'Dít is wreedste optrede denkbaar'
Die NFA het verlede week nuwe “verdoemende videomateriaal” ontvang van jong olifante wat in 'n boma buite Hwange aangehou word.
Elise Tempelhoff
Network for Animals (NFA), 'n internasionale dierewelsynorganisasie, het met 'n petisieveldtog begin om 'n wêreldwye verbod geplaas te kry op die handel in Afrika se olifante.
Dié veldtog is begin nadat dit onder dié organisasie se aandag gekom het dat die Zimbabwe Park-agentskap reeds vyf jaar olifantkalwers met helikopters uit hul troppe verjaag, hulle vang en in bomas aanhou voordat hulle na dieretuine, sirkusse en pretparke in China gebring word.
David Barritt, veldtogdirekteur van die NFA, sê dié organisasie het verlede week nuwe “verdoemende videomateriaal” ontvang van jong olifante wat in 'n boma buite Hwange aangehou word.
Dié videomateriaal weerspreek Zimbabwe se volgehoue openbare ontkenning dat hy hom aan hierdie praktyk skuldig maak.
Barritt sê die Zimbabwiese regering het eers ontken dat hulle enige olifantkalwers uit hul troppe vang.
Ná baie druk het die Zimbabwiese regering wel erken hy het in Januarie 35 olifantkalwers gevang wat steeds in 'n boma aangehou word. Dié olifante was veronderstel om in Maart na een van China se 15 000 dieretuine gebring te word. Weens openbare druk is die datum van hul versending na verlede naweek uitgestel en toe weer na die pasafgelope naweek.
VIDEO'S GENEEM
Sharon Hoole, aktivis vir die olifante, het Maandag gesê die diere is steeds in Hwange in 'n boma.
Volgens Barritt het van sy agente daarin geslaag om die veiligheidsmaatreëls van die plek waar die olifantjies in Hwange aangehou word binne te dring en het video's van hulle geneem. “Nog olifantkalwers is die laaste paar dae op dieselfde manier gevang en opgesluit,” sê Barritt.
“Ons sien min sulke regeringsondersteunde wreedheid. Om olifantkalwers van hul ma te skei en op te sluit, is van die wreedste optrede denkbaar.
“Wat besig is om met hierdie olifante te gebeur, is absoluut walglik. Hul pote word met kettings vasgemaak en (hulle word) in kratte ingedwing.
“Ons het intussen vasgestel Zimbabwe beplan om binnekort nog 20 olifantkalwers op dieselfde manier te vang en China of Pakistan toe te stuur.”
Zimbabwe het sedert 2014 reeds meer as 114 olifantkalwers na Chinese dieretuine en safariparke gestuur.
Dit is glo omdat Zimbabwe by China in die skuld is vir militêre uniforms wat die Chinese vir soldate uit die Robert Mugabe-era gemaak het.
Barritt sê “die situasie is onhoudbaar”. “Ons moet nóú optree.”
Hoole het intussen ook met 'n petisieveldtog begin om druk op die konvensie oor die internasionale handel in bedreigde spesies (Cites), wat in Augustus vergader, te plaas om die handel in olifante te verbied. Sowel Hoole as NFA se petisies is regsdokumente wat ingedien is by die hooggeregshof in Harare waar 'n groep omgewingsprokureurs in 'n regstryd oor die olifanthandel met die Zimbabwiese regering gewikkel is. – Netwerk24

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie