Duineveld se ystervroue
Een is meer as 'n eeu oud, een kook seep vir 'n lewe, nog een is 'n winkeleienaar, en die ander een het vir jare velle met die hand gebrei.
Tanja Bause - Sowat 20 kilometer voor Kalkrand in die Hardapstreek draai 'n mens af van die B1-hoofpad op die D1247 - ses kilometer verder is die dorpie Duineveld geleë.
Die Gekombineerde Skool Anna Maasdorp is die enigste skool daar en het 200 leerlinge wat deur 16 onderwysers onderrig word.
Daar woon sowat 800 mense en werkgeleenthede is skaars.
Die vroue van Duineveld het in die verlede springbokvelle met die hand gelooi, verwerk en verkoop.
In 1996 het die ministerie van plaaslike regering en behuising en die Duitse Ontwikkelingsdiens (DED) geld geskenk waarmee inwoners die Dune Tannery kon begin. Die looiery is die grootste werkgewer en vernaamste bron van inkomste vir die families op Duineveld.
Ontmoet Duineveld se oudste
“Ek weet nie wat ek aan die Here gedoen het dat hy my so lank aan die lewe hou nie,” sê ouma Sofia Johanna Coetzee wat op 14 Junie haar 104de verjaardag gevier het.
Ouma Sofia is op Brandsvlei naby Upington in Suid-Afrika gebore. Haar ouers het vir verskillende boere gewerk en van plaas tot plaas agter werk aan getrek. Sy was die jongste van ses kinders en het uiteindelik saam met haar ouers na 'n plaas in die Mariental-omgewing verhuis.
“Ek het bokke opgepas en gemelk. Ek het ook in die plaasvrou se kombuis gewerk en die ounooi se potte geskuur en klere gewas,” onthou sy.
In Mariental het sy haar toekomstige man en pa van haar kinders ontmoet.
“Thys was al 'n groot man en het ses kinders gehad toe hy my sien en besluit het dat hy met my wil trou. Hy het baie van dié jong Suid-Afrikaanse meisie gehou,” vertel sy met 'n giggel.
Sy was 24 en hy 44. Nadat hulle in die huwelik getree het, het hulle na die plaas Langverwag getrek en met 'n gesin begin.
“My man se oudste dogter was maar 'n jaar jonger as wat ek was toe ons getroud is. Maar ons band was baie sterk en sy het van die begin af vir my 'mamma' genoem. Ek en Thys het vyf kinders, maar ek het ook sy ses kinders grootgemaak. So ek was met 11 kinders geseën.”
Langverwag is nie ver van Duineveld geleë nie en ouma Sofia het vinnig 'n gebedsgroep met die dames van die nedersetting begin. “Ek was nog altyd lief vir die Here en sy Woord.”
In 1980 het sy die deure van die nuwe kerk op Duineveld geopen.
“Sy was nog altyd en is steeds die geestelike leier van die Duineveld-gemeenskap en sy is ook almal se ouma,” sê haar dogter me. Christina Johanna de Klerk. “Kinders kom nog steeds na haar vir raad en bystand. Ouma bid graag vir hulle en die gemeenskap.”
Ouma Sofia woon al die afgelope 65 jaar in die Duineveld-omgewing. Sy en Thys het 'n huis op Duineveld gebou waarin sy nog steeds woon.
“Sy is die afgelope twee jaar blind en die afgelope jaar bedlêend, maar verder het sy geen pyn nie en is verstandelik nog fiks,” sê me. Geraldine Waterboer, een van ouma Sofia se kleinseuns se vrou.
Haar drie dogters maak beurte om na haar om te sien.
“Ons woon onderskeidelik in Kalkrand, Windhoek en Rehoboth en ons kom so vir twee weke of 'n maand by ma op Duineveld bly om na haar te kyk.”
Ouma Sofia het 20 kleinkinders, 58 agterkleinkinders en 32 agteragterkleinkinders.
Haar sin vir humor is nog vlymskerp. Op die vraag of ek 'n foto van haar mag neem, sê sy: “Nee my kind. Ek is seker my kopdoek is nie mooi nie. My dogter moet eers vir my mooi maak. Dis nie aldag dat 'n mens in die koerant verskyn nie. Ek moet goed lyk!”
Ouma Eva vertel haar verhaal
Ouma Eva Jacoba Schneiders (92) is op Karasburg gebore.
Sy het vyf broers en vier susters waarvan nog net drie lewe.
Haar pa was 'n baie streng mens en sy onthou goed toe sy as jong meisie met 'n jong man wou uitgaan.
“My pa het altyd vir ons susters gesê hoe laat ons by die huis moet terug wees. As jy laat kom, dan kan jy seker wees jou blokke gaan rook,” vertel sy.
Ouma Eva se ma is vroeg oorlede en moes sy op 'n jong ouderdom begin werk omdat daar vier kinders in die huis was wat jonger was as sy.
“Die lewe was moeilik en die werk onder die plaasboere hard. Ek onthou ek moes met die wasgoed rivier toe stap en met die nat klere terugloop plaashuis toe om dit daar op te hang om droog te word. Nat klere is swaar en die pad was ver.”
Mettertyd het ouma Eva by 'n hotel op Mariental gaan werk en op 28-jarige ouderdom haar man op Kalkrand ontmoet.
“Hy was 'n boer en as hy saam met sy pa Kalkrand toe gekom het, het hy flikkers na my gegooi.”
Hulle is getroud en het na die plaas Bosch getrek.
“Op Bosch het die lewe lekker geraak. Ons het ons eie koeie gehad en ek het geleer om hulle te melk.”
Mettertyd het hulle na Duineveld getrek en ouma Eva se sewe kinders het almal daar skoolgegaan. Sy het vir die pastoor se vrou en as skoonmaker by die skool gewerk. By die huis het ouma Eva soos baie van die Duineveld-vroue velle gebrei en verwerk.
“Dit was harde werk. Die velle moet met die hand skoongeskraap word sodat daar geen vleis meer aan is nie. Dan moet dit gewas en gebrei word totdat dit sag is. Dit is nie 'n grap nie.”
Die verwerkte velle is dan in Windhoek of Keetmanshoop verkoop. Later kon die vroue die velle langs die hoofpad verkoop.
“Dit het die lewe vir ons baie makliker gemaak. Ons kon nou in die oggend vroeg pad toe stap en verkoop en saans was ons terug by ons kinders. In die verlede moes ons vir dae lank wegry en hulle by die huis los of die kleinste saamvat.”
Ouma Eva vertel ook dat sy jare lank skelm gerook het.
“Toe ek op Bosch aangekom het, was ek tussen my skoonmense en drie skoonsusters en niemand het gerook nie. Maar Willem, my man, het altyd vir my sigarette gebring wat ek skelm gerook het. Hy het ook geweet as ek in die oggend wakker word en omgekrap was, moet hy vinnig plan maak om vir my twak in die hande kry,” sê sy met 'n vonkel in haar oog
Ouma Eva het 18 kleinkinders en 14 agterkleinkinders.
Ses dekades van seep kook
Ouma Maria Maasdorp (83) kook en verkoop vandag nog seep volgens 'n resep wat sy as 18-jarige by haar ma geleer het.
Sy is in die Gochas-distrik gebore en het saam met haar ouers van plaas tot plaas geswerf waar daar werk was.
“Ek het die talent by my ma geërf. Sy was op haar dag dié seepmaker op Gochas. Sy het vir al die boervroue uit die omgewing seep gekook.”
Om seep te kook, is nie maklik nie. Volgens ouma Maria moet die vet goed uitgebraai en skoon wees. Dan word water in 'n groot pot op 'n oop vuur gesit. Die kaiings en bytsoda word bygevoeg en dan word die mengsel geroer en gekook. Dié proses gaan aan totdat die mengsel nie meer vetterig is nie.
“Ek druk 'n stokkie in die seep en druk dit op 'n kooltjie. As die kool doodgaan, is dit nog te vetterig en moet dit verder gekook word. As die kooltjie wit brand, is die seep reg.”
Sodra dit gereed is, word die seep in blokke gesny en in die son gesit sodat dit kan uitdroog voordat dit aan die mense van Duineveld verkoop word.
Soms sny ouma Maria die jong turksvyblare in klein stukkies en voeg dit by die seep terwyl dit kook. Voordat die seep gedroog word, haal sy dit weer uit.
“Dit maak die seep groen en laat dit veel meer as gewone seep skuim.”
Ouma Maria het saam met haar eerste man Duineveld toe getrek en hulle het 14 kinders gehad. Hy is oorlede.
“Ek was 60 toe ek my tweede man ontmoet. Hy was toe al 80. Ons is getroud en het tien wonderlike jare saam gehad waarvoor ek baie dankbaar is,” sê sy.
Ouma Maria se tweede man het 13 kinders van sy eie gehad. “Vandag het ek so baie kinders dat wanneer die laaste een nag sê, dan sê die eerste een al weer môre,” vertel sy met 'n glimlag.
In haar jong jare het ouma Maria ook velle gebrei en verkoop. Sy onthou goed toe daar op 'n dag 'n man uit Suid-Afrika by haar velle langs die hoofpad stop. “Hy het my vertel hy het 'n vel gekoop wat na twee jaar uitmekaar geval het. Hy het toe gevra of ek my velle met die hand brei. Toe ek hom ja antwoord, het hy daar en dan al my voorraad gekoop. Ek het daardie dag N$1 000 gemaak. Hy het my ook kos gegee. Toe ek by die huis kom, sien ek hy het 'n baie duur knipmes in die kosblik gesit. Ek wens ek kon daardie man weer sien en hom nogmaals dankie sê.”
Winkeleienaar, bakker en kleremaker
“My pa Jacobus Johannes Klaasen het die Laerskool Anna Maasdorp in 1944 op Duineveld gebou,” vertel me. Elene Johanna Steyn (née Farmer).
Sy en haar familie het op die plaas Vrede gewoon en na Duineveld getrek toe die skool daar gebou is.
“Dit was in die apartheidsjare en daar was nie regtig skole vir ons nie, so my pa en ander mense van die omgewing het besluit om by die Maasdorp-familie 'n stukkie grond te koop sodat hulle 'n skool en kerk vir ons kinders kan bou,” sê sy.
Die skool is gebou en in 1944 geopen. Sedertdien het dit uitgebrei van 'n laerskool en huisves tans leerlinge tot graad 12.
Steyn onthou goed hoe sy as 'n jong meisie donkerrooi lap gegaps het wat haar pa vir haar ma gekoop het. “Ek het die materiaal gevat toe my ma by die werk was en vir my 'n baadjie begin maak. Toe sy by die huis gekom het, het ek dit weggesteek sodat sy dit nie moet sien nie,” vertel sy.
Sy het die baadjie klaargemaak en aangetrek. Toe haar ma dit sien, was sy aanvanklik kwaad, maar toe beïndruk met hoe haar dogter sonder enige opleiding 'n mooi baadjie gemaak het.
“My pa was so trots, hy het net gesê 'ek sal vir jou ma ander lap koop' en dit is wat hy gedoen het. Van daar af maak ek my eie klere.”
Sy maak ook tafeldoeke met onder meer voëls daarop geborduur. “Ek het 'n voëlboek in die Kaap gekoop sodat ek hulle kleure presies kan namaak. Ek stik ook hulle naam by die prente,” sê sy.
Steyn is in 1954 op Duineveld getroud. “Ek het tien van my eie kinders en twee susterskinders wat ek grootgemaak het. Ek het 30 kleinkinders en 14 agterkleinkinders.”
Die Steyn-familie het 'n winkel op Duineveld besit wat ongelukkig weens verskeie omstandighede bankrot gegaan het.
“In 1963 het my seun vir my N$3 000 gegee en ek het weer 'n winkel begin. Maar dié keer het ek gesê 'nie jy of jou pa het enigiets met die winkel te doen nie'. Dit is mý winkel en hier gaan die winkel tot vandag toe nog goed aan.”
Vir 'n lang ruk was sy ook die enigste bakker van trou-, verjaardag- en allerhande ander koeke in die nedersetting.
“'n Meisie wat op trou gestaan het, het vir my gevra om vir haar 'n koek te bak. Ek het net so 'n tweelaagkoek vir haar gemaak. Sy was baie opgemaak met die koek en daarna het baie bestellings gevolg. Nou kan ek enige koek bak en dit is vir my baie lekker.”

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie