Droogte kan einde van woestynperde beteken

Elvira Hattingh
Elvira Hattingh

Die wilde perde van die Namib sal vanaf Junie vir die helfte tot driekwart van hul daaglikse kos van skenkings afhanklik wees. Andersins mag die droogte die einde van dié perde beteken, wat reeds ’n eeu lank in die woestyn oorleef.
Sedert die begin van die droogte is meer as 100 wildeperde dood en hul bevolking is nou net 160 sterk. Volgens dr. Telané Greyling van die Namibië Wildeperde-stigting, wat reeds twintig jaar lank navorsing op die perde doen, moet minstens vyftig merries en vyftig hingste oorleef om die genetiese integriteit van die perde te behou.
Nie ’n enkele vul het oor die afgelope drie jaar oorleef nie. Tydens die begin van die droogte het veral die baie jong en ou perde afgesterf. Hiënas het ook ’n groot invloed hierop gehad omdat die verswakte perde ’n maklike prooi is.
Tans het die Namibië Wildeperde-stigting, danksy skenkings, net genoeg kos tot die begin van Junie oor.
Weens swak reën sal daar geen gras teen die begin van die winter oor wees nie en die perde se getalle kan drasties afneem. Geen laat somerreën het geval nie.
Die stigting vra vir skenkings in die vorm van geld of goeie gehalte gras om die perde deur die winter te haal. Dit sal moontlik nodig wees om gras en lusern van Suid-Afrika af in te voer.
Die wilde perde het sy oorsprong uit die Kububstoetplaas. Die perde het die Garub-soldatebasis in 1915 verlaat en hul bevolking het tussen 50 en 300 oor die afgelope eeu gewissel.
Die woestynklimaat het die perde se gene geslyp en hulle is nou geharde diere wat aangepas het om in dié omstandighede te oorleef. Oor die jare het hulle ’n groot toerisme-aantreklikheid in die Suide geraak met duisende toeriste wat jaarliks die Garub-­watergat naby Aus besoek.
In 2012 het die Namibië Wildeperde-stigting tot stand gekom om die welstand van die perde te monitor. Die stigting werk nóú saam met die ministerie van omgewing en toerisme en bestaan uit lede vanuit die toerisme, veeartsenykundige-, navorsings- en omgewingsbestuursektore.
Die stigting het sy dank uitgespreek teenoor verskeie skenkings vir die perde oor die afgelope ses maande. Hiermee kon aanvullende lek aan die perde verskaf word, wat in tussen ’n derde tot ’n kwart van die perde se daaglikse voedingsbehoeftes voorsien het.
Die perde het tot dusver hoofsaaklik gras, lusern en ’n proteïenlek ontvang, maar sal vanaf Junie méér kos moet ontvang om te oorleef. Enige skenkings, klein en groot, is nodig.
Die stigting se bankbesonderhede is soos volg:
Namibia Wild Horses Foundation, First National Bank of Namibia, rekeningnommer 622 466 59489, Klein Windhoek-tak, takkode 281479, swift: FIRNNANX. Vir meer inligting, besoek die webwerf www.wild-horses-namibia.com/foundation.

Kommentaar

Republikein 2024-11-27

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 21° | 36° Rundu: 24° | 34° Eenhana: 21° | 36° Oshakati: 22° | 36° Ruacana: 19° | 36° Tsumeb: 24° | 37° Otjiwarongo: 19° | 35° Omaruru: 18° | 36° Windhoek: 18° | 32° Gobabis: 17° | 32° Henties Bay: 14° | 20° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 16° | 31° Mariental: 16° | 31° Keetmanshoop: 14° | 30° Aranos: 16° | 31° Lüderitz: 13° | 29° Ariamsvlei: 14° | 30° Oranjemund: 12° | 26° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 17° | 32° Lubumbashi: 17° | 25° Mbabane: 12° | 19° Maseru: 9° | 20° Antananarivo: 18° | 30° Lilongwe: 22° | 34° Maputo: 20° | 25° Windhoek: 18° | 32° Cape Town: 16° | 23° Durban: 15° | 24° Johannesburg: 14° | 25° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 19° | 21° Harare: 18° | 26° #REF! #REF!