• Tuisblad
  • Afrika
  • Dís Grace se voorland as sy na Suid-Afrika sou gaan
Du00eds Grace se voorland as sy na Suid-Afrika sou gaan
Du00eds Grace se voorland as sy na Suid-Afrika sou gaan

Dís Grace se voorland as sy na Suid-Afrika sou gaan

Isabel Venter



Grace Mugabe se besoeke aan haar seuns in Suid-­Afrika en haar inkopie-uitstappies in die rykmanswinkels in Sandton is waarskynlik vir eers iets van die verlede.

Sou die oudpresidentsvrou van Zimbabwe haar voete in Suid-Afrika sit, kan sy summier in hegtenis geneem word vir die beweerde aanranding van die model Gabriella Engels (20) met 'n verlengkoord in Johannesburg in Augustus 2017 in 'n Johannesburgse hotel.

So meen prof. Pierre de Vos, grondwetkenner van die Universiteit van Kaapstad.

“Sy het nie meer politieke immuniteit om op terug te val nie, so dit sal baie onwys vir haar wees om na Suid-Afrika te kom,” sê De Vos.

Regter Bashier Vally het Maandag in die hooggeregshof in Johannesburg beslis dat Maite Nkoana-Mashabane, toe minister van internasionale betrekkinge en samewerking, se besluit om kort ná die beweerde aanranding immuniteit aan Mugabe toe te staan, ongrondwetlik was.

Engels het 'n klag van aanranding met die doel om ernstig te beseer teen die presidentsvrou aanhangig gemaak.

Al baan die hofuitspraak nou die weg vir vervolging, was twee ­politieke kenners dit gister eens dat die Zimbabwiese regering heel waarskynlik nie oor sy voete gaan val om te help in dié saak nie.



NVG

Daarbenewens is die polisieondersoek ook nog nie afgehandel nie. Voor dan sal die nasionale vervolgingsgesag (NVG) geen besluit oor vervolging al dan nie kan neem nie.

Dit is dan ook nog nie te sê dat Mugabe haar samewerking sal gee en na Suid-Afrika sal kom vir haar hofverskynings nie.

Sou daar wel besluit word om haar te vervolg, het Phindi Louw, 'n NVG-woordvoerder, gesê, sal die volgende stap wees om 'n uitleweringsbevel te bekom om haar hier in die hof te kry.

Brig. Vish Naidoo, ­nasionale ­polisiewoordvoerder, het by navraag bevestig dat die polisie nog Maandag se uitspraak bestudeer. Hy het gesê dat die ondersoek nog voortgaan.

Kallie Kriel, AfriForum se uitvoerende hoof, het gesê hulle is verheug dat geregtigheid nou sal geskied. Hulle tree namens Engels op. Kriel sê hulle wag om te hoor hoe die polisie en die NVG se ondersoeke vorder. As die staat haar nie gaan vervolg nie, is hulle gereed om haar privaat te vervolg.

Volgens die South African ­National Civics Organisation (Sanco) maak dit van Mugabe 'n voortvlugtige. Hulle het die hofuitspraak verwelkom.

Die DA was net so verheug. “Dit is 'n wonderlike dag vir geregtigheid! Dit wys niemand is bo die reg verhewe nie.”



POLITIEKE ONTLEDER

'n Politieke ontleder, prof. Theo Neethling, meen egter dat pres. Emmerson Mnangagwa, sou hy die verkiesing as Zanu-PF se ­kandidaat wen en steeds aan die bewind is, ter wille van vrede in die “nuwe” Zimbabwe eerder nie vir Mugabe sal uitlewer nie.

Neethling, hoof van die departement politieke studie en regeerkunde aan die Universiteit van die Vrystaat, het gesê daar is steeds 'n sterk pro-Grace faksie in Zanu-PF.

“'n Nuwe leier kan dit nie bekostig om 'n verdeelde party agter hom te hê nie,” sê Neethling.

Nog 'n kenner van internasionale politiek aan die Universiteit van die Vrystaat, prof. Hussein Solomon, stem saam dat die kanse op haar vervolging skraal is.

– Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2025-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer