Droogte wurg Kunene reeds agt jaar
Die meeste huishoudings in kommunale gebiede sê hul voedselreserwes sal hulle tot in Mei 2022 kan hou, wanneer die volgende oesseisoen begin.
Elvira Hattingh – 'n Gebrek aan huishoudelike voedselsekuriteit word reeds oor die afgelope agt jaar in die Kunenestreek ervaar, terwyl daar in die Erongostreek en westelike dele van Omusati ook met tekorte gespook word.
Tog blyk dit dat voedselsekuriteit in die meeste gebiede in Namibië ná die afgelope oesseisoen drasties verbeter het.
Volgens 'n verslag deur die ministerie van landbou, water en bosbou oor die land se gewas- en voedselsekuriteitsvooruitsigte wat verlede week uitgereik is, het die meeste huishoudings in Junie vanjaar aangedui dat hulle op hul eie produksie tot in Mei 2022 sal kan oorleef.
Dit is egter met uitsondering van gebiede wat steeds onder die droogte steier, soos onder meer die Kunene-, Erongo- en westelike Omusatistreek, asook die Kavango-Oos- en -Wesstreek, waar muisplae en té veel reën tot swak gewasoeste bygedra het.
Tekorte word veral ervaar in die landelike gebiede van Walvisbaai, Karibib en Daures-kiesafdeling, asook by Ruacana en die westelike dele van die Outapi-kiesafdeling.
“Die gebiede moet deurlopend gemonitor word vir gepaste ingrypings in die vorm van kos, voedsel vir vee en water vir geraakte gemeenskappe.
“Die Kavango-Oos en -Wes sal ook hulp in die vorm van voedsel benodig teen Oktober vanjaar,” lui die verslag.
In die Kavangostreke is ondergemiddelde gewas-oeste aangemeld nadat die streke té veel reën gehad het, wat toe deur sprinkaan- en muisplae opgevolg is.
Huishoudings in dié streke het aangedui dat hul voedselreserwes net tot September vanjaar sal hou.
Voedselsekuriteit in die Zambezistreek sien tans beter daar uit nadat dié streek 'n rekord gewas-oes gehad het. Dit is ten spyte daarvan dat hulle onder erge plae van die rooitreksprinkaan deurgeloop en die herfskommandowurm ook plek-plek toegeslaan het.
In die noord-sentrale streke, soos Omusati, Oshana, Ohangwena en Oshikoto was voedselsekuriteit bevredigend ná die afgelope oesseisoen. Talle huishoudings in dié streke het ook nog kos oorgehad van verlede jaar se oeste.
Voedselsekuriteit in die suide se ||Kharas- en Hardapstreek, sentrale dele se Khomas en Otjozondjupa asook die ooste se Omahekestreek het drasties verbeter ná die afgelope goeie reënseisoen.
KUNENE
Alhoewel dele in dié gebied goeie reën gehad het, het die groter streek vir die agtste agtereenvolgende jaar ondergemiddelde reën ervaar.
Die beskikbaarheid van water is egter bevredigend omdat die meeste boorgate goed onderhou word.
Terselfdertyd het weiding ook op plekke oos van Khorixas en die oostelike dele van Fransfontein verbeter, asook oos van Outjo en Kamanjab. Op plekke soos die westelike dele van Khorixas, soos Môrewag, Anigab, Bergsig en ander dele van Fransfontein, is die weiding swak en is vee se kondisie baie sleg, lui die verslag.
Op Sesfontein vaar beide die weiding en vee ook baie swak, maar in die sentrale Erwee-gebied, het weidingstoestande weer drasties verbeter.
Dit volg nadat daar na raming 427 905 Namibiërs was, of 20% van die bevolking, wat in 2020 'n ernstige, akute tekort aan voedsel ervaar het.
Me. Anna Dumeni van die kantoor van die eerste minister het tydens die onlangse nasionale landboudialoog gesê voedselhulp word tans nog aan die Kunenestreek en dele van die Erongo- en Omusatistreek verleen.
– [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie