Dís hoekom Elton so horrel korrel – Braam

Rugby
Christo Buchner



Elton Jantjies se probleem met sy stelskopwerk kom al van die onlangse reeks teen die Franse af, sê Braam van Straaten, die oud-Springbok en skop­ghoeroe.

Jantjies, losskakel van die Leeus, het die afgelope Saterdag met vier van sy stelskoppe misluk en sy algemene spel het ook nie aan die verwagtinge voldoen nie.

“Elton se probleem is dat hy sy ruimte na die bal toe verloor het,” het Van Straaten dié week gesê.

“Ek het dit al in daardie laaste toets teen die Franse gesien toe hy eers die regoppaal getref het en toe die bal met 'n volgende skop aan die ander kant van die pale gemis het. Hy kom te naby aan die bal wanneer hy aantree met sy skop en dan gaan hy te ver oor na sy regterkant.

“Twee van die vernaamste redes waarom skoppers mis, is omdat hulle op die toon oorkom wanneer hulle die bal tref of te skuins ingaan wanneer hulle die bal nader. Laasgenoemde is wat Elton doen en deurdat hy te ver oorleun na sy regterkant is daar nie vloeiendheid wanneer hy die bal tref nie.

“Sy liggaam moet aanpas in die trefsone. Jy verloor jou ruimte soos wat hy maak met die aanloop na die bal en wanneer jy dit tref, verloor jy ook jou tydsberekening.

“Dit is dan wanneer jy skielik skoppe aan albei kante van die pale mis soos met hom die geval is,” sê Van Straaten.

“As jy die dag begin sukkel met jou stelskopwerk, beïnvloed dit ook die res van jou spel, soos wat met Elton gesien kan word.”

Van Straaten sê as die fout geïdentifiseer is, sal dit net twee skoppe neem om die fout weer reg te stel.

“Dit sal vir my maklik wees, want ek weet wat om te doen. Maar as hy met iemand werk wat nie regtig weet hoe om die fout te identifiseer nie, kan hy nog etlike maande lank sukkel met sy stel­skoppe,” sê hy.

“Ek het in 2012, toe hy ook deur 'n sukkelfase met sy stelskopwerk gegaan het, met hom gewerk en daarna het hy vir 'n lang ruk nie weer sommer gemis nie.

“Die vraag is nou of Elton verstaan hoekom hy skielik mis skop. Daar moet verstaan word waar die fout geaktiveer word.”

Van Straaten glo taktiese skopwerk kan Saterdag 'n belangrike wapen vir die Leeus wees in hul halfeindstryd van die Super-reeks teen die Hurricanes op Ellispark.

“Dit gaan alles oor veldposisie en jy moet in die regte gebied van die veld kom en van daar af kan speel,” sê Van Straaten.

“Iemand soos Elton se taktiese skopwerk sal goed moet wees en hy sal akkuraat moet skop om sy span in 'n gunstige posisie te plaas.

“Dit is wel so dat as jy as die stelskopper van die span nie suksesvol is nie, dit na die res van jou spel kan uitkring en dus ook jou lynskoppe en taktiese skopwerk benadeel.”



PEYPER BLAAS IN LEEUS-WEDSTRYD

Jaco Peyper is betrokke by nog 'n Suid-Afrikaanse Superrugby-uitklopwed­stryd wanneer hy Saterdag die fluitjie in die Leeus se halfeindstryd teen die Hurricanes op Ellispark blaas.

Peyper was ook die blaser in verlede naweek se kwarteindstryd tussen die Stormers en die Chiefs op Nuweland.

Peyper (37) is een van vier Suid-Afrikaanse beamptes vir die kragmeting in Johannesburg. Marius van der Westhuizen en Rasta Rasivhenge is die assistentskeidsregters, terwyl Marius Jonker as TV-skeidsregter sal diens doen.

In die ander halfeind­stryd, 'n Kiwi-derby tussen die Crusaders en die Chiefs, neem die Nieu-Seelander Glen Jackson die leisels. Hy word bygestaan deur die Australiër Angus Gardner en die Nieu-Seelanders Ben O'Keeffe en Glenn Newman.

Peyper word as een van Suid-Afrika se beste blasers in die Superrugbyreeks beskou, terwyl Robbie Fleck, die Stormers-breier, verlede naweek gesê het Peyper is “een van die bestes ter wêreld”.

Die eerste halfeindstryd skop Saterdag (Namibiese tyd) om 08:35 af, met die Leeus se wedstryd wat om 13:30 begin.

– Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2025-04-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer