Dís hoekom jy moet stem, sê kenners
Kiesers moet besef oor watter mag hulle beskik, pleit ontleders.
Denver Kisting
“Die besluite wat verkose leiers neem, sál aan die einde van die dag 'n impak op jou lewe hê.”
So sê mnr. Panduleni Nghipandulwa, bestuurder van programme by die Namibiese Instituut vir Demokrasie (NID).
Deur aan verkiesings deel te neem, bepaal kiesers onder meer hoe hul belastinggeld aangewend word en watter dienste hulle ontvang, sê hy.
Hy was Maandagaand deel van 'n paneelbespreking op nasionale televisie (NBC) oor die komende streekraad- en plaaslikeowerheidsverkiesings op 25 November.
Nghipandulwa sê dié verkiesings bepaal ook watter gesondheids-, onderwys-, water- en sanitasiedienste gelewer word.
“Dit is basiese dienste wat ons almal benodig om as inwoners te oorleef. Jy verkies mense wat in die algemeen jou lewenstandaard kan verbeter.”
Plaaslike owerhede en streekrade is die “brug tussen die gemeenskap en die nasionale (sentrale) regering”, het hy gesê.
GRONDSLAG
Prof. Paul Isaak, die voormalige verkiesingsdirekteur by die Verkiesingskommissie van Namibië (ECN), het op sy beurt as paneellid gesê: “Ek dink ons moet die grondslag van verkiesings verstaan.
“As jy verandering wil hê, as jy die status quo wil verander, dan kan jy iets daaromtrent doen. In Namibië het jy werklik die mag in jou hande om mense uit te stem.”
Boonop is verkiesings 'n niegewelddadige manier om verandering teweeg te bring, sê die oudverkiesingsbaas.
Gereelde verkiesings help verseker verantwoordbaarheid, sê Isaak. “Demokrasie werk soos volg: Mense het die reg om te besluit wie sal oor hulle regeer, maar dié mandaat strek nie eindeloos nie.”
Nghipandulwa sê kiesersopleiding is almal se verantwoordelikheid. Syns insiens behoort dit selfs deel van skole se leerplan te wees.
'REGERING VAN NABYHEID'
Mnr. Nathaniel Areseb, die uitvoerende hoof van die Namibië Vereniging vir Plaaslike Owerheidsbeamptes (Nalao), het gesê: “Plaaslike regering is die regering van nabyheid.
“Die oomblik wat jy soggens jou oë oopmaak, die ligte aanskakel en jou gesig was, het jy met plaaslike regering te doen.”
Hiernaas dien dié liggame as die “fasiliteerder van sosioëkonomiese ontwikkeling”, sê hy.
“Dis die regering wat die beste geleentheid het om 'n verskil te maak in die lewens van gewone inwoners. As ek 'n partyleier was, sou ek my beste mense (as kandidate) op die grond geplaas het.”
– [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie