Du Preez-familie soek antwoorde
Du Preez-familie soek antwoorde

Du Preez-familie soek antwoorde

Die gevangene het glo positief vir Covid-19 getoets, maar die familie is steeds skepties.
Kristien Kruger
Kristien Kruger

Rhyno du Preez, wat verlede week in die Windhoek Sentrale Gevangenis ná ’n ineenstorting oorlede is, se familie worstel met onbeantwoorde vrae oor sy afsterwe.

Talle gerugte het verlede week die ronde gedoen in verband met Du Preez se ineenstorting en familielede vermoed dat die polisie se nalatigheid ’n rol in sy afsterwe gespeel het.

’n Nabye familielid wat verkies om anoniem te bly, het aan Republikein gesê die hoof van die Namibiese Korrektiewe Dienste, komm.genl. Raphael Hamunyela het aan hulle verduidelik dat die tronkbewaarders Du Preez omstreeks 09:00 op die vloer van sy sel gekry het. Hy het glo steeds asemgehaal.

Hy is toe na die tronk se kliniek en later na Katutura-hospitaal geneem.

“Hulle het eers 11:00 met hom by die hospitaal aangekom. As hulle hom reeds 09:00 op die vloer aangetref het, waarom is hy eers 11:00 hospitaal toe geneem?” wil die familielid weet.

Hoewel Hamunyela beweer Du Preez is binne minute ná sy aankoms by die hospitaal dood verklaar, het die hospitaalpersoneel glo aan die familie gesê dat hy reeds dood was voordat hy die hospitaal bereik het.

POSITIEF VIR COVID-19

Die oorsaak van Du Preez se ineenstorting en dood was tot verlede Vrydag steeds onduidelik. Intussen is egter vasgestel dat Du Preez glo die coronavirus opgedoen het.

“Die hospitaal het aan ons gesê dat hulle sy lyk vir Covid-19 getoets het en dat die uitslag positief was,” het die familielid gesê.

Volgens die familielid is die familie egter skepties oor die waarskynlikheid dat Du Preez aan Covid-19 oorlede is en beplan hulle om ’n tweede mening te verkry om te bevestig dat hy wel Covid-19-positief was.

Du Preez het glo in Augustus vanjaar ook positief vir Covid-19 getoets.

Volgens die familielid was hy die aand voor sy dood siek, maar het nie Covid-19-simptome gehad nie.

“Hy was naar en het opgegooi, maar hy het geen mediese hulp ontvang nie.”

Volgens die familielid is Du Preez se naam ook nie ingeskryf in die hospitaal se register, waar hy getoets moes word nie.

“Dinge klop eenvoudig nie,” het die familielid gesê.

Ure ná die voorval is Du Preez se lyk aan die familie vir uitkenning gewys. Geen regulasies vir die hantering van ’n Covid-19-verwante sterfte se liggaam is na bewering gevolg nie.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 34° Rundu: 21° | 36° Eenhana: 24° | 37° Oshakati: 24° | 35° Ruacana: 22° | 37° Tsumeb: 22° | 35° Otjiwarongo: 21° | 32° Omaruru: 21° | 36° Windhoek: 21° | 31° Gobabis: 22° | 33° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 14° | 22° Rehoboth: 22° | 34° Mariental: 23° | 37° Keetmanshoop: 20° | 37° Aranos: 24° | 37° Lüderitz: 13° | 24° Ariamsvlei: 20° | 36° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 19° | 35° Lubumbashi: 17° | 33° Mbabane: 17° | 34° Maseru: 17° | 32° Antananarivo: 17° | 30° Lilongwe: 22° | 32° Maputo: 21° | 35° Windhoek: 21° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 21° | 28° Johannesburg: 19° | 30° Dar es Salaam: 25° | 32° Lusaka: 20° | 31° Harare: 19° | 32° #REF! #REF!