Droogtehulp stééds lewensaar vir baie
Droogtehulp Namibië help steeds op plekke waar dit bykans nog niks gereën het nie, terwyl Grootfontein se boere ook op talle wyses probeer help.
Elvira Hattingh
Terwyl groot dele van die land intussen goeie reëns ontvang het, is daar boere wat steeds op uitkoms wag en noodgedwonge op droogtehulpskenkings moet staatmaak.
Droogtehulp Namibië het die afgelope Woensdag 700 lusernbale in die Keetmanshoop-omgewing geskenk aan boere wat nog nie reën ontvang het nie en wat nie ’n tweede bron van inkomste het nie.
Dit volg op 800 bale sorghum wat dae tevore, op 29 Maart, in die Kamanjab-omgewing afgelaai is. Die plan is om binnekort ook ’n aflewering in die Aus-omgewing te kan doen, sê die fonds se bestuurder, me. Henriette Le Grange.
“Die westelike dele van die land – letterlik van noord tot suid – is nog baie droog. Dieselfde geld vir die verre Suide, terwyl dit op plekke soos Gochas en Aranos ook nog nie gereën het nie.
“Daar is ’n boer by Aranos wat nog net 6 mm reën vir die seisoen gehad het,” het Le Grange gesê. “Daar bestaan steeds ’n enorme behoefte. Op byvoorbeeld Warmbad en Ariamsvlei lyk dit bitter sleg.”
Le Grange sê die voer is gekoop uit geldinsamelings deur die noodfonds, wat ook nou weer uitgeput raak.
OOP HANDE
Le Grange sê sy is ontsettend dankbaar vir die oop hande en harte van boere uit die Grootfontein-omgewing, wat 1 200 bale gras aan Droogtehulp Namibië geskenk het. Le Grange sê sy sukkel nog met vervoer vir die bale na die nodige plekke.
“Terselfdertyd het mnr. Gerhard Breedt, ook ’n boer uit die Grootfontein-omgewing, inisiatief geneem en boere oortuig om tollies te skenk om ten bate van die fonds opgeveil te word.
“Blaauwberg Auctioneers het dit toe opgeveil sonder om enige kommissie te vra. Uit hierdie inisiatief het ons nagenoeg N$70 000 ingesamel,” het sy gesê.
Le Grange sê intussen het hulle ook weer kos aan behoeftige mense uitgedeel. “Ons kosrekening is redelik stabiel, met veral die Spar in Swakopmund wat bydraes in dié verband maak,” sê sy.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie