Dubbeldoor-seges plaas Namibië voor
Met twee uit twee gewen, staan Namibië 'n uitstekende kans om tot die top-8 ter wêreld deur te breek.
Tielman van Lill – Namibië se nasionale senior rolskaatshokkie-manspan het Dinsdag in sy openingswedstryd by die 2021 wêreldkampioenskap die arme Indië soos 'n tierende ooswind met 20 doele teen nul verniel.
Met dié wegholtelling – opgevolg deur gister se oorwinning met 1-0 teen Argentinië – is die Namibiërs sterk geplaas om ongekende hoogtes te bereik in Roccaraso, die Italiaanse ski-dorpie wat tussen twee bergreekse geleë is.
In die lig gesien dat Namibië slegs drie gesoute senior spelers in sy groep het, met nege groentjies op senior internasionale vlak, kan afrigter Brian Sobel met reg trots op sy troepe wees.
Dié eerste twee uitslae sal uiteraard ook help om die senuwees te kalmeer en die selfvertroue 'n hupstoot te gee.
Die Namibiërs se spoed en vermoë om spasie uit te buit, was vir Indië eenvoudig oorweldigend, met veral Keanan Simpson, Amandus Röttcher en Luca Mentzel wat Namibië se telbord aan die beweeg gehou het.
Simpson het vier doele vir Namibië behaal, met die ander treffers wat deur Pablo Laporte, Amandus Röttcher, Luca Mentzel (2), Christiaan Coetzee (3), Max Finkeldey (3), Sean Liechti (2), Julian Dedig (2), Henrik Diekmann en Kean Redelinghuys ingeskiet is.
Röttcher was een van die voorste spelskeppers met 'n aandeel in vier doele wat deur spanmaats afgerond is, maar die ganse Namibiese span se tempo en vernuf was 'n openbaring en het die Indiërs dikwels oorbluf gelaat. Aan die ander kant van die baan het Jürgen Tegetoff as doelwagter vir 'n skoon rekord gesorg.
Gister het Namibië teen Argentinië gespeel en met 1-0 geseëvier. Amandus Röttcher het Namibië se enkele doel teen Argentinië behaal, ná aanvoorwerk deur Pablo Laporte.
Die Namibiërs speel vandag teen Duitsland in hul laaste rondomtaliewedstryd en het net een punt nodig om boaan groep D te eindig. Die Duitsers moes reeds met 0-3 op hul neus kyk teen Argentinië.
Mnr. Bernd Bajorat, president van die Namibiese Ys- en Rolskaatshokkievereniging (NIIHA), het aan Republikein gesê: “Indien ons na die groep van agt kan vorder, sal dit 'n ongelooflike prestasie vir Namibië wees. Die beste wat ons in die verlede kon gevaar het, was om algeheel 15de te eindig.”
SÓ WERK DIE KAMPIOENSKAP
Die 16 deelnemende lande is in vier groepe verdeel, met die agt topgekeurde lande in groep A en B. Groep A bestaan uit Spanje, Switserland, Tsjeggië en Colombia. In groep B is Italië, Slowakye, Kanada, Frankryk.
Die groep C-spanne is Letland, Mexiko, Chinese Taipei en Pole. In groep D speel Namibië, Argentinië, Duitsland en Indië.
Die toplande in groep C en D speel ná hul rondomtaliegroepbotsings teen die vierde geplaaste spanne in groep A en B en die wenners vorder dan na die laaste groep van agt. Spanne kry drie punte vir 'n sege en een vir 'n gelykopuitslag.
Die uitslae ná die eerste twee dae:
Groep A: Tsjeggië 4-0 Colombia; Spanje 5-1 Switserland.
Groep B: Kanada 6-3 Slowakye; Italië 4-1 Frankryk.
Groep C: Letland 12-2 Pole; Letland 7-1 Mexiko; Mexiko 2-1 Chinese Taipei; Chinese Taipei 4-2 Pole.
Groep D: Namibië 20-0 Indië; Namibië 1-0 Argentinië; Argentinië 3-0 Duitsland; Duitsland 19-0 Indië.
Puntestand ná twee wedstryde elk in groep C en D: Groep C: Letland 6, Mexiko 3, Chinese Taipei 3, Pole 0. Groep D: Namibië 6, Argentinië 3, Duitsland 3, Indië 0.
Die Namibiese span is: Amandus Röttcher, Christiaan Coetzee (onderkaptein), Henning Schulze, Henrik Diekmann (onderkaptein), Julian Dedig, JW Coetzee, Kean Redelinghuys, Keanan Simpson, Luca Mentzel, Max Finkeldey, Pablo Laporte, Sean Liechti (kaptein), Tiago Kutz, Valerik Hilbert. Doelwagters: Arian van der Plas en Jürgen Tegethoff.
Luke Stamatiadis (hulpafrigter) en Lucille Coetzee (spanbestuurder) vergesel die span in Italië.
– [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie