Duisende passasiers sak op Walvis toe
Duisende passasiers sak op Walvis toe

Duisende passasiers sak op Walvis toe

Geskiedenis is laas week gemaak toe vier groot passasierskepe in Walvisbaai se hawe op anker gelê het en sowat 7 000 internasionale reisigers dié dorp, Swakopmund, die duine, die maanlandskap en Sandvishawe besoek het.
Tanja Bause
Tanja Bause - Die statige Aida Aura, ’n reusepassasierskip, het verlede Dinsdag Walvisbaai se hawe binnegevaar.

’n Dag later het die Queen Elizabeth, die Nautica en die MS Musica gevolg.

Dié vier skepe het met hul aankoms op die dorp wel geskiedenis gemaak, maar volgens mnr. Danie van Niekerk, van Abenteuer Afrika op Swakopmund, is passasiersskepe nie ’n vreemde gesig in die hawe nie.

“Hulle anker gereeld hier in die hawe. Gewoonlik tussen November en April wanneer dit somer is. Wat dit so spesiaal maak, is dat dit drie groot skepe was en dit het nog nooit vantevore gebeur nie. Die Regent Seven Seas passasierskip was hierdie somer al drie keer in Walvisbaai se hawe voor anker,” het hy gesê.

Volgens Van Niekerk moet passasiers wat 4x4-toere wil onderneem, dit vooraf op die boot reeds bespreek sodat die nodige voertuie en gidse gereël kan word.

Ná ‘n skip in die hawe geanker het, gaan immigrasiebeamptes aan boord om die nodige papierwerk te doen.

’n Uur later gaan passasiers aan wal en onderneem hul onderskeie toere of besoek Walvisbaai.

“’n Uur voor die skip weer vertrek, moet elke passasier weer aan boord wees sodat immigrasie weer die nodige papierwerk kan doen,” het hy gesê.

Wanneer die skepe oornag staan, soos die Aida Aura, reël Abenteuer Afrika vir die passasiers ook skemerkelkies by die maanlandskap by Swakopmund.

“Ons het byvoorbeeld 140 mense van die skip vir ’n skemerkelkie geneem,” het Van Niekerk gesê.

Abenteuer Afrika het vir drie dae verskillende toere vir die Aida Aura, die Queen Elizabeth en die Nautica gereël.

Die Aida Aura, wat 1 300 passasiers kan akkommodeer, is tans op ’n wêreldtoer van 117 dae, wat op 2 Oktober 2018 in Hamburg in Duitsland afgeskop het. Teen 2 Februarie sal die skip 41 hawens in 17 lande besoek het. Dié skip het Woensdag weer vertrek en is op pad na Dakar in Senegal.

Woensdag omstreeks 06:00 het die Queen Elizabeth die hawe binnegevaar. Die skip is 294 m lank en kan 2 300 passasiers akkommodeer.

’n Uur ná dié skip se aankoms was dit die MS Musica se beurt.

Dié skip van 249 m lank kan tot 3 223 passasiers akkommodeer.

Kort voor 11:00 het die vierde passasierskip, die Nautica, geanker. Dié skip, met plek vir 824 passasiers en ’n lengte van 181 m, is die kleinste van die vier skepe.

Die Queen Elizabeth en die MS Musica het Woensdagnamiddag weer vertrek en is op pad na Kaapstad.

Die Nautica, wat ook op pad Kaapstad toe is, het Donderdag weer vertrek.

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 34° Rundu: 21° | 36° Eenhana: 24° | 37° Oshakati: 24° | 35° Ruacana: 22° | 37° Tsumeb: 22° | 35° Otjiwarongo: 21° | 32° Omaruru: 21° | 36° Windhoek: 21° | 31° Gobabis: 22° | 33° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 14° | 22° Rehoboth: 22° | 34° Mariental: 23° | 37° Keetmanshoop: 20° | 37° Aranos: 24° | 37° Lüderitz: 13° | 24° Ariamsvlei: 20° | 36° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 19° | 35° Lubumbashi: 17° | 33° Mbabane: 17° | 34° Maseru: 17° | 32° Antananarivo: 17° | 30° Lilongwe: 22° | 32° Maputo: 21° | 35° Windhoek: 21° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 21° | 28° Johannesburg: 19° | 30° Dar es Salaam: 25° | 32° Lusaka: 20° | 31° Harare: 19° | 32° #REF! #REF!