Du Preez sterf in tronk
Die veroordeelde moordenaar het ineengestort en is minute ná sy aankoms by die hospitaal dood verklaar.
Kristien Kruger
’n Inwoner van die Windhoek Sentrale Gevangenis, Rhyno du Preez (35), is Dinsdag ná ’n ineenstorting in die tronk oorlede.
Gerugte dui op nalatigheid van die tronkpersoneel, soos dat Du Preez eers ’n uur ná sy ineenstorting na ’n hospitaal geneem is.
Die hoof van die Namibiese Korrektiewe Dienste, komm.genl. Raphael Hamunyela, het aan Republikein gesê die gerugte kan nie bevestig óf ontken word tot die ondersoek voltooi is nie.
“Ons het niks om weg te steek nie en glo in totale deursigtigheid. As die ondersoek voltooi is, sal ons enige tekortkominge erken,” het hy gesê.
Hoewel hy nie met sekerheid kan sê hoe lank dit geneem het voor Du Preez hospitaal toe geneem is nie, het hy bevestig dat hy binne minute ná sy aankoms by die hospitaal dood verklaar is.
Volgens hom wag hulle op die nadoodse ondersoek se uitslae om die oorsaak van sy dood vas te stel, maar hulle vermoed dit was as gevolg van hipertensie.
’n Familielid van die oorledene, me. Emily Bezuidenhout, vermoed dat die polisiebewaarders nalatig was.
“Hy het glo voor die ineenstorting opgegooi en het geen mediese hulp ontvang nie.”
Hamunyela beweer Du Preez het voor sy afsterwe geen kwale aangemeld nie.
Du Preez was tot 34 jaar tronkstraf gevonnis. Hy en sy eksminnares, Rachel Rittman, het sewe jaar gelede saamgesweer om Rachel se man te vermoor.
Du Preez het mnr. Rudolph “Loffie” Rittmann vermoor met ’n mes wat Rachel in die egpaar se kombuis gaan haal het.
Du Preez het die lyk in die oorledene se bakkie gelaai en tussen Windhoek en Gobabis die bakkie met die oorskot daarin van die pad laat loop en aan die brand gesteek.
– [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie