Droogtehulpfonds kry hupstoot
Droogtehulpfonds kry hupstoot

Droogtehulpfonds kry hupstoot

Tanja Bause
Tanja Bause – Die Namibië Boere-droogtehulpfonds het ’n skenking van N$100 000 van Old Mutual ontvang.

Volgens me. Henriette le Grange van die hulpfonds kan 960 sakke voer met dié skenking gekoop word.

“Die voer sal gebruik word om boere in die Karibib-, Omaruru- en Usakos-omgewing te help, asook drie boere van die Windhoek-omgewing,” het sy gesê.

“Afhangende van hoeveel diere die boer het, kan hy vir tot twee maande met die voer uitkom.”

Me. Elsa van Zyl, een van die begunstigde Windhoek-boere, sê sy het die afgelope tyd baie gebid en moedeloos en raadop begin voel, maar Le Grange se oproep om te sê sy sal ook 100 sakke voer ontvang, bied hoop.

“Dit wys ons mag ons geloof nooit laat vaar nie. Ons moet aanhou bid en hoop,” het sy gesê.

Van Zyl het bygevoeg daar is geen weiding op die plaas oor nie en sy kan met die skenking ’n paar diere afrond en markgereed kry.

“Niemand wil ’n maer dier koop nie, maar met die voer kan ons ’n paar afrond en verkoop – hopelik teen ‘n goeie prys.”

Ook mnr. Adam Eiseb het gesê die voer is van ongelooflike waarde.

“Ek kan rustig plaas toe gaan en weet vir die volgende weke of maande is my vee versorg. Hulle het kos en dwaal nie net doelloos in die veld rond nie. Ek is uiters gelukkig om een van die begunstigdes te kan wees,” het hy gesê.

Volgens mnr. Ndangi Katoma van Old Mutual het hulle in Februarie reeds N$385 000 aan die Dare to Care- droogtehulpfonds, wat deur die Namibiese Landbou-unie (NLU) en die Namibië Ontluikende Kommersiële Boere-unie (NECFU) bestuur word, geskenk.

“Ons sal in die toekoms die situasie dophou en verdere ondersteuning gee waar dit die meeste saak maak,” het hy gesê.

Kommentaar

Republikein 2025-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer