Duisende huiswerkers ‘verloor hul werk’
Hanlie Stadler – Altesame 105 000 minder mense werk nou as skoonmakers oftewel huishulpe in Suid-Afrikaanse huishoudings as tien jaar gelede.
Die hoogtepunt van 1,1 miljoen skoonmakers is in die eerste kwartaal van 2009 aangeteken – net voordat die land in ’n diep resessie ingegly het.
Baie huishoudings het aan die begin van 2019 besluit om nie ’n skoonmaker in diens te neem nie.
Net die afgelope ses maande – sedert Desember 2018 – het 34 000 minder mense as skoonmakers in huise gewerk.
Nagenoeg 995 000 mense, die meeste van hulle vroue, werk nou as skoonmakers, volgens die syfers wat Statistieke Suid-Afrika (SSA) die afgelope week uitgereik het. Dis vir die tweede kwartaal van 2019.
In Januarie vanjaar het die nasionale minimum loon van R20 per uur of R3 500 per maand van krag geword. Huiswerkers moet minstens 75% hiervan - dus ’n minimum van R15 per uur - betaal word.
Daarby het die ekonomie gekrimp (met 3,2% in die eerste kwartaal op ’n kwartaalgrondslag) en het die werkloosheidskoers tot 29% in die tweede kwartaal gestyg.
Die ekonoom Mike Schüssler sê die styging in lone het moontlik ’n invloed gehaad, maar die groter probleem is dat huishoudings onder geweldige ekonomiese druk verkeer. “Baie mense het teruggesny en betaal hul huiswerkers vir minder dae. Dis meer ’n teken van ekonomiese stres as loonstygings. Maar uiteraard dra hoër lone tot die stres by.”
Dis belangrik om die syfers omsigtig te beskou. Die syfers beteken nié 34 000 skoonmakers in huise is sedert einde 2018 afgedank nie. Dit kan bloot wees dat van hulle ander werk gekry of afgetree het.
Malerato Mosiane van SSA se afdeling oor arbeidstatistieke sê hulle vra nie aan respondente of hulle van werk verander het en waarom nie, en kan hulle dus nie uitlaat oor waarom minder mense in ’n bepaalde sektor werk nie.
Die tendens raak ook nie net skoonmakers nie. Die aantal huiswerkers as breër kategorie het selfs méér drasties gedaal, van ’n hoogtepunt van 1,393 miljoen in 2009 tot 1,251 miljoen tans – ’n verlies aan 142 000 poste.
Sedert die laaste kwartaal van 2018 is 81 000 huiswerkers uit dié poste.
Huiswerkers is enigeen wat in ’n private huishouding werk: benewens skoonmakers ook kinderoppassers, versorgers, kokke, huishoudsters, tuiniers en motorbestuurders.
Private huishoudings is die derde grootste werkskepper in die land onder die vier oorhoofse sektore wat gemeet word. Dit is groter as die landbousektor. Die sektore is die formele sektor (11,172 miljoen werknemers), informele sektor (3,084 miljoen), private huishoudings (1,251 miljoen) en die landbou (842 000).
Die daling is kommerwekkend omdat dit die heel kwesbaarste bevolkingsgroep – swart vroue – waarskynlik die hardste tref. Dié groep se werkloosheidskoers het opgeskiet tot 35% in die tweede kwartaal, die hoogste van enige bevolkingsgroep en geslag.
Nagenoeg 80% van huiswerkers is vroue (die persentasie swart vroue word nie uiteengesit nie).
Die daling in die aantal huiswerkers die afgelope dekade kom terwyl Suid-Afrika se aantal huishoudings met nagenoeg 2,4% per jaar groei. Volgens die algemene huishoudelike peilings wat vroeër vanjaar uitgereik is, het die aantal Suid-Afrikaanse huishoudings van 13,1 miljoen in 2009 tot 16,7 miljoen in 2018 gestyg.
Die departement van indiensneming en arbeid (soos die departement onlangs met pres. Cyril Ramaphosa se kabinetskommeling herdoop is) het nog nie navrae beantwoord oor of hy bekommerd is dat die minimum loon tot afleggings onder huiswerkers lei nie.
Werkskepping in private huishoudings is nie iets wat aan die groot klok gehang is op byvoorbeeld 2018 se presidensiële werkberaad nie.
Om die waarheid te sê, Magda Wierzycka, uitvoerende hoof van die batebestuursfirma Sygnia, is vroeër vanjaar verguis toe sy op Twitter geskryf het: “Ek word dikwels gevra: ‘Hoe kan ek Suid-Afrika help?’ Ons grootste uitdaging is werkskepping. ’n Gedagte: Laat elke huishouding net een ekstra skoonmaker of tuinier aanstel. Net een. Ek weet dis ’n finansiële opoffering. Maar ons moet almal opofferings maak as ons Suid-Afrika wil red. Dink net aan die impak.”
Wierzycka het haar twiet uitgewis, om verskoning gevra en R200 000 vir ’n werkskeppingsprojek uitgeloof nadat sy daarvan beskuldig is dat sy onsensitief is teenoor die lot van miljoene swart Suid-Afrikaners wat vantevore geen ander keuse gehad het om as huiswerkers te werk nie.
Dit bly steeds een van die swaks betaalde poste moontlik.
Die ekonoom Thabi Leoka het getwiet die land het eerder wetenskaplikes, ekonome en ander beroepslui nodig as “bediendes” en dat entrepreneurskap ’n beter oplossing vir werkloosheid is. – Netwerk24

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie