Droogte se wurggreep verstewig
Droogte se wurggreep verstewig

Droogte se wurggreep verstewig

37% van huishouding in Suider-Afrika geraak
Kobus Laubscher
Dr. Kobus Laubscher – Hoewel die aankondiging deur die premier van die Vrystaat dat die provinsie as rampdroogtegebied verklaar word, wyd verwelkom word, is dit terselfdertyd onnodig laat.

Deur nie vroeër gehoor te gegee het aan oproepe uit die veld nie, het boere nie die nodige geldelike ondersteuning gekry nie. Die verloop van sake is tiperend van die vertraagde reaksie van die staat en ‘n mens wonder of die onvoorsiene gevolge verreken word.

Terselfdertyd dui die jongste markintelligensie verslag van die Nasionale Bemarkingsraad op verswakte verwagtings van die reproduksiekapasiteit van hulpbronne. Daar word verwys van die stand van die droogte, die stand van reënval tot nou, die stand van damme en ook na die verwagte impak van die huidige droogte.

In die Oos-Kaap, Vrystaat, Noordwes en die Noord-Kaap is die impak van die droogte uiters erg. Wat reënval betref is slegs Gauteng op normale vlakke en soos in die geval van die ernstige aard van die droogte, is die reënvalstatus in die genoemde vier provinsies baie laag.

Gevolglik is damvlakke ook laag met net een provinsie, Mpumalanga, se damvlakke normaal en Gauteng se damvlakke wat hoog is. Die vooruitsigte vir die res van die seisoen ten opsigte van verligting wat die droogte betref, sal óf verswak, óf is reeds kritiek. Slegs Gauteng en Mpumalanga se vooruitsigte is stabiel.

Die gevolge van hierdie toedrag van sake is verreikend en sal die landbou se vermoë om enigsins by te dra tot enige ekonomiese opswaai in die wiele ry. Normaalweg is daar beduidende ekonomiese vermenigvuldigers binne die landbouwaardeketting aanwesig, maar die onvermoë van die sektor om fisies te presteer sal wye ekonomiese implikasies vir Suid-Afrika en die substreek hê.

Meer as 37% van alle huishoudings in Suider-Afrika word deur die droogte geraak en reële uitsette van die sektor het met 9,2% gedaal vergeleke met 2018. Wat meer bekommer is dat die huidige droogte soos in die geval van Namibië, met verloop van tyd gestalte gevind het. Boere het oor verskeie seisoene agter geraak wat betaalvermoë betref en tans het die skuldopneemvermoë sodanig ingekort dat selfs voldoende reën in baie gevalle nie uitkoms gaan bied nie, meen AgriSA.

Die verwagte positiewe siening van graanboere by wyse van verhoogde voornemens om te plant, is besig om te daal aangedien die reën wegbly. Die grondvogstatus is kommerwekkend laag en die optimum planttyd is besig om uit te loop.

Daar is tans ‘n redelike kans dat die voorsiening van veral witmielies in gedrang kan kom indien Suid-Afrika nie genoeg kan produseer nie.

Die gesondheidstatus van die lewendehawebedryf in Suid-Afrika is tans in gedrang as gevolg van die tweede uitbreking van bek-en-klouseer in ‘n kort tyd.

Die impak hiervan strek oor grense en benadeel buurlande. Baie belangriker is die feit dat waar uitvoere van vleis besig was om kop op te tel, enige verbod op uitvoere noodwendig binnelandse markte verwring.

Vleis wat vir die uitvoermark bestem is, moet dan binnelands verkoop word en pryse daal. Verbruikers is egter onder soveel druk as gevolg van die stand van die ekonomie dat hulle nie werklik bevoordeel word uit laer pryse nie. Hulle eet nie meer vleis nie, endie geld wat “loskom” as gevolg van ‘n goedkoper vleismandjie, stop ander gate toe.

Ander bedrywe soos vrugte en suiwel is ook in die knyp. Die vrugtebedryf is grootliks aangewese op uitvoer, maar gaan gebuk onder die volhoubare beskikbaarheid van kwaliteit besproeiingswater.

Dit is uiteraard ‘n baie negatiewe toedrag van sake en ‘n mens voel of daar geen uitkomkans is nie.

Wat verblydend is, is die paraatheid van georganiseerde landbou wat beleidmakers kan bedien met op datum, kwaliteit inligting. As gevolg daarvan is daar geen kwessie oor geloofwaardigheid nie en kan die betrokkenes fokus op die oplossings.

Die algemene gevoel is dat veral die betrokke departemente en ministers deeglik op hoogte is van sake en deel is van die soeke na oplossings.

Daar is ook al hoe meer aanduidings van nie net empatie met die boere nie, maar van optrede in gemeenskappe wat die spit moet afbyt.

Intussen moet ons bly hoop dat dit sal reën.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!