Dís hoekom die Thaise seuns die grot in is

Die 12 seuns en hul sokker­afrigter wat onlangs uit 'n grot gered is, het dit as 'n wonderwerk beskryf toe hulle Woensdag vir die eerste keer van aangesig tot aangesig met die wêreld se media gekom het.

Hulle het op 'n nuuskonferensie die reddingswerkers en deskundiges bedank wat hulle gered het.

Die seuns en hul afrigter het gelukkig en ontspanne voorgekom waar hulle Woensdag in Tsjiang Rai joernaliste se vrae beantwoord het.

Die sokkerafrigter, Ekkapol Tsjhanthawong (25), het verduidelik die seuns was net nuuskierig om by die grot in te gaan, want sommige van hulle het dit nog nooit besoek nie, berig CNN.

Hulle het die tonnels op 23 Junie vir ongeveer 'n uur lank verken voordat hulle besluit het om terug te gaan, maar toe was die grot gedeeltelik oorstroom en hul uitgang was geblok.

“Ons het beurte gemaak om die grotmure uit te grawe,” het Ekkapol gesê. “Ons wou nie wag totdat iemand ons kom kry nie.”

Een van die seuns het bygevoeg: “Ons het klippe gebruik om in die grot te grawe. Ons het drie tot vier meter gegrawe.”



EERSTE REDDINGS­WERKERS

Een van die seuns, Adoel Sam-on (14), het vertel van die oomblik toe twee Britse duikers op 2 Julie die vasgekeerde groep gevind het.

“Dit was wonderlik. Ek moes baie dink voordat ek hul vrae kon beantwoord,” het Adoel gesê.

“Almal was gelukkig; dit was die hoopvolste oomblik in tien dae.”

'n Ander seun het gesê dat hy vir sy spanmaats en afrigter gesê het om aan te hou veg en om nie moed te verloor nie.

Hoewel die seuns voor hul uitstappie na die Tham Loeang-grot geëet het, het hulle geen kos saamgeneem nie.

“Ons het net water gedrink,” het een van die seuns, met die bynaam Tee gesê.

“Op die eerste dag was ons oukei, maar na twee dae het ons moeg gevoel.” Die span se jongste lid, Titan (11), het bygevoeg: “Ek het geen krag gehad nie. Ek het probeer om nie aan kos te dink nie, sodat ek nie nog hongerder raak nie.”

Gedagtes van hul ouers het die seuns ook besig gehou, met een wat erken: “Ek was bang dat ek nie huis toe sou gaan nie en dat ek sou raas kry by my ma.”

Hulle het erken hulle het hul ouers vertel hulle gaan na 'n sokker­oefening, maar niks gesê oor hul planne om in die grot te gaan nie.
– Netwerk24/Reuters

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 34° Rundu: 21° | 36° Eenhana: 24° | 37° Oshakati: 24° | 35° Ruacana: 22° | 37° Tsumeb: 22° | 35° Otjiwarongo: 21° | 32° Omaruru: 21° | 36° Windhoek: 21° | 31° Gobabis: 22° | 33° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 14° | 22° Rehoboth: 22° | 34° Mariental: 23° | 37° Keetmanshoop: 20° | 37° Aranos: 24° | 37° Lüderitz: 13° | 24° Ariamsvlei: 20° | 36° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 19° | 35° Lubumbashi: 17° | 33° Mbabane: 17° | 34° Maseru: 17° | 32° Antananarivo: 17° | 30° Lilongwe: 22° | 32° Maputo: 21° | 35° Windhoek: 21° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 21° | 28° Johannesburg: 19° | 30° Dar es Salaam: 25° | 32° Lusaka: 20° | 31° Harare: 19° | 32° #REF! #REF!