Droomboontjie en die vlees van boeke
Henriette Lamprecht - Die maklikste skryf kom dikwels oor die lekkerste goed. Soos boeke. Blaaiboeke, leesboeke, kykboeke. Enige boek waarin jy jou neus in die middel van sy blaaie kan druk en die ink en griffel kan rúík.
Jare gelede was die eerste vlindergewaarwording oor wat letters op papier aan ’n mens kan doen, Sus en Daan se manewales. Daar was Trompie, Saartjie, Keurboslaan, Soekie, Jasper en Pippie Langkous. Toe dit klaargelees en weer gelees is en die Daan Retief-kinderklub se maandelikse pakkie boeke nie vinnig genoeg in Otavi se posbus kan beland nie, toe kom ouma Vlam se posboeke aan die beurt. Ettie Bierman, Toeks Blignaut en Ena Murray. Later nuwe skrywers nou ook in Engels soos Enid Blyton en die voorreg van ’n biblioteek dié keer groter is net ’n enkele kamer met twee rakke vol van boeke met omkrulvoorblaaie.
Dié liefde vir woorde wat op welke manier prentjies en stories in my kop vorm, deel ek vroeg-vroeg met maankind toe sy eintlik nog net ’n droomboontjie is. Voor daar nog ’n weggooidoek of ’n wye kraamrok of ’n jean met ’n rek gekoop is, het sy reeds haar eerste boek(e) gehad. Ja, selfs voordat sy ’n naam gehad het en vir ’n wyle net my droomboontjie was.
Die eerste boek wat vir haar gewag het, was Die Mooiste Sprokies van Grimm met die mooiste, mooiste illustrasies deur Piet Grobler. Soos ek geblaai het en op elke bladsy vir ’n wyle en langer die prentjies en die stories ingedrink het, het ek toe al geweet my droomboontjie se kamer gaan een van boeke wees. Saam met die sprokies kom My eerste Kinderbybel en Die Madiba-boek: Nelson Mandela se gunsteling-stories vir kinders. Om by die prentjie te pas van ’n mamma met haar droomboontjie in die waai van haar arm en in die ander waai ’n boek vol sprokies, koop ek ’n rooi fluweelstoel. Want ’n rooi fluweelstoel en sprokies en prentjies en woorde wat toor, hoort by ’n droomboontjie se kamer.
(PS. Droomboontjie sou later soos gepas wél uiteindelik haar naam kry wat by haar liefielyfie sou pas en in amptelike letters op haar geboortesertifikaat sou pryk. Natuurlik soos gepas soos in ’n sprokie en uit die bladsye van een van haar ma se gunstelingboeke wat sy nog ooit gelees het. Soos gepas (natuurlik), in ’n oomblik van weet en sien daar waar sy in haar droomboontjie se toe nog leë kamer op haar rooi fluweelstoel gesit en lees het.)
Toe die maankind uiteindelik haar boontjievorm afsweer en ’n regte egte sprokies is wat waar geword het, duur die storie van die boeke en die rooi fluweelstoel. Die vouflapboekies met magies wat jy druk en ’n vark of ’n koei of ’n voël skree, word later dik kartonboekies met “glitter” letters wat help met van tandevleise wat jeuk tot kleure en vorms.
Liewe Heksie en Pippie Langkous word vervang met drake en dinosourusse wat kontinente en bose heersers verower met swaarde en vlamme wat spoeg. Weg vir eers is die sprokies van ’n prinses in ’n toring wat wag vir ’n prins met blink lokke en ’n styfspanbroek wat hom oor haar moet ontferm. Nee, dié een klim self die toring af en red die prins van ’n moeilike wyfiedrakie.
Iewers kom maak Lotta en Anna Atoom en professor Fungus hul in hopies op die rooi fluweelstoel tuis. Saam met hardelyfboeke oor My Wêreld, My Liggaam, My Troeteldiere, Wetenskapeksperimente, die wêreld van Hip-Hop, die Geskiedenis van die Egiptenare. My droomboontjie het ’n kamer (en ’n rooi fluweelstoel) vol boeke.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie