Duisende Franse polisielede betoog
Duisende Franse polisielede betoog

Duisende Franse polisielede betoog

Die polisiebeamptes in Frankryk is ongelukkig oor die groeiende sentiment teen die polisie in die nadraai van die gewelddadige “Geel Baadjie”-betogings.
Duisende Franse polisiebeamptes het Woensdag die strate van Parys ingevaar uit protes teen hul swak werkomstandighede. Sedert die begin van die jaar het tientalle lede hulself glo daarom om die lewe gebring.

Hulle is ook ongelukkig oor die groeiende sentiment teen die polisie in die nadraai van die gewelddadige “Geel Baadjie”-betogings. Daar word beweer dat sommige polisielede toe buitensporige geweld teen die betogers gebruik het.

Pres. Emmanuel Macron se pensioenhervormingsplan is ook op die betogende polisielede se agenda.

Verskeie beroepslui, waaronder dokters, advokate, vlieëniers en werkers in openbare vervoer, het reeds hul ontevredenheid daaroor uitgespreek.

“Dit is onaanvaarbaar dat ons tot die ouderdom van 65 moet werk en agter diewe moet aanhardloop totdat ons 65 is. Al wat ons wil hê, is respek, dat ons in ag geneem word en konkrete optrede,” sê Frederic Lagache, ’n verteenwoordiger van ’n polisie-vakbond.

Volgens die jongste syfers wat deur polisievakbonde bekend gemaak is, het 52 polisiebeamptes tot dusver vanjaar hulself om die lewe gebring. – Netwerk24/Reuters

Kommentaar

Republikein 2025-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer