Droogte spook by akkerbou
Ná Namibië verlede jaar ’n droogteramp ervaar het, veroorsaak ’n water- en geldgebrek dat akkerbouers sukkel om weer te begin.
Elvira Hattingh - Verwagtinge vir vanjaar se nasionale witmielieoes is van meet af aan kleiner – hoofsaaklik weens verlede jaar se droogteramp.
Dit omdat Hardap-akkerbouers weens die sluiting van besproeiingswater geen mielies kon plant nie, terwyl akkerbouers in die mieliedriehoek net sowat 73% van hul gewone aanplantings kon onderneem.
“Dit is omdat die jongste reënseisoen láát begin het en akkerbouers in die mieliedriehoek onseker was ná verlede jaar se misoes. Hulle ervaar ook finansiële uitdagings ná al die droogtes,” het mnr. Gerhard Engelbrecht, ’n akkerbouer van die Grootfontein-omgewing, gesê.
Die Akkerbouprodusentevereniging (APV) het verlede Donderdag in Windhoek vergader, waartydens terugvoering gegee is oor hoeveel hektaar mielies in die land se kommersiële mielieproduserende gebiede geplant is.
Terselfdertyd sal die Hardap-besproeiingskema en -omgewing vanjaar nie tot die land se nasionale mielieoeste bydra nie.
Volgens die APV se jaarverslag van 1 April 2018 tot 31 Maart 2019, het dié gebied in die 2018-’19-seisoen 3 146 ton mielies van 358 ha se besproeiingslanderye bemark.
MIELIEDRIEHOEK
Engelbrecht, wat op die plaas Hoba 20 km buite Grootfontein boer, sê in die mieliedriehoek word jaarliks sowat 6 000 ha mielies geplant.
Tog is vanjaar net sowat 4 411 ha mielies geplant.
Akkerbouers in die Otavi- en Kombat-omgewing het altesaam 800 ha se droëlandmielies, asook 250 ha se besproeiingsmielies geplant.
Na verwagting sal die besproeiingsmielies meestal vir die plaaslike groenmieliemark, oftewel menslike gebruik, gaan.
In die Abenab-omgewing, net noord van Grootfontein, is 226 ha mielies onder besproeiing en 675 ha op droëland geplant.
Engelbrecht sê in die Grootfontein-omgewing self het boere sowat 2 400 ha mielies op droëland geplant, asook 60 ha onder besproeiing.
Terselfdertyd het die stryd met die herfskommandowurm vir die mieliedriehoek se akkerbouers die norm geraak.
“Veral die vroeë besproeiings- en groenmielie-aanplantings se besmetting van dié pes was hoog,” sê Engelbrecht.
Hy sê die beheer van die pes bied finansiële uitdagings vir droëland-akkerbouers, maar dat besproeiingsboere dit al as standaardpraktyk aanpak.
SUMMERDOWN
In die ooste van die land, oftewel die Summerdown-gebied, is sowat 1 200 ha droeëlandmielies en 700 ha mielies onder besproeiing geplant.
Produsente het aangedui die mielies onder besproeiing sal waarskynlik as kuilvoer aangewend word, afhangende van hoe pryse en weiding vergelyk.
Summerdown en die sentrale gebiede van die land plant gewoonlik sowat 1 500 ha se mielies aan.
Engelbrecht sê die Grootfontein-omgewing het tot dusver tussen 250 mm en 300 mm reën ontvang.
“Daar is ongelukkig reeds skade op plekke waar die reën te lank weggebly het. Ons verwag ’n gemiddelde oesjaar, maar terselfdertyd lyk die weervoorspelling oor die komende weke belowend.”
Die mieliedriehoek, wat die Karst- of Abenab-omgewing net noord van Grootfontein insluit, is een van Namibië se sterkste mielieproduserende gebiede.
Verlede seisoen het dit ’n ramp-oes opgelewer, maar 29 949 ton mielies is steeds op 6 134 ha geoes.
Die streek wat toe die tweede meeste mielies (10 642 ton) bemark het, was die besproeiingsprojekte in die Kavango- en Omusatistreek.
Die APV dui aan verlede seisoen is 56 422 ton mielies geoes.
Die beste oes wat Namibië die afgelope 27 jaar opgelewer het, was dié van die 2012-’13-oesjaar toe 72 438 ton mielies geoes is.
– [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie