Druk op die verbruiker se beursie neem toe
Druk op die verbruiker se beursie neem toe

Druk op die verbruiker se beursie neem toe

Radikale ekonomiese transformasie is van kardinale belang, maar allermins op die basis wat sommige politici in gedagte het.
Kobus Laubscher
Dr. Kobus Laubscher – Die Suid-Afrikaanse minister van finansies se 2020-begroting en dié van Jan Alleman toon merkwaardige ooreenkomste.

Die besteebare inkomste is skaars genoeg om lopende uitgawes te dek, wat beteken daar is effektiewe ontsparing en nie genoeg fondse beskikbaar om kapitale uitgawes te befonds nie.

Volgens Debtbusters, ’n bekende skuldberadingsgroep, was die skuld-tot-inkomste verhouding van hul kliënte wat R20 000 en meer per maand verdien ’n yslike 134%.

Dié onvolhoubare vlakke vergelyk met die Suid-Afrikaanse ekonomie waar skuld tot bruto binnelandse produk (BBP) na verwagting die hoogste of van die hoogste in die geskiedenis kan wees en steeds styg.

Die verbruiker se salaris, soos die inkomste van die staat, hou nie tred met stygende lopende koste soos energie, vervoer ensovoorts nie.

Radikale ekonomiese transformasie is van kardinale belang, maar allermins op die basis wat sommige politici in gedagte het.

INFLASIEDRUK

Daar is berig die Suid-Afrikaanse somer-graanoes sal na verwagting aan die substreek se vraag kan voldoen en gevolglik sal inflasiedruk uit daardie oord minimaal wees, behalwe as kostestygings in die waardeketting dit noodsaak.

Vleispryse kan sodanig herstel op plaasvlak dat dit kosinflasie kan laat styg, maar daar is ook ander produkte waarvan prysstygings die huidige lae kosinflasie kan laat omswaai.

Wat kommer wek en by die minister van finansies kan spook, is die onvermoë van die armste deel van die bevolking, wat al hoe verder agter raak in terme van geld, om net kos te kan koop.

Werkloosheid was onveranderd in die vierde kwartaal van 2020, maar die omvang daarvan en die gebrek aan vooruitsigte om dit te laat daal, kwel.

DIE KOSMANDJIE

Die Justice & Dignity-groep van Pietermaritzburg publiseer gereeld navorsing oor die impak van inflasie op die armste deel van die bevolking.

Volgens hulle het die kosmandjie ’n gesin van sewe in Januarie vanjaar net minder as R3 340 gekos.

Dit was 7,1% duurder as ’n jaar gelede, maar op ’n maand-tot-maand basis was die toename 4,4%.

Indien ’n werker R20 per uur verdien, beloop die maandelikse inkomste net meer as R3 500.

Hiervan is 52% bestee aan vervoer en elektrisiteit alleen.

In terme van die koste van die huishoudelike kosmandjie van net minder as R3 340 word nagenoeg 40% of R1 350 onmiddellik aan die sogenaamde basiese items bestee.

Hieronder tel R226 wat aan mieliemeel en bykans R150 wat aan suiker bestee word.

Vir ’n gesin van sewse kan die mandjie kos wat aan die vereistes vir ’n basiese voedsame dieet voldoen net minder as R4 700 kos.

Dit beteken ’n tekort van 28%.

KINDERS

’n Kind tussen die ouderdom van 10 en 13 jaar se basiese voedsame dieet het in Januarie vanjaar net meer as R650 gekos.

Daarteenoor beloop die kindertoelae R430 per maand.

As verder in gedagte gehou word baie gesinne is op slegs die kinder- en of ouderdomtoelae aangewese, is dit ’n klaaglike situasie.

Die newe-effekte van hierdie toedrag van sake manifesteer op vele ander gebiede soos gesondheidsorg, leergestremdheid ensovoorts.

Die sosiaalmaatskaplike verpligtinge eindig dus nie by die gebrek aan kos nie.

Ten einde die begroting te laat klop, is daar volgens baie kommentare nie baie beweegruimte vir die minister van finansies nie.

Daar word onder meer bespiegel die koers van belasting op toegevoegde waarde kan verhoog.

Die impak van BTW op arm mense kan vervolgens ook reusagtig wees.

Vrygestelde voedsel het op ’n jaarbasis met 3,1% toegeneem, maar van Desember 2019 tot Januarie 2020 was dié toename 5,7%.

Voedsel wat nie van BTW vrygestel is nie se pryse het op ’n jaarbasis met 7,1% toegeneem. Op nievoedselprodukte was die prysstygings in die jaar tot Januarie 2020 ’n lae 2%.

Ten einde die omvang van die sosiaalmaatskaplike druk op die begroting beter te verstaan, is die volgende statistieke van die Justice & Dignity-groep belangrik.

Altesaam 12,3 miljoen kinders ontvang tans ’n toelaag van R430 per maand.

Sowat 29,1 % van die 58,8 miljoen mense in Suid-Afrika is werkloos, maar indien die uitgebreide formule gebruik word, is dié syfer 38,5%.

DRINGENDE AANDAG

Elkeen wat ’n salaris ontvang, ondersteun gemiddeld 3,9 mense. Altesaam 10,3 miljoen mense is sonder werk en kruip nader aan die 16,4 miljoen wat wel werk. Na raming leef 55,5% van die bevolking tans onder die onderste grens van die broodlyn, wat R561 per maand is.

Sowat 25,2% leef onder die boonste grens van die broodlyn, wat R1 780 per maand is.

Sowatt 64,2% van swart Suid-Afrikaners leef onder die boonste grens van die broodlyn.

Hierdie statistieke gee ’n duidelike riglyn, naamlik een van dringende aandag aan ekonomiese groei om werksgeleenthede te skep en toelaag-afhanklikheid so te probeer beperk.

Die regering moet ook sy rieme na aan die vel sny en bestedingsprioriteite stel wat ekonomiese volhoubaarheid bevorder.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!