Duisend huise kry krag

Augetto Graig
Augetto Graig – 'n Duisend huise in Windhoek se informele nedersettings kry elektrisiteit, danksy NamPower se grootste enkele skenking wat deel vorm van dié organisasie se maatskaplike verantwoordelikheid.

'n Kragvoorsieningsprojek is Vrydag in Havana in die hoofstad bekend gestel en altesaam N$22 miljoen word aan dié projek bestee.

Die infrastruktuur en bates sal ná die voltooiing van die projek gratis aan die Windhoekse stadsraad oorhandig word.

In 'n toespraak wat namens vise­president Nangolo Mbumba voorgelees is, is sowat 73 000 huise in informele nedersettings in Namibië se stedelike gebiede gedurende 2015 opgeteken.

“Ongelukkig geniet die meerderheid van hierdie huisgesinne nie die voordeel van landelike kragvoorsieningsprogramme nie, weens hul nabyheid aan stedelike gebiede en dié probleem het dringend aandag nodig,” sê hy.

Met die samewerking tussen die regering, die Windhoekse muni­sipaliteit en NamPower kry 1 000 huishoudings in informele nedersettings elektrisiteit.

“Ek wil NamPower en sy bestuur prys vir hul voorbeeld dat ontwikkeling op mense kan fokus,” sê Mbumba.

By dieselfde geleentheid het die adjunkvoorsitter van NamPower se direksie, me. Martha Mbombo, gesê net 50% van Namibië se huishoudings het tans toegang tot elektrisiteit.



TALLE UITBREIDINGS

Sy sê sowat 300 000 huise in informele nedersettings wat naby stedelike gebiede geleë is, het nie krag nie, en die syfer sal na verwagting teen 2030 tot 430 000 toeneem.

Sy sê 'n nasionale elektrisiteit­strategie en toepassingsplan word beoog om kragvoorsiening teen 2030 in die hele Namibië te verseker.

Volgens NamPower se besturende direkteur, mnr. Simson Haulofu, word krag nou aan huise in Okahandja Park B deel 1 en 2, Kilimanjaro, Babilon, Havana Uitbreiding 3, Ongulumbashe, Havana Uitbreiding 1 deel 1 en 2, Otjomuise Uitbreiding 6 en 7, deel 1 en 2 verskaf.

Die projek sluit ook die koppeling van kragnetwerke (medium tot lae spanning), straatligte, binnenshuise elektriese panele, en vooraf betaalde kragmeters vir die betrokke wonings in.

Die burgemeester van Windhoek, dr. Job Amupanda, het gesê 100 aansluitings word in Babilon gedoen, 200 in Havana Uitbreiding 1 en 100 in Uitbreiding 2, 200 in Okahandja Park, 100 in Ongulumbashe en 200 in Otjomuise Uitbreidings 6 en 7.

“Die stadsraad het met die ondersteuning van NamPower die beplanning en ontwerp van die projekbestuur gedoen.”

Volgens die burgemeester merk Vrydag se geleentheid die oorhandiging van kragvoorsieningsinfrastruktuur aan 35 huise in Seychellesstraat, Havana Uitbreiding 3, “met die verwagting dat die res van die huise teen einde Julie 2021 gekoppel en aangeskakel sal wees,” sê hy.

Me. Rosalia Martins-Hausiku, uitvoerende hoof van die Motorvoertuigongelukkefonds (MVAF) en gewese voorsitter van dié staatsonderneming se uitvoerende forum, het gesê NamPower, as die gasheerstaatsonderneming van die forum, moet volgens tradisie ook 'n skenking vir maat­skaplike verantwoordelikheid gee. Die nasionale kragverskaffer het besluit om te help met kragvoorsiening in stedelike nedersettings wat gewoonlik nie by landelike kragvoorsieningsprojekte ingesluit is nie.

- [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-12-28

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 21° | 34° Rundu: 19° | 32° Eenhana: 18° | 31° Oshakati: 20° | 31° Ruacana: 21° | 30° Tsumeb: 20° | 30° Otjiwarongo: 17° | 26° Omaruru: 19° | 29° Windhoek: 18° | 29° Gobabis: 21° | 31° Henties Bay: 15° | 22° Swakopmund: 16° | 18° Walvis Bay: 15° | 24° Rehoboth: 19° | 32° Mariental: 22° | 35° Keetmanshoop: 19° | 35° Aranos: 24° | 35° Lüderitz: 14° | 28° Ariamsvlei: 21° | 36° Oranjemund: 15° | 24° Luanda: 25° | 28° Gaborone: 20° | 31° Lubumbashi: 17° | 30° Mbabane: 18° | 26° Maseru: 16° | 30° Antananarivo: 17° | 25° Lilongwe: 20° | 33° Maputo: 22° | 32° Windhoek: 18° | 29° Cape Town: 19° | 25° Durban: 22° | 28° Johannesburg: 19° | 27° Dar es Salaam: 26° | 31° Lusaka: 18° | 31° Harare: 19° | 25° #REF! #REF!