof van die oliemaatskappy ExxonMobil, en Felix Tshisekedi, leier van die DRK se grootste opposisieparty, die Union for Democracy and Social Progress.
Volgens ’n peiling wat in Oktober gedoen is, het Tshisekedi toe 36% van die kiesers se steun geniet, teenoor 16% vir Shadary en 8% vir Fayulu.
Verlede week is sewe opposisie-ondersteuners in verkiesingsgeweld dood, terwyl duisende elektroniese toestelle waarop mense moes stem, in ’n brand verwoes is.
Die verkiesings van 2006 en 2011 is albei deur geweld ontwrig.
Die Kongolese regering het buitelandse hulp met die verkiesing verwerp omdat hy sê dit sal die land se soewereiniteit ondermyn.
Die internasionale gemeenskap is bevrees burgerlike magte, die gebrek aan ’n behoorlike padnetwerk in die DRK, die verslegtende Ebola-epidemie en ’n tekort aan geld vir die land se verkiesingskommissie, kan sake bemoeilik. – Netwerk24

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie