Dís wat nuwe aanstelling by Naspers beteken
Petrus Malherbe
Die aanstelling van Phuthi Mahanyele-Dabengwa as die nuwe uitvoerende hoof van Naspers in Suid-Afrika verander niks aan die groepstruktuur of sy plaaslike belange nie.
Naspers het Mahanyele-Dabengwa se aanstelling Woensdag aangekondig. Sy was voorheen uitvoerende voorsitter van die swartbeheerde beleggingsvoertuig Sigma Capital.
Naspers besit verskeie groot Suid-Afrikaanse maatskappye, waaronder Media24, Takealot, OLX Suid-Afrika en PayU.
Shamiela Letoalo, kommunikasiehoof van Naspers, het by navraag bevestig dat Mahanyele-Dabengwa se aanstelling niks by dié afsonderlike maatskappye van Naspers verander nie.
“Al dié maatskappye is steeds deel van hul onderskeie sakesegmente, wat deur hul eie uitvoerende hoofde bestuur word, en wat ook deel is van die Naspers-groep se uitvoerende bestuurspan,” sê Letoalo.
Die uitvoerende hoofde van Naspers se ander Suid-Afrikaanse maatskappye sal steeds regstreeks aan Bob van Dijk, Naspers se groephoof, verslag doen.
Mahanyele-Dabengwa gaan wel ook deel wees van die Naspers-groep se uitvoerende bestuurspan. Volgens Letoalo gaan sy help om Naspers se strategie spesifiek in Suid-Afrika in werking te stel.
Daarbenewens gaan sy ook aan die hoof staan van die maatskappy se twee projekte vir werkskepping en beleggings in nuwe tegnologie, naamlik Naspers Labs en Naspers Foundry.
Hierdie eenhede is gestig met die uitsluitlike doel om die Suid-Afrikaanse tegnologiebedryf ’n hupstoot te gee en die hoë werkloosheidsyfer onder die Suid-Afrikaanse jeug te takel.
RAMAPHOSA-STIGTING
Sy sal Naspers ook op die hoogste vlak in Suid-Afrika verteenwoordig en sal ook met rolspelers, wat moontlike beleggers en aandeelhouers insluit, vergader.
Nes Naspers se ander afsonderlike uitvoerende hoofde doen sy regstreeks verslag aan Van Dijk.
Mahanyele-Dabengwa het haar pos op 1 Julie begin. Sy sal sake vanuit Naspers se Johannesburgse kantoor doen eerder as vanaf sy hoofkantoor in die Kaapse hawegebied.
Afgesien van haar rol by Sigma Capital het Mahanyele-Dabengwa op Vodacom se direksie gedien en was sy aan die stuur van Shanduka, nóg ’n beleggingsmaatskappy.
Shanduka is destyds deur pres. Cyril Ramaphosa geskep.
Sy dien ook steeds op die direksie van die Ramaphosa-stigting, wat behoeftige leerlinge bystaan.
Mahanyele-Dabengwa se aanstelling beteken nie Naspers stig ’n afsonderlike filiaal met dieselfde naam in Suid-Afrika nie.
Die maatskappy wil wel sy oorsese internetbelange, waaronder Tencent en Mail.ru, op die Euronext Amsterdam noteer, maar dié maatskappy gaan dieselfde bestuur en direksie as Naspers hê. Dis onlangs Prosus gedoop.
Naspers se aandeelhouers stem in Augustus oor die voorgenome notering. Dit sou reeds op 28 Junie gebeur het, maar ’n administratiewe flater deur die maatskappy wat gekontrakteer is om omsendbriewe aan aandeelhouers uit te stuur, het tot ’n vertraging gelei. – Netwerk24

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie