Duane 'ken 'n paar kortpaaie'
Rugby
Cobus Claassen – Duane Vermeulen is van waterdraer tot die Springbok-beginspan bevorder, maar die Springbokke begin die Rugbykampioenskap sonder Cheslin Kolbe.
Daar is altesame sewe veranderings aan die Bok-beginspan vir Sondag se toets teen die Wallabies in die Goudkus.
Jacques Nienaber het 'n span gekies wat, buiten drie losvoorspelers op die bank, geen noemenswaardige verrassings inhou nie.
Vermeulen vervang Jasper Wiese in die nr. 8-trui en die skrumskakel Faf de Klerk, wat van 'n beenbesering herstel het, is ook terug in die span in Cobus Reinach se plek.
Die terugkeer van Vermeulen – vir sy eerste toets sedert 2019 se Wêreldbeker-eindstryd – is die grootste wending.
Hy het aan die begin van Junie laas gespeel en dis nie sommer enige speler wat ná 'n afwesigheid van drie maande in 'n toetsspan instap nie.
Nienaber sê dié invloedryke Bok-veteraan oefen al sedert die week voor die laaste toets teen die Britse en Ierse Leeus saam met die span en sy werkslading is noukeurig bestuur.
“Hy sal, soos enige ander speler, 'n ruk neem om weer aan die pas gewoond te raak. Ek verwag dit sal 'n toets of twee neem, maar Duane het al in meer as 50 toetse en is baie ervare.
“Hy ken teen dié tyd 'n paar kortpaaie. Hy kan nie wag om weer terug op die veld te wees nie en ek ook nie.”
Kolbe het verlede week 'n beenbesering opgedoen en Sbu Nkosi is in sy plek gekies.
Nienaber sê albei spelers het hul eie “sirkustruuks”. “Hulle bied iets anders in terme van individualiteit, persoonlikheid en vaardighede.
“Ja, jy verloor iets met Cheslin wat uit is, maar ons kry iets anders met Sbu. Ons is bevoorreg met die diepte in ons groep en dat daar so min te kies is tussen die ouens.
“Jy kan byvoorbeeld 'n Damian de Allende verloor en Frans Steyn kies. Die verlies is iemand wat 50 toetse gespeel het, maar jy kry iemand met meer as 60 toetse (69) se ervaring.
“Almal weet watter spesiale vaardighede Cheslin het. Sbu het egter self al 'n paar fantastiese drieë vir ons gedruk. Hy weet waar die doellyn is.”
Die Bok-breier sê hy weet “dit lyk vreemd” dat drie losvoorspelers, Marco van Staden, Kwagga Smith en Wiese, as impakspelers gekies is.
“As jy kyk na Australië, hulle is 'n span wat met vaart en teen 'n vinnige tempo speel. Dit was een rede vir die besluit, maar onthou ook dat een van ons slotte, Franco Mostert, in die lostrio speel.”
Getrou aan die beproefde en suksesvolle “Bomb Squad”-resep, is weer op ses voorspelers en net twee agterspelers, Herschel Jantjies en Damian Willemse, besluit.
Die vooruitsig om Sondag weer voor toeskouers te speel is nogmaals 'n groot besprekingspunt en Nienaber sê dit is iets waaroor hulle gepraat het.
“Dit sal 'n aanpassing wees, maar rugbyspelers wil voor toeskouers speel.
“Dis interessant hoe ons gepraat het oor hoe vreemd dit gaan wees om sonder ondersteuners te speel en nou oor die nuwe ervaring wat wag.”
Springbokke: Willie le Roux, Sbu Nkosi, Lukhanyo Am, Damian de Allende, Makazole Mapimpi, Handré Pollard, Faf de Klerk, Duane Vermeulen, Franco Mostert, Siya Kolisi (k), Lood de Jager, Eben Etzebeth, Frans Malherbe, Bongi Mbonambi, Steven Kitshoff. Reserwes: Malcolm Marx, Ox Nché, Vincent Koch, Marco van Staden, Kwagga Smith, Jasper Wiese, Herschel Jantjies, Damian Willemse.
– Netwerk24

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie