Drukgroep wil land se aborsiewet laat wysig
Drukgroep wil land se aborsiewet laat wysig

Drukgroep wil land se aborsiewet laat wysig

Die bestaande wet uit die apartheidsera is nog nooit in Namibië se Nasionale Vergade­ring gedebatteer nie.
Jana-Mari Smith
Jana-Mari Smith



Namibiërs doen opnuut 'n beroep op die regering om die land se 45 jaar oue aborsiewet uit die apartheidsera ter syde te stel.

Dié wet is 20 jaar gelede in Suid-Afrika nietig verklaar toe aborsies daar gewettig is.

“Dis hoog tyd. Dis gesondheid­sorg. Dis 'n reg,” het een petisionaris geskryf wat by die honderde aangesluit het wat reeds die versoekskrif vir die ­wettiging van aborsies in Namibië onderteken het.

Die klagskrif is Donderdagoggend van stapel gestuur en het spoedig die oorspronklike doelwit van 200 handtekeninge verbygesteek. Die nuwe teiken is nou 500 handtekeninge.

“Ek is moeg vir die Namibiese regering wat ons vroue vertel hulle het nie outonomie oor hul eie liggame nie, behalwe as dié liggame geskend word,” het een Namibiese vrou geskryf nadat sy die klagskrif onderteken het.

'n Ander een het klem gelê op die mensereg-aspek van wettige aborsies.

“Toegang tot gesondheidsorg is 'n mensereg. Mediese prosedures is nie veronderstel om bepaal te word deur wat mense as moreel korrek beskou, of moraliteit as 'n subjektiewe kwessie nie. Om vroue toegang tot veilige, wettige prosedures te weier, veral wanneer hul vrugbaarheid ter sprake is, is om hulle van hul menseregte, sowel as hulle vryheid van keuse en outonomie, te ontneem.

Die klagskrif is aan die ­Namibiese minister van gesondheid, mnr. Kalumbi Shangula, en sy adjunkminister, dr. Esther Muinjangue, gerig.

Pres. Hage Geingob word ook in die dokument genoem. Hy is in November 2019 in 'n koerantberig soos volg aangehaal: “Eendag sal ons die wet moet aanneem om aborsies te wettig. Mense sterf, want hulle laat doen dit in donker hoeke. Of dit wettig is of nie, mense doen dit.”

Die klagskrif beklemtoon dat “Namibiese vroue nie net noodgedwonge die wet moet verontagsaam om hulle reg van keuse uit te voer nie, maar ook hul lewens, gesondheid en welsyn in gedrang stel om toegang tot wettige aborsies te verkry.”

Die persoon agter die klagskrif skryf: “Die reg om toegang tot wettige aborsies in Namibië te hê, moet hand aan hand gaan met onderrig ten opsigte van seksuele gesondheid en voortplantingsregte, asook die kwessie van toestemming. Die aanmoediging van veilige, wettige aborsies in Namibië kan uiteindelik bydra tot die voorkoming van ongewenste swangerskappe en babas wat weggegooi word.”

Die skrywer vra ook vir berading en dat ondersteuningsdienste ­ingestel word vir vroue wat van dié opsie gebruik wil maak.



NAMIBIESE WET

Die skrywer van die klagskrif lê klem daarop dat die land se aborsiewet tydens die apartheidsjare in plek gestel is, “wat aandui die wet is nooit vir Namibiërs deur Namibiërs ontwikkel nie. Maatskaplike kwessies in Namibië is nie in ag geneem nie.”

Die klagskrif voer aan dit is tyd vir 'n wet wat “vir Namibiërs deur Nami­biërs opgestel is”.

Die doel van die dokument is om optrede rakende die wettiging van aborsie aan te spoor, “sodat Namibiese vroue volle eienaarskap van hul eie liggame kan neem.”

Die byna 50 jaar oue Aborsie- en Sterilisasiewet van 1975 was nog nooit die onderwerp van 'n demokratiese debat in 'n post-onafhanklike Namibië nie. In Suid-Afrika is dieselfde wet, wat aborsie slegs toelaat in uiterste gevalle soos verkragting, bloedskande of wanneer die ma of kind se lewe in gevaar is, reeds meer as 20 jaar gelede ter syde gestel.

'n Gevallestudie wat die ­Guttmacher Institute uitgevoer het, dui aan die wetgewing is opgestel en geïmplementeer deur 'n komitee wat “slegs uit wit, manlike lede” bestaan het en is destyds bemark as 'n gesinsbeplanningsmetode wat “intussen geasso­sieer word met die rassistiese beleid van die apartheidsregering”.

In Namibië voer dié drukgroep reeds vir 'n geruime tyd die argument dat wette wat aborsies verbied nie mense keer om wel die prosedure te ondergaan nie. Hulle wys daarop dit dryf vroue bloot om agterstraat-aborsies te ondergaan wat hul lewens in gevaar stel. Verder ondergaan welaf Nami­biërs reeds dekades lank wettige aborsies in Suid-Afrika. Oor die ­afgelope vyf jaar het die wet reeds gelei tot minstens 74 inhegtenisnemings van vroue op klagte van onwettige aborsies.

Een vrou is tans in Namibië in ­aanhouding weens 'n vonnis wat met 'n ­onwettige aborsie verband hou.

Mnr. Nico Horn, 'n regskenner, het in Februarie vanjaar gewaarsku die wet is vrugteloos.

“Dit teiken slegs die kwesbaarstes. Hoe help dit enigiemand? 'n Wet keer beslis nie aborsies nie, dit dryf mense net om onwettige en gevaarlike aborsies te kry.”

Een ondertekenaar van die klag­skrif skryf: “Baie mense kry aborsies.

“Deur dit te wettig, kan beserings en sterftes voorkom word. Dit is 'n min­agtende wet wat arm mense ­benadeel.”– [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!