Duisende gesondheidswerkers aangestel
Van ventilators tot skanderingsmasjiene is onder hospitale versprei in die stryd teen die pandemie.
Henriette Lamprecht
Die ministerie van gesondheid en maatskaplike dienste het in die stryd teen die Covid-19-pandemie 3 371 gesondheidspersoneel aangestel, waarvan 1 703 in permanente en 1 668 in tydelike poste is.
’n Totaal van 592 gemeenskapsgesondheidswerkers uit nege streke wat vir ’n aantal jare sonder werk was, is ook as deel van die finansiering vir Covid-19 tot September 2021 aangestel.
Dié getalle vorm deel van die minister, dr. Kalumbi Shangula, se motivering vir sy ministerie se begroting vir die huidige finansiële jaar van meer as N$8 miljard. Ook in reaksie op die pandemie is ’n aantal isolasiegeriewe by verskeie hospitale en klinieke opgerig. Dit sluit in Windhoek Sentrale Hospitaal (10- en 12-bedeenhede), Opuwo (vier bedeenhede), Oshakati en Rundu (eenhede van agt beddens elk), Okongo en Gobabis (12-bedeenhede elk), Mariental en Keetmanshoop (12-bedeenhede elk), asook eenhede met 24 beddens elk by die grensposte by Oshikango, Noordoewer en Ariamsvlei.
Ander geriewe wat voltooi is, sluit in ’n pediatriese saal en nuwe verbrandingsoond by die Katima Mulilo-hospitaal; ’n stormwaternetwerk by onderskeidelik die Gobabis-hospitaal, Otavi-gesondheidsentrum en die kraameenheid by die Rundu-hospitaal, sowel as die installering van ’n netwerk vir mediese gas by die Katutura-hospitaal.
Met verwysing na die aankoop van mediese toerusting as deel van die reaksie teen Covid-19 is verskeie mediese toerusting ook volgens Shangula aangekoop en aan gesondheidsgeriewe versprei. Dit sluit in 26 EKG-masjiene, 98 ventilators met 13 wat as reserwes vir onvoorsiene omstandighede gehou word, 157 pasiënte- en 125 ICU-monitors.
Ander toerusting sluit in ’n CT-skanderingsmasjien vir die Windhoek Sentrale Hospitaal, sowel as digitale X-straalmasjiene vir die distrikshospitale op Okahao en Lüderitz.
Volgens Shangula het die ministerie N$727 miljoen vir sy plan teen Covid-19 ontvang.
Met verwysing na die verhouding van gesondheidspersoneel tot lede van die bevolking het die minister gesê die koers vir dokter per bevolking het verbeter van een dokter vir 1 920 inwoners tot een dokter vir 1 837 inwoners. In die geval van verpleegsters het die koers verbeter van een verpleegster vir 223 mense tot een verpleegster vir 220 inwoners. Die verhouding vir aptekers het verbeter van 3 536 tot 2 922 inwoners vir een apteker.
Volgens Shangula het 109 gegradueerdes in verskillende velde hul internskappe begin. Dit sluit 140 dokters, 27 tandartse, 21 aptekers en twee in sielkunde in. ’n Totaal van 66 studente wat finansieel deur die ministerie ondersteun word, het ook hul opleiding aan verskeie buitelandse universiteite voltooi en wel 19 mediese spesialiste, 97 dokters, 38 aptekers, 11 fisioterapeute en vier tandartse.
– [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie