Droogte se letsels sny diep

Ronelle Rademeyer
Ronelle Rademeyer - Die Verenigde Nasies (VN) se voedsel- en landbou-organisasie (FAO) waarsku sowat 23 miljoen mense in landelike gebiede in Suider-Afrika het dringend finansiële bystand nodig om in die komende seisoen gewasse te kan plant nie.
Indien dit nié gebeur nie, sal hierdie mense tot ten minste die middel van 2018 van humanitêre hulp afhanklik wees om te kan oorleef.
Die FAO sê in ’n pas vrygestelde verslag oor die droogtesituasie in lande in suidelike Afrika dat sou hierdie kleinboere nie in staat wees om teen Oktober te plant nie, voedselsekuriteit ernstig bedreig word.
Benewens die gevare van hongersnood, kan hierdie mense ook al hul lewens­middele verloor.
“Die sleutelwyse waarop mense toegang tot kos het, is deur dit wat hulle self produseer. Deur hulle by te staan en in staat te stel om dit te doen, sal hulle voort­bestaan beskerm word aangesien ten minste 70% van mense in die streek van landbou afhanklik is,” sê David Phiri, die FAO se streekskoördineerder vir suidelike Afrika, in ’n verklaring wat verlede week vrygestel is.
“Daar is ’n venstertydperk van sowat drie maande voor die begin van Suider-Afrika se mielieplantseisoen. Ingryping is nou dringend nodig om die afhanklikheid van miljoene plattelandse gesinne van humanitêre hulpprogramme tot ver in 2018 te voorkom,” sê die hulporganisasie.
Hy sê die FAO beoog om seker te maak dat kleinboere die saad, bemesting, gereedskap en ander insetmiddels en dienste kry om hulle hierin by te staan. Veeboere sal ook bystand ontvang om die verwoestende impak van die El Niño-­verwante droogte te oorleef.
Phiri sê dié VN-agentskap se ramings wys dat ten minste US$109 miljoen (of sowat N$2,6 miljard) nodig is om hierdie dringende hulpverlening moontlik te maak.
Hy sê die benarde situasie is die oorsaak van die ergste droogte in 35 jaar in die streek. Sommige lande het twee jaar agtereenvolgens baie lae reënval gehad, terwyl anders selfs al die derde droë jaar in ’n ry beleef.
Namibië, byvoorbeeld, het in 2013 ’n erge droogte gehad, gevolg deur ’n beter 2014 en is toe in 2015 en 2016 opnuut deur swak reënseisoene getref.
Volgens die FAO het wydverspreide mis­oeste tot ernstige wanvoeding in veral landelike gebiede aanleiding gegee, want hulle moet nou ten duurste mieliemeel en ander stapelvoedselsoorte aankoop.
Dié agentskap sê verder in sy ver­klaring hy voorsien dat die impak van die El Niño in die komende maande verder gaan uitkring en dat ’n geraamde 40 miljoen mense in die streek tussen Januarie en Maart 2017 nie kos gaan hê om te eet nie.
Dit is die maande wat die uitwerking van die droogte die felste gaan wees omdat die 2017-oeste nog nie gereed sal wees vir verbruik nie.
Dit blyk verder dat US$4 miljard nodig is om humanitêre hulp te verleen elders in die streek in lande waar droogtes wat deur verlede jaar se El Niño-weerstoestand veroorsaak is, oeste vernietig het.
Benewens die geraamde 40 miljoen mense in die streek, het 20 miljoen mense elders in die wêreld nie kos nie.

Lande in die streek
Nie een land in die streek is die genadelose impak van die droogte gespaar nie, sê die FAO.
“Altesaam 640 000 stuks vee het volgens opnames reeds in Botswana, Suid-Afrika, Namibië en Zimbabwe gevrek – grootliks vanweë ’n gebrek aan water, maar ook weens siekte-uitbrekings.”
Namibië het volgens dié VN-agentskap US$2,3 miljoen onmiddellik nodig om 49 560 gesinne te ondersteun. In Tanzanië en Mosambiek is die nood die grootste, met US$6,9 miljoen wat vir die ondersteuning van 884 000 gesinne in eersgenoemde land nodig is.
In Mosambiek het 700 000 gesinne bystand nodig en dit sal sowat US$7 miljoen kos. Die ander lande wat deur die FAO uitgesonder word, is Zambië, Zimbabwe, Malawi, Suid-Afrika, Lesotho, Swaziland en Madagaskar.
Die FAO doen in sy verklaring ’n dringende beroep op hulporganisasies om gemeenskappe te help om droogtebestande saad en veevoere aan te plant en hulle met klimaatslim landboutegnieke te bemagtig sodat hulle in die toekoms beter gerat sal wees vir sulke droogterampe.
Intussen het die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SADC) verlede week in Gaborone onder voorsitter­skap van pres. Seretse Khama Ian Khama van Botswana ’n pleidooi vir humanitêre bystand van N$54 miljard aan die streek gerig.
Volgens hom verteenwoordig die 40 miljoen mense wat nou reeds honger ly of hongersnood in die gesig staar, 14% van SADC se bevolking.
Die VSA, Brittanje en die Europese Unie (EU) het in reaksie hierop hulp van N$5 miljard beloof.

La Niña en moontlike vloede
Wetenskaplikes voorspel intussen ’n verhoogde kans van die La Niña-weer­­ver­skynsel – wat in die komende somer baie reën en oorstromings in hierdie gebiede kan veroorsaak.
Die gesamentlike impak van die twee uiteenlopende weerstoestande kan tot 100 miljoen mense raak, sê die FAO.
Die droogte wat deur El ­Niño veroorsaak is, het oeste op drie vastelande laat verdroog – van palmolie, rys en suiker in Asië tot graan in Suider-Afrika en koffie in Suid-Amerika. Maar elders, soos in Fidji en sommige van sy buurlande, het dit storms veroorsaak waarin oeste weggespoel is.
Die agentskap, tesame met die VN se wêreldvoedselprogram en die Internasionale Fonds vir Landbou-ontwikkeling “span al sy kragte in om die negatiewe uitwerking van ’n moontlike La Niña te beperk, maar terselfdertyd al die geleenthede wat dit in die komende maande bied, aan te gryp,” lui die FAO se verklaring.
Die organisasie is ook op bystand om noodvoedselhulp en landbougereedskap aan Viëtnam te lewer, waar droogte en die insypeling van soutwater in die landerye boere se voortbestaan bedreig. Meer as 7,6 miljoen mense in Ethiopië ontvang reeds voedselhulp, terwyl 260 000 in Papoea-­Nieu-Guinee gehelp word. Agentskappe van die VN en ander belanghebbendes het vroeg in Julie by die FAO se hoofkwartier in Rome vergader om die uitdagings hiervan te bespreek en die internasionale gemeenskap te mobiliseer sodat hulp verleen kan word aan die lande wat erg deur dié fel klimaatsverskynsel geraak word.
Die ander VN-agentskappe teenwoordig was die Internasionale Fonds vir Landbou-ontwikkeling (IFAD) en die Wêreldvoedselprogram (WFP).
Die FAO se direkteur-generaal, José Graziano da Silva, het daarop gewys dat El Niño primêr tot ’n voedsel- en landboukrisis gelei het.
’n Beroep is op regerings en die internasionale gemeenskap gedoen om die weerbaarheid van weerlose gemeen­skappe wat sukkel om in hul eie voedselbehoeftes te voorsien, te verbeter, en hulle te help voorberei vir wat La Niña moontlik kan bring. Macharia Kamau, die VN se spesiale gesant oor El Niño en klimaat, het daarop gewys dat indien lande nie aanpas by die “nuwe normaal” van toenemend meer natuurrampe soos droogtes en vloede nie, sal die implementering van die VN se ontwikkelingsdoelwitte daaronder ly.
“Klimaatsverwante rampe met beide ’n vinnige en stadige aanvang dui op jare van swak beplanning en gebrekkige beleggings om voorbereid te wees,” sê Kamau.
Weervoorspellers in Japan, Australië sowel as die VSA voorspel ’n 50% tot 75% kans dat ’n La Niña-verskynsel in die tweede helfte van vanjaar sal ontwikkel.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!