Duisende leerlinge deur efundja geraak
Duisende leerlinge deur efundja geraak

Duisende leerlinge deur efundja geraak

Minister Katrina Hanse-Himarwa het in die Nasionale Vergadering ‘n oorsig gegee oor die impak van die efundja op onderwys.
Estelle de Bruyn
Estelle de Bruyn - Altesaam 27 007 leerlinge en 102 skole in die Omusati-, Oshana-, Ohangwena- en Zambezistreek is deur die vloede wat deur efundja veroorsaak is, geraak.

Dít blyk uit ‘n ministeriële verklaring wat die minister van onderwys, kuns en kultuur gister in die Nasionale Vergadering gelewer het.

Volgens Hanse-Himarwa word daar sedert 2003 ‘n toename in die vloedvlakke ervaar wat deur die afvoer in die Zambezi- en Kwandorivierstelsels teweeggebring word.

Die Omusatistreek is die ergste geraak met 73 skole wat beïnvloed is.

Die goeie nuus is dat, al was die meeste skole vir byna twee weke tydens die vloede gesluit, die skole ná die blaaskans in die middel van die termyn kon heropen. Die slegte nuus is dat groot skade aan veral ablusiegeriewe wat onder water was, aangerig is en dat herstelwerk nou nodig is.

Nagenoeg 10 skole is in die Oshanastreek geraak, waarvan die Oikango Gekombineerde Skool in die Eheke-gebied tydelik gesluit is.

Graad 10-leerlinge kampeer nou in die onderwysers se hulpbronsentrum.

Die Primêre Skool Omulungu, wat 99 leerlinge het, is nog gesluit en sal slegs kan heropen indien tente beskikbaar gestel word. Klasse is by die Primêre Skool Dr. Chief Ankama hervat.

Volgens Hanse-Himarwa is vier skole in die Ohangwenastreek gesluit met 1 636 leerlinge wat geraak word.

Dit is die primêre skole Omutaku, Elao en Nghiteke.

Drie skole, Ohangwena- Etale- en Onghala Gekombineerde Skool is gedeeltelik gesluit met 543 leerlinge wat geraak word. Vier skole waar 748 leerlinge skoolgaan, het sedertdien heropen.

In Zambezi is die feit dat die Zambezirivier se vlak 6,5 meter bereik het, volgens Hanse-Himarwa “’n ramp vir die onderwyssektor”.

Dié streek is gevolglik die ergste deur die vloede geraak.

Altesaam 12 skole is tot dusver in dié streek geraak, maar op die oomblik is geen skole gesluit nie. Watervlakke styg egter baie vinnig en planne is gemaak om onmiddellik skole soos die Nankutwe-, Muzii- en Ikaba gekombineerde skole in die komende weke te sluit en leerlinge en onderwysers elders heen te neem.

Die minister wys ook daarop dat vloede wat skole raak ‘n jaarlikse gebeurtenis in Zambezi is, maar dat geen blywende oplossing gevind kan word nie. Gemeenskappe is traag om na gebiede wat hoër lê, verskuif te word.

“In die lig hiervan moet ministerie nou ‘n gebrek aan geriewe en items soos tente, bote, muskietnette, sanitêre materiaal, onvoldoende kapasiteit en gereedheid, asook ‘n gebrek aan geld hanteer. Dit alles is nodig om die impak van die vloed op die voorsiening van onderwys te verlig en die welsyn van leerlinge en personeel te verseker,” het Hanse-Himarwa gesê.

Sy wys daarop dat die ministerie se geld beperk is en dat hulle dus nie in staat is om in die behoeftes van die streke wat geraak is te voorsien nie.

Ten einde gehalte onderwys in die geraakte streke te verseker sal die ministerie gedurende die Mei-skoolvakansie met normale klasse in die Omusati-, Ohangwena- en Oshanastreek voortgaan.

In die Zambezistreek, waar die vloed se impak nou eers gevoel word, sal die ministerie ná drie weke weer die situasie hersien.

Hanse-Himarwa het ‘n beroep op belanghebbendes en strategiese vennote gedoen om die ministerie by te staan om “hierdie nasionale uitdaging” die hoof te bied.

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!