Dropbox wil noteer
Dropbox wil noteer

Dropbox wil noteer

Die digitale stoorruimte Dropbox het aansoek gedoen om op die Nasdaq-aandelebeurs in New York te noteer, tien jaar nadat hy begin sake doen het.

Dropbox, wat gebruikers toelaat om groot lêers of rugsteunkopieë van foto’s, musiek of dokumente aanlyn te stoor, is onlangs teen US$10 miljard gewaardeer.

Die maatskappy meen sy gesonde groei oor die afgelope dekade bevestig dat hy gereed is om vir die beurs te mik, berig Bloomberg.

Dropbox het volgens dokumente wat sy aanvanklike openbare aanbod vergesel in 2017 ’n bedryfsinkomste van US$1,1 miljard gehad, 31% meer as die US$844,8 miljoen van die jaar te vore.

Die maatskappy se netto verlies het ook gekrimp van US$210,2 miljoen in 2016 tot US$111,7 miljoen in 2017, berig Reuters.

“Die inkomste van meer as ’n miljard getuig van Dropbox se sukses oor die laaste paar jaar,” sê Daniel Ives van die navorsingsmaatskappy GBH Insights.

“Dropbox se sakemodel het suksesvol geskaleer.”

Die maatskappy het aansoek gedoen om ’n aanvanklike bedrag van $500 miljoen deur sy notering in te samel. Daar word egter verwag dat dié bedrag gaan verander.

Dropbox beplan om die geld te gebruik om skuld te vereffen en algemene uitgawes te dek.

Sy grootste aanvanklike uitdaging gaan egter wees om aan Wall Street te verduidelik wat hom onderskei van ander soortgelyke tegnologiemaatskappye soos Box wat dieselfde dienste bied.

“As Dropbox aanhou om te fokus op sy gebruikers se ervaring sal hy suksesvol kan meeding vir kliënte,” meen Box se uitvoerende hoof, Aaron Levie.

Box het reeds in 2015 op die New Yorkse aandelebeurs noteer en US$175 miljoen met sy aanvanklike openbare aanbod gemaak.

Dropbox het sowat 11 miljoen betalende kliënte in 180 lande. Die maatskappy het in verslae genoem dat meer as die helfte van sy inkomste in 2017 van buite Amerika gekom het.

Indien al die maatskappy se kliënte in ag geneem word, het Dropbox meer as 500 miljoen gebruikers wêreldwyd. Baie mense maak net gebruik van die diens se gratis opsie wat twee gigagreep stoorspasie bied.

Goldman Sachs & Co, JPMorgan en Deutsche Bank sal na verwagting Dropbox se aanvanklike openbare aanbod onderskryf. – Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2025-04-28

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer