Du00eds wie Guptas se myn gaan koop
Du00eds wie Guptas se myn gaan koop

Dís wie Guptas se myn gaan koop

Elvira Wood – Die mynmaatskappy Lurco is “uiters verheug” dat hy as koper van die Guptas se Koornfontein-myn aangewys is.

Krediteure van dié myn het Vrydag gestem vir die sakereddingsplan van Lurco, wat R500 miljoen vir die myn aanbied.

Koornfontein behoort aan die Guptas se Tegeta Exploration and Resources, ’n filiaal van Oakbay Investments.

Daar is wel twee voorwaardes voordat die transaksie gefinaliseer kan word.

Eerstens moet Lurco teen 25 Oktober die hele koopsom in die land kry en tweedens moet die departement van minerale bronne en energie die mynlisensie aan Lurco oordra.

Ellington Nxumalo, medestigter en uitvoerende hoof van Lurco, het per e-pos aan Netwerk24 bevestig dat ’n “Europese finansierder” die geld aan Lurco gaan verskaf.

“Hierdie is ’n uitdagende sperdatum wat in ’n baie laat stadium van die proses ingestel is. Die konsortium en sy finansierder sal alles in ons vermoë doen om te verseker dat die geld Suid-Afrika binne die vasgestelde tydraamwerk bereik,” het hy gesê.

Nxumalo het gesê Lurco het Koornfontein in ’n konsortium saam met die African Exploration Mining and Finance Corporation (AEMFC) bekom.

Lurco het juis vroeër vanjaar saam met AEMFC ’n finansieringsooreenkoms van R1 miljard gesluit om Koornfontein se sustersmyn – die Optimum-myn – weer in bedryf te stel. AEMFC is die staat se mynmaatskappy en is ’n filiaal van die Sentrale Energiefonds.

Nxumalo het gesê hoewel die konsortium voorheen aangebied het om die myne te help, het dit nie nou ’n rol gespeel om die bod vir Koornfontein te wen nie.

“Dit het ons wel die geleentheid gegee om die bate te verstaan, asook wat nodig is om dit te optimaliseer,” het Nxumalo gesê.

Louis Klopper, die sakeredder wat reeds in 2018 by Koornfontein aangestel is, het in ’n onderhoud met Netwerk24 gesê die belangrikste rede waarom op Lurco besluit is, is omdat sy aanbod hoër as dié van Black Royalty Minerals (BRM), die krediteure se tweede keuse, was.

Indien Lurco egter nie betyds die geld beskikbaar het nie, sal BRM die geleentheid gegun word om die myn te koop.

“Ons glo dit is ’n beter aanbod en dat werknemers ’n beter uitbetaling sal kry as wat die ander maatskappye aangebied het.”

Wie is Lurco?

Lurco, wat deur Ellington Nxumalo en Aubrey Chauke gestig is, beskryf homself as “ ’n gediversifiseerde hulpbron-, veredelings- en handelsmaatskappy”.

Hy besit reeds ’n belang in die Van Dyksdrift-steenkool en Mooinooi-chroombedrywighede.

Luidens die maatskappy se webtuiste was Nxumalo by tye ’n raadgewer vir BHP, Glencore en Vitol Coal.

BHP en Glencore het albei in ’n stadium die Optimum-myn besit, terwyl die Britse Vitol voorheen probeer het om die myn te bekom.

Nxumalo het bevestig dat ’n deel van hul aanbod juis is om enige uitstaande salarisse van die werkers te betaal. Werkers is sedert November 2018 en totdat hulle afgelê is, nie betaal nie.

Nxumalo het nie bevestig of die werkers weer by die myn aangestel gaan word of nie.

Wat betref steenkoolproduksie, het Nxumalo gesê hulle hoop om binne ses maande nadat die transaksie voltooi is, weer steenkool by Koornfontein te begin produseer.

Die myn het voorheen steenkool aan Eskom gelewer.

“Ons werk voortdurend volgens die vasgestelde proses soos in die sakereddingsplan uiteengesit met Eskom, maar het in dié stadium nog geen ooreenkomste bereik nie,” het Nxumalo gesê.

Optimum

Klopper én Nxumalo het bevestig dat Lurco en AEMFC ook daarin belangstel om die Optimum-myn te koop.

Die finansieringsooreenkoms tussen die sakeredders, Lurco en AEMFC vir dié myn is nooit deurgevoer nie nadat ’n vorige kooptransaksie, waar Project Halo as die gekose koper van Optimum gekies is, deur die mat geval het.

AEMFC het reeds in Januarie aangedui dat hy ook daarin belangstel om Optimum te koop.

Nxumalo wou nie bekend maak hoeveel die konsortium vir Optimum aangebied het nie.

Die sakeredders het tóé gesê dit is te laat en dat die bod reeds aan Project Halo toegestaan is. Die transaksie was egter onderhewig aan goedkeuring deur die krediteure.

“Ons hoop om die sakereddingsplan vir Optimum voor die einde van Oktober te publiseer, waarna krediteure

daaroor kan stem,” sê Klopper.

Klopper sê egter hulle verwag teenkanting van veral Oakbay.

“Ons sal nie verbaas wees as daar ’n aansoek om ’n interdik téén die sakereddingsplan by die howe ingedien gaan word nie.” – Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!