Droogte verpletter kommunale boere
'n Ministeriële verslag dui aan die kommunale gebied naby Karasburg is onder dié wat die swaarste deur die droogte getref is.
Elvira
Hattingh - Weidingstoestande in die Karasburg- kommunale gebied is tans van die
land se “mees kritieke gebiede”.
’n Boer in die gebied het gesê hy het net een bok oor uit ’n kleinveekudde van 120, terwyl ’n ander boer die afgelope seisoen 290 skape verloor het.
Die situasie word gestaaf deur ’n verslag oor gewasvooruitsigte, voedselsekuriteit en die droogtesituasie wat Dinsdag deur die ministerie van landbou, water en bosbou uitgereik is.
Hierin word dié kommunale gebied uitgelig en word die droogtesituasie landswyd as ernstig beskou omdat die afgelope reënseisoen “uiters swak” was.
Die huidige droogte het kommunale boere by Karasburg swaar getref.
Selfs in die dorp se kommersiële gebied, veral by waterpunte, word die weidingsituasie as kritiek beskou.
’n Gebrek aan huishoudelike voedselsekuriteit kom volgens die verslag reeds hier voor, asook by die Vaalgras-, Koës- en Warmbad-omgewing in die ||Kharasstreek.
BOERE SE VERLIESE
Die 53-jarige mnr. Andries Tooispan, ’n kommunale boer op die plaas Houmoed sowat 42 km buite Karasburg, se boerdery van sowat 120 stuks kleinvee is so te sê heeltemal uitgewis.
Hy het net een bokram oor. Tooispan sê hy het die afgelope drie jaar sowat 80 skape met lammers en 45 bokke, ook met lammers, weens die droogte verloor.
Hy boer al meer as 20 jaar op sy eie, maar sê die droogte het die afgelope agt jaar nooit sy greep op sy plaas verslap nie.
Tooispan sê sy bankrekening is uitgeput en hy weet nie hoe hy verder vir sy vier kinders gaan sorg nie.
Mnr. Riaan Waters, wat net duskant Houmoed op die plaas Witrif boer, sê aan die begin van die seisoen het hy 430 skape in sy kudde getel, maar nou is daar net sowat 140 oor.
Hy sê hy is finansieël uitgeput en kan nie meer bekostig om sy skape te voer nie.
“Ek wou al my skape skuif, maar daar is nêrens veld nie. Ek kan nie eens die vermaerde diere veilings of slagpale toe neem nie, want niemand sal hulle koop nie.
“Wie gaan nou net bene eet? Ek kan niks met hulle doen nie; ek moet maar toekyk hoe hulle vrek,” het Waters gesê. “Ons hoop op winterreën, anders is ons onder deur.”
Waters sê in die 15 jaar wat hy in die omgewing boer, het hy nog nooit so ’n ernstige droogte ervaar nie.
“Die regering of iemand moet ingryp; hierdie is ’n ernstige situasie.”
RAMP
Nog ’n kommunale boer, mnr. Piet Smith wat op Viviersvlei boer, sê hy het die afgelope seisoen sowat 30 bokke en skape verloor.
Hy sê hulle is tans sowat drie huisgesinne wat op Viviersvlei boer, en die droogte teister hulle reeds jare lank.
“Vanjaar is dit egter baie ernstig, dit is ’n ramp. Voorheen kon ons nog in ’n mate plan maak.”
Smith sê hy boer reeds sedert 2007 in die gebied. Hy sê tot dusver het die boorgate waarvan hy afhanklik is, nog nie opgedroog nie.
“Ons sal dankbaar wees vir enige vorm van droogtehulp,” het hy gesê. Hy sê hulle sal ná die winter kan sien wat van hul boerderye oor is.
Me. Caterina Schalk, wat ook op Houmoed boer as een van vier gesinne, sê sy het reeds twee koeie met kalwers verloor. “As dit wel reën, kom dit net kol-kol voor en is dit te min.”
Nog ’n kommunale boer, mnr. Lukas Freeman, moet bykomend werk sodat hy ’n inkomste kan verdien om sy vee te probeer voer. Hy boer sowat 16 km van Houmoed af op die plaas Leeufontein. Freeman het al sy kleinvee verkoop en 13 beeste aangekoop, maar omdat hy nou elders werk, het die beeste begin rondloop op soek na kos.
“Uiteindelik het my sente om die beeste te voer ook opgeraak. Ek het sewe beeste oor,” het Freeman gesê.
“Ek wou ’n lening by AgriBank uitneem en hulle het na ons grond kom kyk. Hulle het die lening afgekeur op grond van hoe droog dit is en het gesê ons sal eers weer veld moet hê voor ek kan kwalifiseer.”

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie