Dít soek dié Namibiërs in hul Kerskous

Vrede, vreugde, liefde en samesyn
Denver Kisting
Denver Kisting - Die jaar 2018 was ’n klomp goed. Dit word allerweë aanvaar iets wat dit nié was nie, is maklik.

Te midde van die talle uitdagings het Republikein by (on)gewone burgers van die land gaan aanklop oor wat hul harte begeer.

Hul wenslyste wys hoe gehard Namibiërs is en hoe hulle nie sukkel om moed te hou nie.

Saara Kuugongelwa-Amadhila, eerste minister:

Wat ek vir Kersfees wil hê, is vreugde, vrede en liefde vir almal in ons land en elders. Ek hoop die vreugde, vrede en liefde wat Kersfees bring, sal bly ná die feesseisoen verstryk het, sodat dié land en die wêreld kan wees wat God met die Tuin van Eden vir die mensdom wou hê.

Peter Katjavivi, speaker: Nasionale Vergadering (NV):

Vir Kersfees sien ek daarna uit om deur my geliefdes omring te wees: my vrou, Jane, kinders en kleinkinders, en om die twee boeke wat ek tans lees, klaar te maak: An Era of Darkness: The British Empire in India deur Shashi Tharoor en The Shortest History of Germany deur James Hawes.

Sisa Namandje, bekende prokureur:

Al wat ek vir Kersfees wil hê, is dat al hierdie arm kinders in my nedersetting by Onyaanya geleenthede sal kry om groot te droom en ’n waardige lewe te kan lei.

Jennifer van den Heever, hoofsweep van die Popular Democratic Movement (PDM):

Dit is my wens en gebed dat Namibië se ekonomie sal herstel. Dat waardigheid en liefde sal heers tussen ons landsburgers, en ek wens ook dat daar na alle hawelose mense omgesien sal word. Ek bid ook dat ons paaie veilig sal wees en dat geen geslagsgegronde geweld in die feestyd sal plaasvind nie. Mag ons almal mekaar net liefhê en ’n vreedsame en blymoedige Kersfees hê.

Sven-Eric Miller, danser, akteur, regisseur:

’n Liewe en bewuste omgewing, waar liefde tydens gekoesterde oomblikke van samesyn en lag gevier word.

Yvonne Dausab, voorsitter van die Kommissie van Regshervorming en –ontwikkeling:

Ek wil ’n belofte hê van durende liefde . . .

Job Amupanda, akademikus en aktivis:

Kersfees is ’n aktiwiteit, wat ’n klomp geld maak vir die eienaars van inkopiesentrums, drankwinkels en kosplekke. Die Christelike geloof, deur die Kersinisiatief, ondersteun kapitalisme en bevorder verdagte verbruik in die naam van geloof. My wens is vir mense, veral die armes, om hierdie kapitalistiese foefies te besef.

Mercedez von Cloete, aktivis:

Ek is ’n eenvoudige meisie:

1. Reën vir Namibië

2. Nul ongelukverwante sterftes, moorde en selfdoodgevalle

3. Openbare swembaddens wat gratis is vir almal op Kersdag


McHenry Venaani, PDM-president:

Ek wil ’n feesseisoen hê sonder lewensverlies op die paaie en geen passiemoorde nie! ’n Kersfees van omgee vir die bejaardes en weerloses in die samelewing! Ons moet bid vir reën.

Linford Rhodes, mediese student in China:

Vir dié Kersfees sou ek graag wou hê families en vriende moet hul verskille opsy sit en mekaar meer liefhê. Ons groei deur dít wat ons pla, in die oë te kyk – dít is die voorbeeldige manier.


Norman Tjombe, menseregteprokureur:

Dit sal goed wees as ons ’n Kersfees kan hê sonder geweld teen vroue en meisies.

Rohan Kitshoff, rugbyspeler:

My wens is dat al ons land se mense in 2019 ’n helpende hand sal uitsteek na iemand wat dit nodig het en sal kan saamwerk om die dag van môre beter te maak – nie net vir ons nie, maar om ’n blywende verskil te maak wat in die toekoms deur ons kinders ervaar sal word.

My wens vir Namibië is dat ons sal besef dit is nie wat onder die Kersboom of op die Kerstafel is nie, maar eerder wie om die Kerstafel is en dat wanneer ons hierdie tyd saam met ons geliefdes geniet ons verantwoordelik sal wees wanneer ons op ons land se paaie bestuur.

· Aanvullende verslaggewing – Andrew Poolman

Kommentaar

Republikein 2025-04-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer