Droogte druk weer
Die regering se waterbesparingsveldtog fokus tans op die opleiding van staatsamptenare.
Augetto Graig - Windhoek se munisipaliteit gaan inwoners binnekort in kennis stel van ’n nuwe amptelike droogtetydperk van 1 Augustus af.
Dít het Woensdag tydens ’n opleidingskursus vir waterbesparingsbeamptes by die regering se sentrale kantoorkompleks in die hoofstad aan die lig gekom.
Die munisipaliteit se tegnikus in beheer van die vraag na water, mnr. Dieter Tolke, het pamflette en openbare opleidingsmateriaal voorgelê en ontwerp vir verspreiding ná die amptelike aankondiging van die nuwe droogtetydperk.
Tolke sê dié aankondiging is deel van die Windhoek-munisipaliteit se meesterplan vir watervoorsiening.
Daarmee kan Windhoek se inwoners verwag dat die korting op tariewe, wat tans van toepassing is, van Augustus af
geraak sal word.
Inwoners sal nie meer toegelaat word om waterfonteintjies en dammetjies in hul tuine te hê nie en sal hul tuine slegs twee keer ’n week mag natspuit.
Beperkings sal ook ingestel word op die werksaamhede van kitswassery-ondernemings.
Tolke raai inwoners aan om veral bedag te wees op hul waterverbruik en word versoek om hul watermeters dop te hou.
Die hoofstad stel voor inwoners gaan hul watermeterlesings minstens eenmaal per week na en teken dit aan.
Kenners sê dis selfs beter om die meter twee keer per dag na te gaan sodat lekkasies so vinnig as moontlik opgespoor kan word.
Op dié manier kan inwoners ’n betekenisvolle bedrag geld spaar en hoë waterrekeninge vermy.
Watermeters kan by die munisipaliteit gekoop word en voorafbetaalde meters is ook beskikbaar.
Perseeleienaars word aangemoedig om water te bestuur en om van besparingstegnologie op hul persele gebruik te maak.
Tolke stel voor eienaars vergewis hulself van waar watertoevoerpype en stopkrane op hul persele geleë is, waar die gebruikpunte is en waar watermeters aangebring is.
Hy het melding gemaak van die impak wat maatreëls op voertuigwasserye oraloor die hoofstad gaan hê.
Baie van dié besighede is onwettig omdat hulle nie oor die nodige infrastruktuur beskik of deur die munisipaliteit goedgekeur is nie.
Hulle herwin en hergebruik ook dikwels nie hul water nie.
Deur water reg te gebruik, te bestuur en te herwin, kan so ’n onderneming heelwat geld spaar en in die lang termyn winsgewend bly, sê Tolke.
Gister sou ’n tweede groep waterbesparingsbeamptes, bestaande uit staatsdiensamptenare, dieselfde opleiding ontvang.
Een van hul belangrikste funksies sal wees om watermeterlesings by regeringsgeboue te monitor en aan die koördineerder se kantoor deur te stuur.
Dít volgens me. Josephine Itengula, een van dié veldtog se beamptes.
Sy sê die inligting wat só versamel word, is noodsaaklik om waterbesparingspogings onder rolspelers in die regering aan te moedig.
Me. Ndina Nashipili, nasionale veldtogkoördineerder, sê: “Die data en ook die veldtog is nie vir ons nie. Dit is vir die Namibiese bevolking. My water, my toekoms, my Namibië.”

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie