Duisende poste op die spel weens vou00eblgriep
Duisende poste op die spel weens vou00eblgriep

Duisende poste op die spel weens voëlgriep

Die virus kom in vyf provinsies voor en die jongste gevalle is in Gauteng aangemeld.
Vida Booysen - Die uitbreek van voëlgriep in Suid-Afrika raak reeds meer as 1 000 werkgeleenthede in die pluimveebedryf.

Volgens dr. Charlotte Nkuna, waarnemende uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse pluimveevereniging (Sapa), het die uitbreking van die H5N8-virus reeds tot verliese van meer as R800 miljoen gelei vir die plase wat daardeur geraak is.

“Dít beteken duisende werkgeleenthede is op die spel. Sommige produsente sal dalk nooit ten volle herstel van die vernietiging nie – met die gevolg dat daar ’n tekort aan eiers kan ontstaan en mense hul werk kan verloor.”

Die virus kom in vyf provinsies voor en die jongste gevalle is in Gauteng aangemeld.

Nkuna sê Sapa doen stappe om te verseker dat die uitbreking van voëlgriep nie ’n tekort aan pluimveeprodukte meebring nie. Dit sluit nie die invoer van pluimveeprodukte in nie.

Nkuna sê wel bevrugte eiers kan ingevoer word om hoenders te teel ten einde werkverliese te beperk.

Die virus het in Suid-Afrika hoofsaaklik onder duur teelhoenders en lêhenne uitgebreek en nie onder braaihoenders nie, wat net 33 tot 35 dae oud word voordat hulle geslag word nie.

Vergoeding

Produsente wag steeds vir vergoeding van die staat vir die gesonde henne wat hulle saam met die siekes moes vernietig om te probeer keer dat die uitbreking versprei.

Volgens Nkuna neem dit tot ses maande om die hoendergetalle op ’n plaas weer tot dieselfde produksievlak te kry as voor die uitbreking.

Miljoene eiers van die plase wat geraak is, is ook vernietig.

“In 2016 is die totale getal mense wat deur die pluimveebedryf en verwante bedrywe in diens geneem is op 132 000 geraam. Intussen is meer as 1 000 werkgeleenthede direk deur die uitbreking geraak.”

Volgens Nkuna kan dié getal styg namate die impak van die uitbreking na verwante bedrywe uitkring.

Wilde voëls

Sedert die siekte in Junie vanjaar in Zimbabwe uitgebreek het, is 67 bevestigde gevalle van voëlgriep in Suid-Afrika aangeteken, hoewel die getal uitbrekings onder veral wilde voëls waarskynlik veel meer is. Die aangemelde gevalle sluit 20 in wat by kommersiële hoenderboerderye aangeteken is, twee by kommersiële eendplase en 18 by kommersiële volstruisplase.

“Ons raming is dat meer as vier miljoen voëls tans óf reeds van kant gemaak is óf in die proses is om doodgemaak te word. Dit is eenvoudig rampspoedig vir ons bedryf wat nog nooit voëlgriep onder hoenders beleef het nie.”

Suid-Afrika se jaarlikse hoenderproduksie in 2016 was net onder ’n miljard braaihoenders en 24 miljoen lêhenne.

Intussen het Suid-Afrikaanse pluimveeboere hul bioveiligheidsmaatreëls aansienlik verskerp om oordrag van die siekte deur wilde voëls te probeer beperk.

“Produsente het baie geld bestee om hul hoenderskure dig te maak sodat wilde voëls nie toegang daartoe verkry nie. Stelsels is ook aangeskaf wat wilde voëls wegjaag.”

Die vereniging werk saam met kundiges om die siekte se spoor te volg en ook om die ekonomiese impak te probeer bepaal. – Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2025-04-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer