Du00eds waarom beurtkrag skielik terug is
Du00eds waarom beurtkrag skielik terug is

Dís waarom beurtkrag skielik terug is

Petrus Malherbe – Eskom het Donderdag op kort kennisgewing aangekondig hy moet noodgedwonge beurtkrag tot laataand in werking stel weens ’n verlies aan opwekkingsvermoë.

In ’n verklaring sê die kragreus “onverwagte foute” het daartoe gelei dat hy meer as 12 300 MW se opwekkingsvermoë kwyt is. Eskom kan beurtkrag net afweer as die verlies aan opwekkingsvermoë minder is as 9 500 MW.

Boonop is sy dieselvoorraad onder druk omdat hy Donderdag swaar op sy noodkragopwekkers moes steun om die ligte aan te hou.

Teen laatmiddag was beurtkrag onvermydelik ten einde te keer dat die land se mankolieke kragnetwerk ineenstort, sê Eskom.

Die nutsmaatskappy het nie aangedui watter van sy vele kragstasies probleme ervaar nie, net dat “onbeplande foute” tot die gebrek aan opwekkingsvermoë gelei het.

Eskom het in September gewaarsku dat hy sy verlies aan opwekkingsvermoë onder 9 500 MW moet hou ten einde beurtkrag te vermy.

Dit is sowat ’n kwart van sy totale geïnstalleerde opwekkers se kragopwekkingsvermoë en ’n derde van wat Suid-Afrika in ’n dag benodig, wat gewoonlik sowat 30 000 MW beloop.

Sodra hy meer as 10 500 MW se opwekkingsvermoë kwyt is, is dit basies net sy noodkragopwekkers en pompopgaarskemas wat die ligte aanhou.

Donderdagoggend was Eskom egter 12 300 MW se opwekkingsvermoë kwyt en moes noodgedwonge swaar op sy noodstelsels steun.

Dit kos die kragreus sowat R750 000 per uur om sy dieselkragopwekkers te gebruik weens die toestelle se enorme behoefte aan diesel.

Teen laatmiddag was sy “voorraad onder druk” en moes beurtkrag maar ingestel word, sê Eskom.

Eskom vra in ’n verklaring om verskoning vir die “negatiewe impak” wat beurtkrag dalk mag hê terwyl dit tot 23:00 Donderdagaand ingestel word.

Die maatskappy het einde November gesê hy hoop dat beurtkrag glad nie nodig sou wees in die Kerstyd nie, maar bygevoeg die kragnetwerk bly onder groot druk.

Beurtkrag is laas in Oktober ingestel. Sedertdien het Eskom Suid-Afrikaners daagliks ingelig oor die stand van sy opwekkingsvermoë en gewaarsku dat beurtkrag skielik en op kort kennisgewing ingestel kan word.

En dis juis wat Donderdag gebeur het. – Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2025-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer